News

Straat nou klopdisselboom danksy afgetredenes

Vir die inwoners van Disselboomlaan in Wapadrand, Pretoria-oos is die onlangse herstelwerk aan 'n slaggat meer as net ’n reggemaakte stuk pad. Dit is ook ’n herinnering aan wat moontlik is wanneer mense hul vaardighede, tyd en hulpbronne deel om hul gemeenskap veiliger te maak.

Toe ’n gevaarlike slaggat in Disselboomlaan in Pretoria-oos inwoners se veiligheid op die besige pad bedreig, het ’n groep afgetredenes besluit om nie langer te wag nie.

Met eie fondse en drie afgetrede ingenieurs in hul span het hulle die pad self herstel.

Wat begin het as ’n poging om ’n gevaarlike slaggat deur die regte kanale aan te meld, het uiteindelik ’n gemeenskapsprojek geword waarin ’n groep afgetredenes hande gevat het om ’n bedreiging vir padgebruikers uit die weg te ruim.

Chris Streeter, ’n afgetredene wat saam met meer as tien inwoners van sy aftreekompleks aan die projek deelgeneem het, sê die groep wou aanvanklik bloot seker maak dat die probleem behoorlik aangemeld en herstel word.

Volgens Streeter is die slaggat in Disselboomlaan sowat ’n jaar gelede op die metro se webblad aangemeld. Die groep het egter geen terugvoer ontvang oor wanneer die pad herstel sou word nie. Hulle is wel deur ’n metro-amptenaar aangeraai om die herstelprojek self aan te pak.

“Ons wou dit van die begin af op die regte manier doen. Ons het die slaggat aangemeld en gehoop dat dit herstel sou word, maar daar het niks gebeur nie,” sê Streeter.

‘n Span afgetredenes het besluit om self ‘n gevaarlike slaggat naby hul woonkompleks te herstel. Foto: Verskaf

Die slaggat het mettertyd ’n al groter veiligheidsrisiko geword vir almal wat die pad gebruik, en nie net vir die kompleks se inwoners waarin die regmaakspan gewoon het nie.

Die pad se beskadigde gedeelte was volgens Streeter ongeveer ’n halwe meter breed en diep genoeg om voertuie ernstig te beskadig.

Die probleem het ontstaan nadat die elektrisiteitsdepartement sowat ’n jaar tevore kabelwerk in die omgewing gedoen het. Die padoppervlak en sypaadjie is daarna nie behoorlik herstel nie.

Disselboomlaan word gereeld deur talle voertuie gebruik, insluitend vragmotors wat veral vroegoggend deur die gebied beweeg.

Bestuurders wat om die sirkel beweeg, moes soms uitswaai om die beskadigde gedeelte te vermy. Streeter verduidelik dit het veroorsaak dat hulle onverwags in die baan van aankomende verkeer beland. Motoriste wat teen ’n hoër spoed ry, het boonop nie altyd die slaggat betyds raakgesien nie.

Streeter vertel dat die inwoners tydens gesprekke in die kompleks besef het dat daar genoeg praktiese kennis en ervaring onder hulle was om die werk aan te pak. Drie ingenieurs het gehelp om die herstelwerk met aandag en vaardigheid te benader.

“Wat my beïndruk het, was die professionaliteit waarmee almal saamgewerk het. Ons het mense met verskillende vaardighede gehad, en elkeen was bereid om sy deel te doen,” sê hy.

Die inwoners het self geld bymekaargemaak om die nodige materiaal te bekom en die herstelwerk te finansier. Van die gereedskap soos die rollermasjien is gratis deur ’n naburige maatskappy voorsien. Hulle wou seker maak dat die pad nie bloot tydelik toegemaak word nie, maar dat die herstelwerk ’n stewige fondament het.

Meer as tien inwoners het op verskillende maniere bygedra. Sommige het met die praktiese werk gehelp, terwyl ander ondersteuning gebied het.

Bure en inwoners het ook toebroodjies en water aangedra vir die mense wat aan die werk was.

Vir Streeter is dié soort samewerking nie vreemd nie. Hy het reeds van jongs af geleer dat ’n mens met geduld en praktiese kennis baie self kan vermag.

Hy is in Bloemfontein gebore en het later in Pretoria sy universiteitstudies aangepak. Sy belangstelling in selfdoenwerk het reeds op 12-jarige ouderdom begin toe hy koerant afgelewer het. Met die geld wat hy verdien het, het hy later ’n motorfiets aangeskaf en geleer om dit self reg te maak.

Chris Streeter en ‘n werker besig om die pad te herstel. Foto: Verskaf

Hy verduidelik hy het by sy pa geleer hoe om dinge reg te maak. Die vaardighede wat hy oor die jare opgedoen het, het hom geleer om probleme prakties te benader en nie sommer moed op te gee nie.

Hoewel Streeter reeds geruime tyd afgetree is, glo hy steeds dat ’n mens ’n bydrae tot jou omgewing kan lewer.

Sy vrou, Judy, ondersteun ook die beginsel om betrokke te wees en ander te help waar moontlik.

Streeter hoop dat hul voorbeeld ander gemeenskappe sal aanmoedig om saam te werk wanneer probleme opduik. Hy meen mense hoef nie altyd te wag vir iemand anders om die eerste stap te neem nie.

“Ons moet almal probeer om betrokke te wees en ’n bydrae te lewer waar ons kan. Dit gaan nie altyd oor groot dinge nie. Soms kan ’n paar mense wat saamstaan, ’n werklike verskil maak,” sê hy.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button