Boere eis optrede oor Rooiwal-besoedeling
Die Rooiwal-afvalwateraanleg funksioneer steeds sowat 64% bo sy ontwerpte hidrouliese vermoë, ondanks ’n rehabilitasieprogram van meer as R288- miljoen. Terwyl opgraderings voortgaan, sê omliggende boere dat besoedeling waterbronne, landbougrond, infrastruktuur en gewasse benadeel.
Die metro sê die Rooiwal-afvalwateraanleg is steeds in werking al is daar vermoë- en bedryfsprobleme.
Die aanleg werk tans ongeveer 64% bo sy ontwerpte hidrouliese vermoë, terwyl ’n grootskaalse rehabilitasie- en opgraderingsprogram voortgaan.
Die gemiddelde afvalwaterinvloei na Rooiwal-Noord is ongeveer 180 megaliter per dag. Die ontwerpte hidrouliese verwerkingsvermoë is 110 megaliter per dag.
Daar is alreeds meer as R288-miljoen aan die rehabilitasieprogram bestee.
Die toestand van die aanleg het tot toenemende kommer onder omliggende boere gelei, wat beweer dat Rooiwal-besoedeling hul waterbronne, landbougrond, infrastruktuur en gewasse beïnvloed.
Meer as 20 boere het hul bekommernisse tydens ’n belanghebbende-terugvoergeleentheid laat in Augustus uiteengesit.
Die Vryheidsfront Plus-raadslid Willie Spies het namens plaaslike landboubelangegroepe aangedring op vinniger optrede en aanspreeklikheid. Regstappe teen die metro word tans namens van die boere ingestel.
Die Gautengse Provinsiale Wetgewer se portefeuljekomitee vir die omgewing het intussen toesiginspeksies by die aanleg gedoen, maar die Gauteng Departement van Omgewing het bevestig dat die primêre oorsigrol by die nasionale Departement van Water en Sanitasie en die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing berus.
Metro-woordvoerder Lindela Mashigo skryf die disfunksionele toestand onder meer toe aan vertragings met kapitaalopgraderings en geskiedkundige befondsingsbeperkings wat die instandhoudingsprogram oor verskeie finansiële jare beïnvloed het.
Hoewel die organiese ladingvermoë ook oorskry word, sê hy daar is nie tans betroubare data beskikbaar om die presiese omvang daarvan te bepaal nie.
Mashigo het verduidelik die eerste fase van die opgraderings aan die aanleg is reeds in volle swang.
Dit sluit die bou van twee nuwe primêre tenks en die opknapping van die anaërobiese verteerders en inlaatwerke in.
Hy beklemtoon dat die stad voortgaan met roetine-waterkwaliteitsmonitering. Die ontledings sluit in toetse vir nitraat, chemiese suurstofbehoefte, ortofosfaat, gesuspendeerde vastestowwe, suur- of alkaligehalte en geleidingsvermoë in.
Mashigo het egter nie ’n spesifieke syfer vir die hoeveelheid onbehandelde of onvoldoende behandelde afvalwater wat tans die Apiesrivier bereik, verstrek nie.
Boere het tydens die vergadering beweer dat besoedeling vanaf die Rooiwal-aanleg skade aan besproeiingstelsels, damme, boorgate, landbougrond en gewasse veroorsaak het.
Mashigo wou nie hierop kommentaar lewer nie. “Die aangeleentheid word tans in die hof beslis.”
Hy wys daarop dat daar al ’n geruime tyd ’n gaping is tussen die instandhoudingsbefondsing wat benodig is en die befondsing beskikbaar om die Rooiwal-aanleg op standaard te bring.
“Gedurende elke finansiële jaar word die instandhoudingsprogram binne die beskikbare toekenning in werking gestel, met prioriteit aan kritieke bedryfsvereistes,” sê hy.
Oor damwalle wat volgens boere gefaal het nadat damme met slyk en afvalwater van die aanleg gevul is, sê Mashigo die betrokke damme is gronddamme wat weg van die hoofaanleg geleë is en as struktureel kwesbaar beskou word.
Watertoevoer aan die betrokke landbougemeenskappe word wel volgens Mashigo ingevolge ’n Hooggeregshofbevel voorsien. Van die boere het aangedui dat hulle sommige dae geen water kry nie en dus nie hul diere water kan gee nie.
“Water word minstens ses dae per week per tenkwa gelewer,” sê hy.
Die stad se eie tenkwaens word tans hiervoor gebruik. Mashigo sê lae waterdruk kan egter veroorsaak dat dit langer neem om die tenkwaens te vul, wat tot vertragings kan lei.
Hy het verduidelik dat werk by die aanleg wat onder Fase 1A voltooi is, sluit onder meer ’n veiligheidsheining, elektriese heining en kringtelevisiekameras in. ’n Primêre tenk is voltooi, twee filterbandperse en ’n vervoerband is geïnstalleer, en die reaktore is opgeknap.
Volgens hom word Fase 1B tans deur drie kontrakteurs op die terrein uitgevoer.
Mashigo wys daarop dat die siviele werke 88% voltooi is. Meganiese en elektriese werk in die noordelike en westelike gedeeltes is 53% voltooi, terwyl die werk in die oostelike gedeelte op 18% staan.
Hy bevestig egter dat die aanleg nog nie na aanvaarbare bedryfstandaarde teruggekeer het nie.
“Die rehabilitasie- en opgraderingsprogram bly aan die gang, terwyl die fasiliteit voortgaan om bo sy ontwerp te funksioneer,” sê Mashigo.
Oor bewerings van kontrakteursversuim, korrupsie, verkwistende uitgawes en ’n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid, sê Mashigo die metro werk ten volle met alle ondersoeke saam.
“Enige aanspreeklikheidsmaatreëls sal ingevolge die toepaslike regs- en administratiewe prosesse gevolg word,” sê hy.
Vir die volgende paar maande sal die metro volgens Mashigo voortgaan met sy instandhoudingsplan om die funksionaliteit en betroubaarheid van die aanleg se toerusting te verbeter.
Die kapitaalbestedingsprogram sal ook volgens plan voortgaan, hoewel beskikbare befondsing ’n beperking bly.
Volgens Mashigo behoort die gekombineerde instandhoudings- en kapitaalbesteding die kwaliteit van die aanleg se uitvloeisel geleidelik te verbeter en te help met voldoening aan hofbevele en toepaslike omgewingsvereistes.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
