Bakkies Botha rugby memorabilia verkoop vir duisende op HelpJag-veiling
Die geraamde wit broek met Botha se handtekening op is saam met foto’s van die wedstryd vir R50 000 opgeveil.
Legendariese oud-Springbok, Bakkies Botha se rugby memorabilia is vir duisende rande verkoop by ’n gholfdag wat Helpende Hand aangebied het om fondse vir hul voedingskema in te samel.
Die HelpJag-gholfdag is op 19 Oktober by die Centurion-gholflandgoed gehou en was propvol vierbalspanne wat die dag ten bate van liefdadigheid ondersteun het.
Vele mense het die dag ondersteun, insluitende bekendes soos Bakkies, Appel, Pieter Smit, Jay en Ricus Nel.
Die gholfdag is afgesluit met ’n veiling deur Hammie Wessels wat ’n totaal van R400 000 ingesamel is.
Die opbrengs gaan aangewend word vir die verwerking en verspreiding van kos en wildsvleis na 120 Afrikaanse skole landwyd wat sorg dat minstens 8 000 behoeftige kleuters elke dag ’n gebalanseerde bord kos kry.

Foto: Verskaf
Een van die gewildste items wat onder die hamer gekom het, was die amptelike Springbok-broek waarin Botha sy laaste toetswedstryd tussen die Springbokke en Engeland op 15 November 2014 op Twickenham in Londen gespeel het. Die Springbokke het die Engelse 31-28 geklop.
Die geraamde wit broek met Botha se handtekening op is saam met foto’s van die wedstryd vir R50 000 opgeveil.
’n Nommer vier Bulls-rugbytrui waarin Bakkies tydens die Curriebeker uitgedraf het, het byna R48 000 ingebring.
Botha se Springboktrui wat hy in sy laaste fotosessie voor sy laaste toets gedra het, is vir R70 000 opgeveil.
Werner Pretorius en Dewan den Haan, stigters en vennote van Arms & Wildlife, het verbete vir al drie dié memorabilia van Bakkies geveg en die hoogste botte gemaak.
“Ek is ’n Bakkies Botha-aanhanger, maar vir my gaan dit nie noodwendig oor die truie en die broek wat hy gedra het nie. Dit gaan meer oor wat Bakkies vir Suid-Afrika gedoen het en steeds doen,” het Pretorius na afloop van die veiling gesê.
“Soos wat Bakkies vir sy land gesweet het, so wil ons op ons manier ’n bydrae lewer.
“Ons wil hande vat en bydra tot die goeie doel waarvoor HelpJag staan,” het hy gesê.
“Om die projek geldelik te kan steun, is ’n voorreg. Dit is ’n voorreg om ’n verskil in ons kinders se lewe te kan maak,” het Pretorius gesê.
Botha sê dit was ’n ongelooflike aand.
“Ons is baie dankbaar dat die mense wat ons die vorige jare ondersteun het, teruggekom het en dat al hoe meer mense die saak begin ondersteun. Ons is dankbaar om saam te staan en sterker te word om hoop en kos vir ons kinders te gee. Só maak ons werklik ’n verskil daar buite,” sê Bakkies.
HelpJag is ’n inisiatief wat poog om Solidariteit Helpende Hand se voedingsprojek aan te vul en te sorg dat proteïene in die vorm van wildsvleis deel uitmaak van ’n voedsame bord kos.
Jagters word aangemoedig om bokke of wildsvleis vir Helpende Hand te skenk.
Helpende Hand betaal dan vir die verwerking daarvan voordat dit onder die hulpbehoewende skole in Afrikaanse gemeenskappe versprei word. HelpJag het oor die afgelope vyf jaar reeds meer as 140 ton wildsvleis ingesamel, verwerk en versprei.

Botha, Appel en Adam Tas is HelpJag se drie ambassadeurs.
“Ons poog gedurig om die publiek bewus te maak van die groot hongersnood onder ons land se kleuters en hoe jagters met barmhartige harte ’n bydrae tot liefdadigheid kan maak,” sê Margole Riekert, Helpende Hand se organiseerder van die HelpJag-projek.
“Elke koedoe kan ongeveer 40 kleuters vir ’n maand lank daagliks voed.
“En een gemsbok kan ’n hele maand lank daagliks vir 26 kleuters elk ’n bord kos gee.
“Selfs ’n springbok kan daagliks ses kleuters vir ’n maand lank van gesonde maaltye voorsien,” sê Riekert.
Riekert sê almal was dit eens dat dié gholfdag uit die boeke was.
“Regdeur die dag het mense vir ons kom sê die mense wat hier speel is net ander tipe mense.
“Die jaggemeenskap is lekker mense met oop harte.
“Ons is dankbaar vir elkeen wat aan die dag deelgeneem het, al die borge en elke jagter wat ons oor die afgelope vyf jaar op enige manier gehelp het om te kom waar ons vandag is,” sluit sy af.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
