Sangeres Charlize Berg se tweelingbroer vermis – Het jy hom gesien?
Sangeres Charlize Berg se tweelingbroer, Jaco van der Berg, is spoorloos vermis nadat hy Saterdagaand ’n rehabilitasiesentrum verlaat het.
Die sangeres Charlize Berg en haar familie is rasend van bekommernis nadat haar tweelingbroer, Jaco van der Berg, Saterdagaand uit ’n rehabilitasiesentrum verdwyn het.
Jaco, wat al lank met dwelmverslawing worstel, is onlangs by Aloe Valley Wellness Manor opgeneem. Die sentrum spesialiseer in die behandeling van alkohol- en dwelmverslawing.
Volgens Berg word haar broer in die Hartbeespoort- en Centurion-omgewing vermis.
Die familie het gehoop dat sy opname die begin van ’n nuwe hoofstuk sou wees waarin hy die hulp kon kry wat hy nodig het en uiteindelik van sy verslawing bevry kon word.
Berg het glo aan die media gesê die familie voer reeds jare lank saam met Jaco ’n daaglikse stryd teen sy verslawing.
Jaco het glo geen skoene aangehad toe hy die sentrum verlaat het nie.
“Hy het geen skoene aangehad nie en was in ’n psigotiese toestand. Daarom is ons baie bekommerd oor sy veiligheid,” het Berg in ’n sosialemediaplasing geskryf.
Berg het die publiek gevra om die vermistepersoon-boodskap so wyd moontlik te versprei.
Die familie se grootste hoop is dat Jaco ongedeerd gevind sal word.
“Al wat ons hoop, is dat my boetie veilig huis toe kom,” het Berg gesê.
Enigiemand wat Jaco gesien het of enige inligting oor sy verblyfplek het, hoe gering ook al, word versoek om Petrus by 072 742 4104 te bel.
Lees ook: Blou Bulle se skeidsregtersvereniging in rou ná skielike dood van geliefde mentor
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
