Nuwe boomwette beteken niks sonder behoorlike wetstoepassing – DA
Die metro se nuwe boom-bywette stel streng reëls vir straatbome en openbare groen areas, maar die werklike toets of die beleid en by-wette geslaagd sal wees, is of die metro oortreders kan opspoor, boetes kan afdwing en die nodige toerusting en personeel beskikbaar het om wetstoepassing rondom die by-wette te doen.
Die metro se nuwe stedelike bosbou- en boombeskermingsverordeninge en bywette plaas ’n reeks nuwe beperkings op die snoei, afkap, beskadiging, verwydering en aanplant van bome in openbare areas, met boetes wat volgens die grootte van die betrokke boom bepaal word.
Die DA sê die nuwe reëls sal min beteken indien die stad nie die stelsel om dit af te dwing, behoorlik beman en toerus nie.
Die DA se woordvoerder vir Landbou en Omgewingsbestuur, raadslid Marika Kruger Muller, sê die verordeninge is op 23 September 2026 deur die stadsraad aanvaar en dat die fokus nou op die toepassing daarvan moet val.
“Alhoewel ons hierdie belangrike stap om die hoofstad se groen boomkroon vir toekomstige geslagte te beskerm, steun, bly ons vasbeslote dat ’n stel verordeninge net so sterk is soos die toepassing daarvan,” sê Muller.
Die verordeninge maak dit ’n oortreding om onder meer ’n straatboom, of ’n boom in ’n park of openbare oop area, sonder uitdruklike skriftelike toestemming van die munisipaliteit af te kap, te verwyder of te snoei. Die snoei of afkap van bome volgens bepaalde metodes word ook deur die toestemmingstelsel beheer.
Die bepalings geld oor ’n wye gebied, insluitend openbare padreserwes, ontwikkelde en onontwikkelde parke, openbare oop areas, verkeerseilande en sekere munisipale en ander openbare grond.
Die stel regulasies geld vir enige persoon, insluitend eiendomseienaars, ontwikkelaars, verhuurders en staatsinstellings.
Die verordeninge verbied ook verskeie vorme van skade aan bome. Dit sluit onder meer die gebruik van vuur, olie, diesel, petrol en die gebruik van sekere chemikalieë rondom bome in, asook die verwydering van bas rondom ’n stam, die beskadiging van wortels en die vasmaak van kabels met die doel om ’n boom te beskadig of dood te maak.
Bouwerk om en naby bome is ook onderhewig aan streng beheer. Wortels mag nie vir kabels, pype of padverbreding gesny word sonder skriftelike toestemming nie, terwyl voorsiening gemaak moet word vir ’n beskermde area rondom die stam wanneer plaveisel, teer of sement gebruik word.
Die verordening bepaal verder dat geen boom in ’n openbare padreserwe, verkeerseiland, park of openbare oop area sonder skriftelike toestemming geplant mag word nie.
Sekere boomspesies se aanplanting word ook beperk of verbied en ‘n lys van sulke bome word in die bywette aangegee.
Die strafbepalings rondom oortredings oor al die verordeninge hou vir inwoners en eiendomseienaars finansiële gevolge in.
Iemand wat ’n boom op ’n openbare padreserwe, in ’n park of openbare oop ruimte sonder spesifieke toestemming sny of snoei, kan aanspreeklik gehou word vir die waarde van die boom.
Die verordening gee egter nie een vaste boetebedrag vir alle oortredings nie.
Boetes vir spesifieke onwettige optrede word volgens die grootte van die boom bepaal. Die stamomtrek word een meter bo die grond gemeet. Waar ’n boom reeds onder daardie hoogte afgekap is, word die sigbare gedeelte gebruik vir die meting.
Die dokument bevat nie randbedrae langs die nege kategorieë van bome en hul omtrekke nie. ’n Spesifieke bedrag kan dus nie uit die verordening alleen afgelei word nie. Regulasies sal hierrondom afgekondig moet word.
Die stad kan ook volgens die toerusting rondom onwettige hantering van bome, konfiskeer. Indien iemand betrap word terwyl ’n boom afgekap word, kan die munisipaliteit bosboutoerusting, insluitend meganiese toerusting en handsae, sonder kennisgewing afneem.
Hierdie bepalings en boetes plaas die fokus op die stad se vermoë om die nuwe stelsel toe te pas.
Muller sê die DA het die verordeninge se goedkeuring deur die raad ondersteun, maar dat die stad nou die bedryfsvermoëns moet skep om dit te laat werk.
“Sulke beleide al is die bedoeling hoe goed ,word deur swak toepassing gesaboteer,” sê sy.
Muller sê die stad moet spesifiek bepaal watter departement verantwoordelik sal wees vir die uitreiking van boetes.
Sy wys ook op die probleem van oortreders wat nie maklik opgespoor kan word nie.
Die verordening bevat ook ’n formele appèlproses. ’n Persoon kan binne 21 dae nadat kennis van ’n besluit ontvang is, skriftelik by die stadbestuurder appelleer.
Die verordeninge sal volgens die raadsdokument eers in werking tree op die datum waarop dit in die Provinsiale Staatskoerant afgekondig word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
