Local newsNews

Nege brandweerstasies sit sonder waens

Pretoria se Brand- en Reddingsdienste se verouderende en onvoldoende voertuigvloot wek kommer oor die stad se vermoë om noodgevalle betyds te hanteer. Die Gemeenskapsveiligheidskomitee het ’n beroep op die stadsraad gedoen vir dringende ingryping, bykomende hulpbronne en samewerking tussen regeringsvlakke om brandbestryders beter toe te rus en inwoners se veiligheid te beskerm.

Die metro se Gemeenskapsveiligheid- en Toesigkomitee sowel as die DA het ’n dringende ingryping gevra om ’n ernstige tekort aan voertuie in die brand- en reddingsafdeling van die Nooddienste-departement aan te spreek.

Raadslid Neo Mocumi, voorsitter van die Artikel 79-Gemeenskapsveiligheidskomitee, het die departementele verslag verwelkom wat op 18 Augustus aan die komitee voorgelê is asook aan die raad op 27 Augustus.

Die verslag wys op beduidende tekorte in die brand- en reddingsvloot en die moontlike impak daarvan op die munisipaliteit se vermoë om vinnig op noodgevalle te reageer.

Slegs 13 van die metro se 40 brandweerwaens en 10 van 34 bosbrandpompe is tans operasioneel. Boonop het nege van die metro se 22 brandweerstasies geen operasionele brandweerwa nie.

Die totale nooddiensvloot het van 356 voertuie in Oktober verlede jaar tot 277 in Junie vanjaar en verder tot 268 voertuie teen 18 Augustus gedaal.

Raadslid Ally Makhafula, DA-woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, sê: “Dit is nie bloot ’n probleem met vlootbestuur nie. Dit is ’n openbare veiligheidskrisis. Elke minuut tel wanneer brandbestryders op pad is na ’n brandende huis, besigheid of kritieke infrastruktuur.”

DA-Raadslid Ally Makhafula Foto: Facebook/Leon Kruyshaar

Hy het ’n raadsbesluit verwelkom dat die verslag oor die toestand van Nooddienste se vloot na die burgemeesterskomitee verwys word en sal die toepassing daarvan monitor.

Volgens die komitee plaas finansiële en hulpbrondruk die instandhouding, herstel en vervanging van die verouderende voertuigvloot onder druk.

Mocumi sê betroubare noodvoertuie is noodsaaklik om inwoners se veiligheid te beskerm en doeltreffende reaksie tydens noodgevalle te verseker.

“Die metro se erkenning dat daar ’n ernstige krisis met hul brandweer- en noodvoertuigvloot bestaan, is welkom maar bloot die erkenning van ’n probleem is nie genoeg nie.”

So sê Llewellyn Hemmens, AfriForum-woordvoerder vir veiligheid.

Llewellyn Hemmens, veiligheidswoordvoerder van AfriForum Foto: Verskaf

“Gemeenskappe het reeds vir jare tydens GOP- [Geïntegreerde Ontwikkelingsplan] en openbare deelnameprosesse gewaarsku oor die toestand van die stad se noodvoertuigvloot en die behoefte aan nuwe voertuie. Hierdie bekommernisse is herhaaldelik geopper, maar inwoners wil nou weet: Wat is die plan, hoeveel gaan dit kos, wanneer gaan dit gebeur en wie gaan daarvoor verantwoordelik gehou word?” verduidelik Hemmens.

Hy glo die metro kan nie bekostig om bloot nog verslae te ontvang, probleme te erken en daarna voort te gaan soos voorheen nie.

“Wanneer ’n brand uitbreek of ’n noodgeval plaasvind, help dit nie om te weet dat die probleem reeds deur ’n komitee geïdentifiseer is nie. Inwoners en brandweerpersoneel het operasionele voertuie, behoorlike toerusting en ’n betroubare reaksievermoë nodig,” wys hy uit.

Hy meen terselfdertyd moet die metro begin kyk na praktiese samewerking.

“Daar bestaan reeds privaat brandweerdienste, gemeenskapstrukture en brandbeskermingsverenigings met kundigheid, toerusting en reaksievermoë. Veral gedurende die veldbrandseisoen speel brandbeskermingsverenigings en gespesialiseerde veldbrandspanne reeds ’n belangrike rol,” benadruk hy.

“Ons het daarom die metro se departemente wat met nooddienste soos die brandweer werk, genooi om saam met gemeenskapsorganisasies, privaat nood- en brandweerdienste en brandbeskermingsverenigings om dieselfde tafel te sit.”

Morné Botha, die voorsitter van die Sinoville Brandbestrydersvereniging, glo dit is baie positiewe nuus dat die metro proaktief wil optree om brandweerdienste, -voertuie en -toerusting die nodige aandag te gee.

Morné Botha, die voorsitter van die Sinoville B

“Brandweer- en ander nooddienstepersoneel kan slegs hul pligte doeltreffend uitvoer wanneer hulle oor die regte, voldoende en werkende toerusting beskik. As vrywillige brandbestryders besef ons maar alte goed watter groot uitgawe dit is om voertuie, brandstof en toerusting in stand te hou. Toerusting verweer nie net met ouderdom nie maar elke keer wat dit gebruik word, is daar slytasie en is instandhouding noodsaaklik,” verduidelik Botha.

Hy wys op die vinnige uitbreiding van woongebiede en industriële gebiede en meen dit plaas toenemende druk op nooddienste. Dit lei tot meer oproepe na beheersentrums en het ’n kettingreaksie tot gevolg: meer goed-opgeleide brandbestryders, meer toerusting en vinniger reaksietye binne elke gebied word benodig.

Kommentaar is van die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid, Hannes Coetzee, aangevra maar geen is teen druktyd ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button