News

Pasiënt verloor sig ná beweerde vertraging by Steve Biko

Die Gautengse Departement van Gesondheid erken ’n vertraging met toerustingaankope, maar ontken dat dit tot die pasiënt se sigverlies gelei het.

’n Pasiënt sê hy het die sig in sy regteroog verloor nadat hy volgens hom te lank vir dringende retinachirurgie by Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria gewag het as gevolg van ’n gebrek aan werkende toerusting en voorrade.

Die Gautengse Departement van Gesondheid erken dat daar ’n vertraging met die aankoop van toerusting was, maar ontken dat toerustingprobleme vir die pasiënt se sigverlies verantwoordelik was.

Die pasiënt, wat anoniem wil bly uit vrees dat hy geviktimiseer kan word, sê hy het Steve Biko Akademiese Hospitaal en die Mamelodi-oogkliniek verskeie kere besoek nadat sy retina losgekom het.

Hy beweer dat die nodige behandeling nie betyds plaasgevind het nie omdat toerusting wat vir retinachirurgie benodig word, nie beskikbaar was nie.

Die DA het die pasiënt se saak onder die aandag van die provinsiale owerhede gebring.

Die party meen die opskorting van retinachirurgie gedurende die tydperk waarin die pasiënt by Steve Biko onder behandeling was, het pasiënte benadeel.

DA-gesondheidswoordvoerder en lid van die provinsiale wetgewer, Madeleine Hicklin, het aangedring op die herstel van die diens by die oogkliniek, dat aanspreeklikheid vir die vertragings geneem word deur die departement en voldoende verwysingsroetes vir pasiënte wat gespesialiseerde oogbehandeling benodig, ingestel word.

Die pasiënt sê sy oogprobleme het gevolg op verskeie vorige prosedures.

Volgens hom het albei sy retinas sedert Julie 2024 losgekom en is albei met operasies herstel.

Hy sê vloeistof of olie is daarna gebruik om sy oë te stabiliseer en dat hy volgens die behandelingsproses in Januarie vanjaar moes terugkeer sodat die olie verwyder kon word.

Hy sê dat nadat die olie laat in Januarie uit sy regteroog verwyder is, het die retina weer losgekom en is hy terug na Steve Biko Akadmise Hospitaal se oogkliniek toe.

Volgens die pasiënt het hy vier dae later verneem dat die nodige toerusting en voorrade vir masjiene nie by die hospitaal beskikbaar was om die retina weer te heg nie.

Hy sê hy het daarna gedurende Maart nog verskeie kere na die hospitaal teruggekeer. Volgens hom is hy meegedeel dat toerusting wat vir die prosedure benodig word, stukkend was.

Hy sê hy is teen die einde van Maart na die departement se Mamelodi-hospitaal verwys.

Volgens die pasiënt het ’n oogarts by Mamelodi-hospitaal aan hom gesê dat te veel tyd verloop het voordat sy oogprobleem aangespreek is en dat ontsteking intussen in die oog ontwikkel het.

Hy sê hy is meegedeel dat daar niks meer gedoen kon word om die sig in sy regteroog te herstel nie.

Die pasiënt glo dat sy sig moontlik behoue kon gebly het indien die nodige prosedure kort ná sy besoek vir retinahegting uitgevoer is.

Hy sê indien die prosedure binne twee weke plaasgevind het, sou hy volgens sy oortuiging nie sy sig verloor het nie.

Die pasiënt sê hy het altesaam sowat vyf soortgelyke oogoperasies ondergaan en is daarom vertroud met die behandeling wat hy moes ontvang.

Hy beskryf die verlies van sy sig: “Dis ’n ernstige terugslag omdat ek ’n ouer persoon is en my vermoë om te kan sien en werk, nodig het om ’n inkomste te verdien.”

Die pasiënt het ook sy ontevredenheid oor die oogafdeling uitgespreek en sê groot getalle pasiënte wag daagliks op die vyfde vloer vir behandeling.

Hicklin sê die pasiënt se ervaring is nie ’n geïsoleerde geval nie en sy verbind die probleem aan ’n gebreekte kompressorprobleem by die Steve Biko Akademiese Hospitaal.

Sy sê sy is ook deur ’n bron ingelig dat spesialiste by die hospitaal fondse ingesamel het om ’n vervangingskompressor self aan te koop sodat retinachirurgie kon voortgaan.

Volgens Hicklin is dié aanbod deur hospitaalbestuur van die hand gewys omdat die aankoop van die toerusting deur die Gautengse Departement van Gesondheid se voorsieningskettingbestuursprosesse moes geskied.

Die Gautengse Departement van Gesondheid erken dat daar ’n vertraging was met die aankoop van toerusting vir die eenheid.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement, het vroeg in Augustus gesê aankoopprosesse vir die nodige toerusting is in ’n gevorderde stadium en dat die aflewering van die toerusting die situasie sal verlig.

Die departement ontken egter dat die stukkende toerusting by Steve Biko Akademiese Hospitaal die rede is vir die pasiënt se sigverlies.

Volgens Mabona het “die pasiënt mediese uitdagings ervaar wat met vorige mediese en chirurgiese prosedures verband hou”.

Hy het namens die department simpatie met die pasiënt uitgespreek en sy lyding oor die verlies van sy sig erken.

Mabona sê die pasiënt het berading ontvang waarin aan hom verduidelik is dat die prognose vir sy regteroog swak was en dat chirurgie nie sy sig sou herstel nie.

Die pasiënt betwis dié weergawe en sê hy het nooit tydens ’n inligtings- of beradingsessie verneem dat chirurgie nie sy sig sou kon herstel nie.

“Hulle het nog nooit met my daaroor in so ’n situasie gepraat nie,” sê hy.

Die pasiënt sê ’n personeellid by Mamelodi-hospitaal het aangedui dat te veel tyd verloop het voordat sy oogprobleem van Steve Biko Akadmiese Hospitaal na Mamelodi-hospitaal verwys is en dat ontsteking in die tyd ingetree het.

Mabona sê egter “die pasiënt se mediese rekords ondersteun nie die bewering dat infrastruktuuruitdagings rondom gebreekte toerusting ’n beduidende rol in sy sigverlies gespeel het nie”.

Hy sê om die toerustingprobleme as die direkte oorsaak van die pasiënt se sigverlies voor te hou, sou sy mediese geskiedenis en vorige prosedures ignoreer en ’n wanvoorstelling van die omstandighede skep.

Vir die pasiënt is die uitkoms intussen ingrypend. Hy sê hy het jare lank gewerk en belasting betaal en vind dit moeilik om te aanvaar dat hy nou, wanneer hy op die openbare gesondheidsdiens staatmaak, sonder die sig in sy regteroog moet voortgaan.

’n Stel opvolgvrae is aan die Department van Gesondheid gestuur maar is teen publikasietyd nog nie beantwoord nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button