Local news

Bejaardes van Zambezi-aftreeoord betoog vir verkeerslig

"Gedurende die afgelope twee maande was daar ses ongelukke in en om die uitgang. In twee gevalle is eienaars se voertuie só erg beskadig dat dit afgeskryf moes word.”

Meer as 60 bejaarde inwoners van die Zambezi-aftreeoord in Montana het onlangs betoog omdat hul geen reaksie kry op hul versoek vir ’n verkeerslig in Sefako Makgatho-rylaan (ou Zambezi-rylaan) nie.

Hulle glo dat die verkeerslig sal help met verkeersopeenhoping by ’n kruising en dit ook veiliger maak vir inwoners.

Raadslid Johan Krige het die optog begin.

“Die metro het ongeveer 18 maande gelede ’n verkeerseiland met strepe by die uitgang geverf. Dit was veronderstel om toegang te vergemaklik, maar dit was tevergeefs. Voertuie (en veral taxi’s) jaag eenvoudig deur die geel streep. Dit is veral hierdie onwettige gedrag wat ongelukke veroorsaak,” sê Krige.

“Deur die jare is vertoë sonder sukses aan die metro gerig om ’n verkeerslig te installeer. Daar is egter nog gereeld ongelukke en gedurende die afgelope twee maande was daar ses ongelukke in en om die uitgang. In twee gevalle is eienaars se voertuie só erg beskadig dat dit afgeskryf moes word.”

Krige sê die bejaardes wat nog kan bestuur is bang om by die oord uit te ry.

Meer as 60 inwoners het by die betoging aangesluit. Foto verskaf

Rekord het vroeër vanjaar berig dat ’n verkeerslig naby die oord in Montana by die kruising van 3e Laan en Dr Swanepoelstraat, Montana Gardens, opgerig gaan word – nadat dit 18 jaar gelede aangevra is.

DA-raadslid van wyk 5 Arnold van Niekerk sê ná jare se bakleiery en petisies om verkeer te laat reguleer deur ’n stel verkeersligte by dié kruising te gebruik, het rolspelers besluit om saam te werk en die versoek te ondersteun.

Inwoners van die oord het egter ’n toename in verkeersopeenhopings sedert die oprigting van die lig gesien en motors staan reg voor die ingang van die ouetehuis in toue, volgens Krige.

“Van die inwoners eis meer drastiese stappe binne die raamwerk van die wet. Ongelukkig lyk dit vir ons of protes die enigste ding is waarop die metro sal reageer. Ons betaal steeds belasting en het die reg om ernstig opgeneem te word.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button