News

Elke kol tel in nuwe jagluiperdsensus

Die nuwe jagluiperdsensus in die Groter Kruger-area wil vasstel hoeveel van dié bedreigde katte daar voorkom, waar hulle beweeg en hoe die bevolking verander. Wildkykers kan met foto’s help om individuele diere te identifiseer en belangrike data vir bewaring verskaf.

’n Foto van ’n jagluiperd is vir ’n wildlewe-geesdriftige ’n waardevolle herinnering, maar vir navorsers kan dit veel meer beteken.

Elke unieke karaktertrek bied ’n manier om ’n individuele dier te herken, sy bewegings te volg en uiteindelik ’n beter beeld van die bevolking te kry.

Dit is die uitgangspunt van die Groter Kruger-jagluiperd-fotografiese sensus vir 2026/27, ’n gesamentlike projek van die Bedreigde Wildlewe Trust en SANParke. Die opname het op 1 September begin en duur tot 31 Augustus 2027.

Olivia Sievert, bestuurder van die Bedreigde Wildlewetrust se Jagluiperdbewaringsprogram. Foto: Verskaf

Olivia Sievert, bestuurder van die trust se Jagluiperdbewaringsprojek, sê die waarde van ’n waarneming lê juis in wat mettertyd uit baie individuele rekords geleer kan word.

“’n Eenvoudige foto kan ons help om ’n individu te identifiseer, sy bewegings te volg en, wanneer dit met duisende ander rekords gekombineer word, ’n beeld van ’n hele bevolking te bou,” sê Sievert.

Foto’s van jagluiperds kan waardevolle wetenskaplike data oplewer en navorsers help om die bevolking in die Groter Kruger-area beter te verstaan. Foto: Verskaf

Die nuwe sensus bou voort op dekades se fotografiese monitering in die Kruger-wildtuin en omstreke.

Jagluiperds is reeds in 1990 by burgerwetenskaplike fotografiese opnames ingesluit, met verdere sensusse in 2004/05, 2009/10 en 2021/22.

Met die vorige opname is 196 jagluiperdwaarnemings ontvang.

Van dié foto’s was 151 geskik vir individuele identifikasie, waarna 86 verskillende diere herken is.

Sievert verduidelik statistiese modellering het die bevolking in die nasionale park op ongeveer 116 jagluiperds beraam.

Die syfer was die laagste wat tot dusver aangeteken is, maar sy waarsku dat dit nie sonder meer as ’n werklike bevolkingsafname vertolk kan word nie.

Minder toerisme tydens die Covid-19-pandemie het waarskynlik tot minder waarnemings gelei, terwyl veranderinge in identifikasiemetodes ook die resultate beïnvloed het.

Die nuwe sensus moet daarom help om ’n meer betroubare basislyn vir toekomstige vergelykings daar te stel volgens haar.

Die Groter Kruger-area is deel van die groter Groter Limpopo Oorgrensbewaringsarea wat die Kruger-wildtuin, die aangrensende privaat natuurreservate en beskermde gebiede in Mosambiek en Zimbabwe verbind.

Die sensus wil meer uitvind as net hoeveel jagluiperds daar is.

Navorsers wil bepaal waar individue voorkom, hoe ver hulle beweeg, waar belangrike kerngebiede geleë is en of daar roetes is waardeur diere tussen beskermde gebiede beweeg.

Die 2026/27-opname sal nuwe foto’s saam met historiese foto’s, kamerafoto’s, veldwagterrekords en ander beskikbare waarnemings gebruik. Kunsmatige intelligensie sal help om vlekpatrone te vergelyk, waarna identifikasies waar nodig met die hand geverifieer sal word.

Die publiek speel ’n direkte rol. Die Trust vra dat besoekers aan die Groter Kruger-area wat ’n jagluiperd sien, foto’s neem en dit vir die sensus indien.

Foto’s van die linker- én regterkant van ’n dier is besonder nuttig, omdat dit navorsers help om individue akkuraat van mekaar te onderskei.

Die 2026/27-jagluiperdsensus gebruik foto’s, historiese rekords en ander waarnemings om bewegings en bevolkingspatrone in die Groter Kruger-area te ondersoek. Foto: Verskaf

Saam met ’n foto moet die datum, benaderde ligging of GPS-koördinate, die aantal jagluiperds en enige relevante waarnemings verskaf word.

Een foto kan dus ’n individuele jagluiperd identifiseer. Herhaalde foto’s kan wys waarheen hy beweeg. Duisende sulke waarnemings kan uiteindelik aandui hoe die bevolking oor die hele Groter Kruger-area lyk.

– Stuur foto’s en data na: www.ewt.org/kruger-cheetah-census

’n Jagluiperd in die Groter Kruger-area word aan sy unieke vlekpatroon herken, wat navorsers help om individuele diere oor tyd te volg. Foto: Verskaf

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button