Metro ontken onderbesteding van padinfrastruktuurtoelaes
Dit volg nadat die Vryheidsfront Plus beweer dat miljoene rande in infrastruktuurbefondsing onbestee gelaat is. Die metro sê egter die syfers wat die party aanhaal is verkeerd.
Die Tshwane Metro het bewerings verwerp dat dit versuim het om honderde miljoene rande te spandeer wat vir openbare padinfrastruktuur toegeken is.
Dit kom nadat die Vryheidsfront Plus (VF+) die metro beskuldig het van swak finansiële bestuur wat na bewering tot gevolg gehad het dat miljoene rande wat vir ontwikkelingsprojekte geoormerk was, verlore gegaan het of onbestee gelaat is.
Die party het die metro daarvan beskuldig dat dit versuim het om infrastruktuurtoelaes effektief te spandeer en doen ’n beroep op dissiplinêre stappe teen amptenare nadat die Nasionale Tesourie na bewering R155.4-miljoen in ontwikkelingsbefondsing teruggeëis het.
Die metro hou egter vol dat verskeie van die syfers wat deur die opposisie aangehaal is, verkeerd is en nie die werklike uitgawes weerspieël wat deur die Departement van Paaie en Vervoer aangeteken is nie.
Burgemeesterswoordvoerder Samkelo Mgobozi sê die vermindering van R224-miljoen in Openbare Vervoernetwerktoelae (PTNG) befondsing is nie die gevolg van swak besteding nie. Dit vorm deel van ’n nasionale riglyn wat munisipaliteite vereis om toelaetoekennings te verminder aangesien die regering die bestaande Bus Rapid Transit (BRT) befondsingsmodel uitfaseer.
“Dit is belangrik om te verduidelik dat die R224-miljoen nie deur die Nasionale Tesourie aan die stad oorgedra is nie en was dus nie beskikbaar as befondsing aan die stad vir uitgawes gedurende die 2025/26 boekjaar nie,” sê Mgobozi.
Hy het verder bewerings betwis dat ’n bykomende R24-miljoen onbestee gebly het, en gesê “uitgawes teenoor die PTNG-toekenning wat die stad eintlik ontvang het, beloop ongeveer 98%. Dit toon ’n hoë vlak van benutting van beskikbare befondsing,” sê hy.
Mgobozi sê die Departement van Paaie en Vervoer het ook syfers met betrekking tot individuele infrastruktuurprojekte betwis.
Terwyl VF Plus-raadslid Nick Pascoe beweer die Mabopane Blok A Paaieprojek net 3% besteding behaal het en die Stinkwater Oorstromings-agterstandprojek op 29% staan, sê Mgobozi hul rekords toon besteding van onderskeidelik 81% en 100%.
Mgobozi sê die stad verwerp bewerings dat kontrakteurs hierdie projekte tydens die 2025/26 boekjaar laat vaar het.
“Van die perspektief van die Paaie en Vervoerdepartement, is geen projekte deur kontrakteurs tydens die 2025/26 boekjaar laat vaar nie,” sê hy en voeg by dat kontraktuele en wetgewende maatreëls toegepas word waar kontrakteurs versuim om verpligtinge na te kom.
Pascoe voer egter aan dat die jongste toelae- en subsidiesverslag wydverspreide mislukkings in die lewering van noodsaaklike infrastruktuur aan die lig bring.
“Die metro se jongste vorderingsverslag oor toelae en subsidies onthul ernstige mislukkings in die besteding van ontwikkelingsfondse,” sê hy.
Hy beweer inwoners ly steeds terwyl befondsing wat vir paaie-, water- en sanitasieprojekte bedoel was onbestee gelaat is. Die VF+ wys ook daarop dat vertragings waterinfrastruktuur in Mamelodi Uitbreiding 11, die Parkmore Reservoir, rioolvervangingsprojekte en MIV/Aids-programme beïnvloed.
Pascoe doen ’n beroep op dissiplinêre optrede teen amptenare verantwoordelik vir die verlies van R155.4-miljoen, ondersoeke na vertraagde tenders en vervalde kontrakte, en dat kontrakteurs wat munisipale projekte laat vaar, geswartlys word.
Ondanks die politieke kritiek, sê Mgobozi die metro bly daartoe verbind om projektoepassing te verbeter deur verkrygingsprosesse te bespoedig, projekbestuur te versterk en toenemende toesig van kontrakteurs se prestasies.
Hy waarsku dat voorgestelde verminderings in nasionale vervoerbefondsing oor die volgende twee boekjare toekomstige vervoeruitbreiding aansienlik kan beïnvloed.
Die stad het ook beplanningswerk vir die toekomstige uitrol van die volgende korridors begin, insluitend Lyn 1B: Wonderboom na Akasia, Lyn 1C: Akasia na Kopanang/Soshanguve, Lyn 4: Denneboom/Mamelodi na Wonderboom, Lyn 5B: Menlyn na Centurion, en Lyn 6: Olievenhoutbosch na die Pretoria middestad.
Mgobozi sê die stad het sowat R11-miljard in die Geïntegreerde Openbare Vervoernetwerkprogram tot en met 30 Junie 2025 belê.
Hierdie belegging sluit in toegewyde openbare vervoerinfrastruktuur, bushaltes en bedryfsfasiliteite, stasies en voerstelsels, aankoop van voertuie, oorgang van die taxibedryf en vergoeding, asook geïntegreerde vervoerbedryfsbeplanning.
“Infrastruktuur vir lyne 1A, 2A, 2B en gedeeltes van Lyn 2C is reeds toegepas, insluitend dienste wat uitbrei na Mamelodi en Atteridgeville.”
Volgens hom, erken die metro dat die toepassing van geïntegreerde openbare vervoerstelsels binne die Suid-Afrikaanse stedelike omgewing kompleks en langtermyn van aard is.
“Terselfdertyd, is beduidende strategiese infrastruktuur gelewer en is belangrike fondamente gelê vir toekomstige geïntegreerde en volhoubare openbare vervoer binne Tshwane.”
Hy sê die huidige nasionale hersieningsproses dus ’n belangrike geleentheid bied om toekomstige befondsing en toepassingsmodelle te verfyn en te versterk. Dit stel munisipaliteite in staat om voort te gaan om toeganklike, betroubare en bekostigbare mobiliteitsoplossings vir inwoners oor die langtermyn uit te brei.
“Die stad bly daartoe verbind om te verseker dat die aansienlike openbare belegging wat reeds gemaak is, maksimum waarde lewer. Dit terwyl die stad met nasionale regering en ander belanghebbendes werk om ’n volhoubare befondsingsmodel vir die volgende fase van Tshwane se geïntegreerde openbare vervoerstelsel te vestig,” sluit hy af.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
