News

Argentynse leeus en tiere kry nuwe lewe in Vrystaat

Ná jare in beperkte omstandighede kry die diere nou ruimte, sorg en ’n veilige tuiste. Die aankoms is ’n belangrike nuwe begin vir hierdie groot katte en hul versorgers.

Vyftien groot katte wat uit die voormalige Zoo Luján in Argentinië gered is, het veilig in die derde week van Augustus by Lionsrock Big Cat Sanctuary naby Bethlehem in die Vrystaat aangekom.

Dié aankoms is ’n belangrike mylpaal in ’n internasionale hervestigingsoperasie onder leiding van die wêreldwye dierewelsynsorganisasie Four Paws.

Leeus drink rustig water nadat hulle veilig in die Vrystaat aangekom het. Foto: Verskaf.
Bethlehem, South Africa | 2026 08 20 | Lions Joe, Stanley, Scar and Lionel at LIONSROCK Big Cat Sanctuary in South Africa during the release of the 15 Big Cats from the Lujan Zoo in Argentina

Die groep bestaan uit nege tiere en ses leeus wat duisende kilometers van Argentinië na hul nuwe tuiste gereis het.

Nog agt tiere en sewe leeus is na die Verenigde State vervoer as deel van dieselfde reddingspoging.

Vir die diere beteken die reis die begin van ’n nuwe hoofstuk in hul lewens.

Met hul aankoms is die groot katte versigtig na spesiaal-voorbereide aanpassingskampe geneem. Die gebiede is ingerig om hulle die geleentheid te gee om geleidelik aan hul nuwe omgewing gewoond te raak.

In plaas daarvan om onmiddellik aan groot oop ruimtes blootgestel te word, kry die diere tyd om hul nuwe reuke, geluide en roetines op hul eie tempo te ontdek.

Vir baie van die leeus en tiere is dit die eerste keer dat hulle toegang tot uitgebreide, natuurlike leefruimtes het.

Span kom met die diere in kratte by hul kampe aan. Foto: Verskaf.
Bethlehem, South Africa | 2026 08 20 | The team drives at LIONSROCK Big Cat Sanctuary in South Africa during the release of the 15 Big Cats from the Lujan Zoo in Argentina

Hulle het jare lank in ontoereikende kampe by die voormalige Zoo Luján deurgebring.

Dié voormalige dieretuin, sowat 70km van Buenos Aires, het in 1994 geopen. Argentynse owerhede het reeds in 2019 begin ingryp nadat dierekampe gesluit is weens oortredings van wetgewing wat direkte kontak tussen mense en wilde diere verbied. In September 2020 is die hele dieretuin voorkomend gesluit ná verdere inspeksies en jare se klagtes oor die bestuur en welsyn van die diere. Baie diere het egter ná die sluiting steeds op die terrein gebly, wat uiteindelik tot die huidige internasionale reddingspoging gelei het.

Die lang tydperk van aanhouding het ’n groot invloed op die diere se lewens gehad. Hulle moes in beperkte ruimtes leef sonder die soort vryheid en natuurlike omgewing wat groot roofdiere benodig.

“Die aankoms van hierdie leeus en tiere merk die begin van ’n nuwe lewe vir diere wat jare se swaarkry deurstaan het. Om hulle uiteindelik in ’n omgewing te sien waar hulle eenvoudig leeus en tiere kan wees, is ongelooflik emosioneel en lonend vir ons spanne regoor die wêreld,” sê Fiona Miles, direkteur van Four Paws South Africa.

Four Paws-personeel en leier van talle reddingsoperasies, dr. Amir Khalil (hande teen heining) hou die leeu Stanley fyn dop terwyl hy sy eerste treë in hul nuwe omgewing gee. Foto: Verskaf.

Sy verduidelik die reddingsoperasie was egter nie ’n eenvoudige taak nie. Maande se voorbereiding was nodig voordat die diere hul lang reis kon aanpak.

Veeartse, dierewelsynskenners, vervoerspesialiste en personeel van skuilings uit verskillende lande het saamgewerk om die projek moontlik te maak.

Volgen Miles was elke deel van die reis noukeurig beplan. Die gesondheid en veiligheid van die diere is deurgaans as die hoogste prioriteit beskou. Ná hul aankoms het die span die diere onmiddellik begin dophou om seker te maak dat hulle goed op die verandering reageer.

’n Geredde tierwyfie, Moko, stap versigtig uit haar vervoerkamp en begin haar nuwe omgewing by die skuiling verken. Foto: Verskaf.
Die geredde leeu, Joe, verlaat sy vervoerkrat en betree vir die eerste keer sy nuwe leefruimte. Foto: Verskaf.

Bethlehem, South Africa | 2026 08 20 | Lion Joe at LIONSROCK Big Cat Sanctuary in South Africa during the release of the 15 Big Cats from the Lujan Zoo in Argentina

Sy beklemtoon die groot katte word voortdurend deur die toegewyde diereversorgingspan gemonitor. Veeartse en versorgers let veral op hul gedrag, eetlus en beweging.

“Hierdie waarnemings help die span om vas te stel hoe elke dier die nuwe omgewing ervaar en of enige spesiale sorg nodig is,” verduidelik Miles.

Verrykingsaktiwiteite soos om met kardoese te speel en weggesteekte kos te moet soek, vorm ook deel van die diere se nuwe roetine.

Sulke aktiwiteite gee die leeus en tiere geleenthede om hul natuurlike instinkte te gebruik en hul nuwe omgewing te verken.

Die personeel pas die roetines versigtig aan volgens die behoeftes van elke individuele dier.

“Die komende weke is van kardinale belang vir hierdie diere terwyl hulle aan hul nuwe omgewing gewoond raak. Elke leeu en tier reageer anders op verandering, veral ná lang tydperke van aanhouding. Ons span monitor hulle noukeurig en gee hulle die tyd en ruimte wat hulle nodig het om teen hul eie tempo aan te pas. Ons sien reeds bemoedigende tekens van nuuskierigheid en selfvertroue by verskeie van die diere,” sê Lionsrock-bestuurder, Hildegard Pirker.

Sy dui ook daarop hoe die redding wys hoe belangrik internasionale samewerking vir dierewelsyn kan wees.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook,Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button