Primary School

Gereed vir graad 1? Meer as kennis nodig, glo kundiges

Vir ouers van kinders wat met die oorgang na Graad 1 begin, is die fokus dus nie bloot op wat ’n kind reeds kan lees, skryf of tel nie. Luister, konsentrasie, emosionele regulering, kommunikasie en onafhanklikheid speel almal ’n rol in die manier waarop ’n kind die nuwe skoolomgewing ervaar.

Met die nuwe 2027-skooljaar wat nader kom, wonder baie ouers of hul kinders gereed is vir graad 1.

Kenners meen skoolgereedheid behels egter veel meer as alfabetkennis, telvaardighede en die vermoë om ’n naam te skryf.

Wanneer ’n kind van graad R na graad 1 beweeg, betree hy of sy ’n nuwe omgewing met nuwe roetines, verwagtinge, maats en ’n onderwyser.

Die aanpassing kan vir sommige kinders makliker wees as vir ander. Daarom is dit belangrik om skoolgereedheid te verstaan en reeds vroeg voorbrand by jou kind daarvoor te maak, veral ook in die laaste kwartaal van sy voorskooljaar, glo onderwyskundiges.

“Jy kan nooit te vroeg hiermee begin nie,” glo Mariska Steenkamp, ’n grondslagfase-deskundige verbonde aan die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) se Professionele Dienste-span.

Sy sê vroeë akademiese vaardighede is wel belangrik, maar vorm slegs een deel van ’n kind se voorbereiding vir graad 1. “Skoolgereedheid is ’n breë, ontwikkelende proses wat ook ’n leerder se taal, aandag, selfregulering, sosiale vaardighede, onafhanklikheid en vermoë om binne ’n nuwe omgewing te funksioneer, insluit.”

Sy glo een van die belangrike vaardighede vir skoolgereedheid is ’n kind se vermoë om te luister, te verstaan en gepas te reageer.

Sy wys daarop dat in graad 1 word daar gereeld van leerders verwag om mondelinge inligting te ontvang en te verwerk. Onderwysers gee instruksies, verduidelik aktiwiteite, vertel stories en vra vrae.

“Die leerder moet dus nie net hoor wat gesê word nie, maar ook luister, verstaan wat gekommunikeer word en daarop kan antwoord,” verduidelik Steenkamp.

Hierdie vaardigheid meen sy ondersteun ’n kind se vermoë om instruksies te volg, aan gesprekke deel te neem, vrae te vra en hulp te vra wanneer iets nie verstaan word nie.

Volgens haar speel aandag en konsentrasie ook ’n belangrike rol.

Van leerders word toenemend verwag om hul aandag op ’n bepaalde aktiwiteit te rig en vir ’n ouderdomsgepaste tyd daarby betrokke te bly. Dit beteken nie dat ’n kind vir lang tye doodstil moet sit of nooit afgelei mag word nie.

“Dit gaan eerder daaroor dat ’n leerder kan fokus, met ’n taak kan besig bly en weer kan fokus wanneer sy of haar aandag afgelei word,” verduidelik Steenkamp.

Sy voeg by emosionele regulering is nog ’n belangrike aspek van skoolgereedheid.

Die eerste jaar van formele skool kan nuwe uitdagings en frustrasies bring. Kinders moet leer om nuwe roetines, verwagtinge en sosiale situasies te hanteer.

“’n Leerder hoef nog nie altyd sy of haar emosies goed te kan hanteer nie. Dit is iets waarmee tot volwassenes soms sukkel,” merk Steenkamp op. “Wat belangrik is, is dat die leerder geleidelik leer om hulle gevoelens te herken, te verwoord en met ondersteuning weer te bedaar.”

Taalvaardighede vorm ook ’n belangrike deel van ’n kind se vermoë om binne die klaskamer te funksioneer. ’n Kind moet toenemend kan aandui wat hy of sy dink, voel of benodig.

“’n Leerder hoef nie altyd die perfekte woorde te hê nie,” sê Steenkamp. “Dit is wel belangrik dat hy of sy toenemend kan aandui wat hy of sy dink, voel of nodig het, vrae kan vra wanneer hulle nie iets verstaan nie en hulp kan vra wanneer dit nodig is.”

Sy wys uit dat onafhanklikheid binne ’n groep is die vyfde vaardigheid waarop ouers kan let, juis omdat graad 1 groter verantwoordelikheid vir eenvoudige take meebring. Leerders moet onder meer klasroetines volg, hul besittings versorg, beurte neem en saam met ander kinders werk.

“’n Leerder hoef natuurlik nie reeds alles self te kan doen nie,” sê sy. “Dit help egter wanneer hy of sy toenemend verantwoordelikheid vir eenvoudige take kan aanvaar en binne ’n groep kan funksioneer.”

Hierdie vaardighede moet egter nie as ’n streng toets gebruik word om te bepaal of ’n kind gereed is of nie. Skoolgereedheid ontwikkel met verloop van tyd en kinders vorder nie almal teen dieselfde tempo nie.

“Skoolgereedheid is nie bloot ’n kwessie van wat ’n leerder reeds kan doen nie. Dit gaan ook oor die vaardighede wat verder ontwikkel en ondersteun kan word soos die jaar verloop,” verduidelik Steenkamp.

“Ons wil spesifiek fokus op watter vaardighede nog hulp benodig of wat nog ontwikkel moet word. Wanneer die ouers en onderwysers hande vat om daardie vaardighede onder die knie te kry, kan ons die nuwe graadeentjies help om met selfvertroue die volgende stap te neem.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button