News

'Niks oor ons sonder ons,' eis persone met gestremdhede

Die kernboodskap van “Niks oor ons sonder ons" is eenvoudig: persone met gestremdhede moet nie bloot by bestaande stelsels ingesluit word nie. Hulle moet help om daardie stelsels te vorm.

Die Nasionale Raad van en vir Persone met Gestremdhede (NRPG) neem op 16 Oktober deel aan ’n bewusmakingsoptog in Pretoria.

Die boodskap van die bewusmaking is deelname, toeganklikheid en menswaardigheid moet in besluite en praktyke oor persone met gestremdhede weerspieël word.

Die bewusmakingsoptog en -staptog is deel van die bewusmakingsmaand rondom regte vir persone met gestremdhede en sal talle organisasies en leiers insluit.

Die optog begin om 08:30 by Kerkplein in Pretoria en beweeg na die Uniegebou-kompleks, waar die program tot 13:00 duur.

Onder die slagspreuk “Niks oor ons sonder ons” word die aandag gevestig op die noodsaaklikheid daarvan dat persone met gestremdhede self ’n betekenisvolle rol wil speel in besluite wat hul lewens, geleenthede en toekoms bepaal.

Able, gelukbringer van die Nasionale Raad van en Persone met Gestremdhede, beklemtoon tydens sy optredes dat persone met gestremdhede self besluite oor hul lewens moet help vorm. Foto: Verskaf

Vir die raad gaan hierdie boodskap oor meer as sigbaarheid tydens ’n openbare geleentheid.

Dit gaan oor deelname aan beleidsvorming, toegang tot noodsaaklike dienste en die reg om as volwaardige lede van die samelewing erken te word.

Vir Andrew Hofmeyr, spesiale projekleier by die NRPG, beteken die tema dat besluite oor mense se lewens nie sonder hul insette geneem behoort te word nie.

“Wanneer beleidmakers en instellings planne opstel sonder om die mense wat daardeur geraak word, te raadpleeg, kan die uitkoms ontoereikend wees. ’n Oprit kan byvoorbeeld te steil wees om veilig te gebruik, terwyl ’n diens op papier beskikbaar is maar in die praktyk ontoeganklik bly,” verduidelik hy.

Hofmeyr beklemtoon dat persone met gestremdhede se deelname aan prosesse en besluitneming nie as ’n guns beskou moet word nie. Hulle moét help bepaal hoe wette, begrotings, openbare dienste en gemeenskappe ingerig word.

“Suid-Afrika se verbintenis tot die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van Persone met Gestremdhede versterk die beginsel dat hul regte gerespekteer en beskerm moet word,” benadruk hy.

Hofmeyr waarsku ook dat vriendelikheid en ’n bedagsame ingesteldheid teenoor persone met gestremdheid nie noodwendig gelykstaande is aan insluiting nie.

“Persone met gestremdhede word dikwels steeds beskou as mense wat versorging nodig het, eerder as bure, ouers, kollegas, professionele persone en leiers. Mense met intellektuele of psigo-sosiale gestremdhede en persone met gehoorgestremdhede kan besonder geïsoleer wees wanneer gemeenskappe nie weet hoe om toeganklik te kommunikeer nie,” voeg hy by.

Volgens Hofmeyr behoort skole, klinieke, kerke en plaaslike rade toeganklikheid van die begin af by hul beplanning van geboue en terreine in te sluit.

Gereelde kontak tussen mense kan ook help om vooroordele, vrees en stigma af te breek.

Adri Visser en Emmission Masegela bied dikwels bewusmakingsfunksies aan om hindernisse vir persone met gestremdhede in onderwys, vervoer, gesondheidsorg en werkgeleenthede uit te wys. Foto: Verskaf

Onderwys bly nog ’n belangrike uitdaging vir NRPG.

Hofmeyr wys daarop dat uitsluiting reeds tydens ’n kind se skooljare kan begin en gevolge vir die res van sy of haar lewe kan hê.

Hy sê skole benodig toepaslike ondersteuning, onderwysers moet opleiding ontvang en leerders moet betyds toegang tot hulpmiddels kry. Wanneer probleme aangemeld word, behoort verantwoordelike owerhede konkrete planne met duidelike sperdatums en verantwoordelikhede voor te lê.

Werksgeleenthede en ekonomiese onafhanklikheid word eweneens deur ontoeganklike vervoer en negatiewe houdings belemmer, benadruk hy.

Hofmeyr verduidelik dat sommige werkgewers steeds aanneem dat indiensneming in die werkplek van persone met gestremdhede ingewikkeld of duur is.

Hierdie houding veroorsaak volgens hom dat persone met gestremdhede van een leerprogram na die volgende rondgeskuif kan word sonder om permanente werk te bekom.

Deur die Enabled WomXn Arise-program ondersteun die NRPG deelnemers met CV’s, skaduwerk en die ontwikkeling van klein ondernemings. Hofmeyr pleit vir billike werksgeleenthede en ’n veiliger oorgang van maatskaplike ondersteuning na indiensneming.

Dr. Siva Moodley, navorser en strateeg vir voorspraak en gestremdheidsregte by die NRPG, vestig die aandag op ontoeganklike openbare ruimtes, geboue en vervoer.

Hy stel dit onomwonde dat baie openbare fasiliteite is nie volgens universele ontwerpbeginsels ontwikkel nie.

Rolstoelgebruikers word ook soms deur taxi’s geïgnoreer, terwyl geboue sonder opritte, gebrekkige hysbakke en onvoldoende kommunikasiehulpmiddels toegang verder beperk.

Moodley wys daarop dat ontoeganklike vervoer ook mense met gestremdhede se toegang tot onderwys, gesondheidsorg en werk direk beïnvloed.

Inligting, meen hy, moet ook beskikbaar wees in formate wat persone met verskillende gestremdhede kan gebruik, insluitend braille, onderskrifte en Suid-Afrikaanse Gebaretaal – waar nodig.

Gesondheidsorg bly, volgens Moodley, ’n besondere bron van kommer vir mense wat van openbare gesondheidsfasiliteite afhanklik is.

Hy beskryf die beskikbare ondersteuning as ‘onvoldoende’ en beklemtoon dat respek die grondslag van die beskerming van fundamentele menseregte moet vorm.

Moodley meen verder dat persone met gestremdhede nie genoeg geleenthede kry om leierskapposisies te beklee nie.

“Stereotipes en sistemiese hindernisse beperk hul bevordering, selfs in die werkplek, waar hulle dikwels in laervlakposte bly. Dit beteken dat hul ervarings en kundigheid nie voldoende in belangrike besluite weerspieël word nie,” voeg hy by.

Hy beklemtoon dat die publiek moet verstaan dat persone met gestremdhede eerstens mense is. Hy glo die grootste probleem lê dikwels nie bloot in die gestremdheid self nie, maar in die fisieke, kommunikasie- en houdingshindernisse wat deelname beperk. Deurlopende bewusmakingsprogramme moet daarom die werklike ervarings van persone met gestremdhede na vore bring.

Hoewel die optog gemeenskapsbetrokkenheid kan bevorder, waarsku Moodley dat ’n enkele stap nie vanself betekenisvolle verandering sal meebring nie. Hy bevraagteken of herhaalde optogte werklik nader aan die beskerming en bevordering van gestremdheidsregte lei wanneer dieselfde probleme jaar ná jaar voortduur.

“Die optog van Kerkplein na die Uniegebou behoort dus nie die eindpunt van die gesprek te wees nie, maar ’n geleentheid om aanspreeklikheid te eis,” meen hy.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button