Local newsNews

Inhoudskeppers maak gereed vir 2026-toekennings

Die room van Suid-Afrika se inhoudskeppers word op 17 Oktober tydens ’n glansryke gala-aand in Sandton aangekondig. Die geleentheid sal die jongste groep skeppers, projekte en kreatiewe werk in Suid-Afrika se steeds ontwikkelende inhoudsekonomie in die kollig plaas.

Suid-Afrika se aanlyn inhoudskeppers berei voor vir die 2026 Inhoudskeppertoekennings, met aanlyn inhoudskeppers van Pretoria soos Stefan van der Merwe onder die benoemdes, terwyl Samsung Galaxy as nuwe titelborg aangekondig is.

Die aankondiging is ’n belangrike mylpaal vir die land se inhoudskeppingbedryf.

Vanjaar se benoemdes is amptelik gedurende die tweede week in Augustus aangekondig met die glansgeleentheid in Oktober wat naderskuif.

Van der Merwe is benoem vir die Beste Sosiale Reeks-toekenning en die Kenners-toekenning vir We Do Tech. Hy skep leefstylinhoud wat met tegnologie en aanlyn kundigheid verband hou, insluitend artikels oor aanlyn afrigting en digitale hulpmiddels.

Oud-Tukkie en voormalige inwoner van Centurion, Grace Mondlana, is ’n benoemde vir die Voorloperstoekenning, Allemanskeuse-toekenning sowel as Inhoudskepper van die Jaar-toekenning. Sy is ’n Suid-Afrikaanse beïnvloeder en inhoudskepper. Sy is wyd bekend vir haar leefstyl-vlogs en het in 2024 die Opkomende Inhoudskepper by die DStv Inhoudskeppertoekennings gewen.

Die toekennings is in 2022 van stapel gestuur met die doel om inhoudskeppers te vier in ’n tyd toe sulke professionele skeppers steeds moes verduidelik waarom inhoudskepping as ’n erkende loopbaan beskou behoort te word.

Vier jaar later het die gesprek rondom die bedryf aansienlik verander.

Die toekennings erken nou nie net van die land se invloedrykste inhoudskeppers nie, maar ook die handelsmerke en agentskappe wat in die sektor belê, asook werk wat die bedryf voortdryf.

“Namate die inhoudskepper-ekonomie ontwikkel het, het die toekennings ook ontwikkel,” het Manuela Dias de Deus, stigter van die toekennings en stigter van One-eyed Jack, gesê.

“Toe ons hierdie toekennings bekend gestel het, het ons dapper pioniers gevier wat bewys het dat inhoudskepping ’n werklike loopbaan kan wees. Vandag erken ons wêreldklas-skeppers wat besighede bou, kultuur beïnvloed, handel dryf en wêreldwye standaarde stel,” sê hy.

“Ons verantwoordelikheid het verskuif van die legitimering van die bedryf na die verhoging van die maatstaf vir uitnemendheid. Dit gaan nie meer daaroor om skeppers te erken vir wat moontlik is nie. Dit gaan daaroor om diegene te vier wat die standaard vir die toekoms van bemarking, vermaak en entrepreneurskap in Suid-Afrika stel,” verduidelik hy.

Volgens hom bestaan vanjaar se toekennings uit talle kategorieë wat verfyn is om vandag se inhoudskepperslandskap beter te weerspieël.

Die toelatingsvereistes is ook strenger gemaak, met beoordelingskriteria wat in samewerking met die Interactive Advertising Bureau ontwikkel is.

Volgens De Deus is die doel om groter belyning met die bedryf te verseker.

Hy glo ook bekendstelling van Samsung Galaxy as titelborg dui terselfdertyd op die toenemende vertroue van groot handelsmerke in Suid-Afrika se inhoudskepper-ekonomie.

Die openbare stemkategorieë sluit vanjaar die Samsung Galaxy Inhoudskepper van die Jaar, die YouTube Inhoudskepper van die Jaar, en die Allemanskeuse toekennings in.

Vir die Samsung Galaxy Inhoudskepper van die Jaar-toekenning, is Donovan Goliath, Mondlana, Nadia Jaftha, Primo9teen en Vafa Naraghi benoem.

Die YouTube Inhoudskepper van die Jaar-toekenning, se benoemdes is Centtwinz, Lasizwe, Noko Mashaba, Shev and Dev, SMWX en Zayaan.

Die Allemanskeuse-toekenning se genomineerdes is Anika Dambuza, Garfieldzar, Mondlana, Olwethu Ncapayi en Tanaka Dube.

Die nie-openbare stemkategorieë weerspieël ’n breë spektrum van inhoud en kreatiewe werk.

Die Telkom Beste Aanlyn reeks-toekenning het Awkward Dates by Lasizwe, Hungry & Shameless, Kickin it with Kim Jayde, SABS Network en The Adventures of Noko Mashaba onder sy benoemdes.

In die 94.7 Klank van Môre-toekenning is Chesrae Megan, Carter Najar, Lordkez, Lukiemusic, Mikhalé Jones en Teagan’s Things benoem. Die Danstoekenning sluit Chad Jones, Benny Jnr, Ludopie, Rudi Smit en TDO Thando in.

Die Styltoekenning se benoemdes is Kimos, Lue & Rue, Pumla Dineo, Wisemanzither en Yasmin Furmie. Vir die Beste Sosiale Reeks-toekenning is van die benoemdes Dalin Oliver, Nuri Gallow, Simo Ziqubu, Van der Merwe, Vafa Naraghi en Zayaan Mee.

Die Beste Inhoudskepper vir Handelsmerk-samewerking-toekenning het Baxbara vir Delicious Festival, Lukiemusic vir #IAmOriginal88, Nabilah Kariem vir Le Creuset, Nabilah Kariem vir Samsung en Sni Mhlongo vir Vaseline as benoemdes.

In die Kenners-toekenning is Bella Monsoon, Kriya Gangiah, Miss Angler, Van der Merwe vir We Do Tech en The Conscious Psychologist benoem. Die Voorloper-toekenning se benoemdes is Anika Dambuza vir The City Makoti, Mondlana, Kim Jayde, Lingling en Primo9teen.

Die Poduitsending van die Jaar-toekenning se beoemdes sluit in: GenC Podcast, Mindset Profits, SMWX, The Makhs, The Sias du Plessis Show en Wisdom & Wellness. Vir die Impakskepper-toekenning is Conrad Koch & Chester Missing, Joshwideawake, Shandor Larenty, Nick Hamman en Theshaya benoem.

Die Beste Komedie-inhoudskepper-toekenning se benoemdes is Céline Tshika, Ikho, Sipho2skiits, Tanaka Dube en Titus Mokou. Die Onvoorspelbaarheidstoekenning sluit Lindosasmr, Nathan Molefe, Yombusoo Cthandiweii en Zinhle Africa in, terwyl Céline Tshika, Chris Rogers, Kaytee Shots, Planettobii en Vafa Naraghi vir die Stop-en-Lees-toekenning benoem is.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button