Local news

Pierneef-skilderye kry nuwe tuiste by Voortrekkermonument

Die nuwe Pierneef-uitstalling is amptelik oop vir die publiek.

JH Pierneef is een van Suid-Afrika se mees bekende kunstenaars, en sy geliefde skilderye het ’n nuwe huis gekry by die Voortrekkermonument se Erfenissentrum op 25 Oktober.

Die skilderye was voorheen deel van Sonop koshuis se kunsversameling.

Sonop Christelike Tehuis, die tuiste van 160 manstudente van die Universteit van Pretoria, was van die eerse besoekers by die uitstalling.

In 1908 is die Universiteit van Pretoria (Tukkies) gestig en kort daarna het die NG Kerk Pretoria, oftewel die Bosmanstraat-kerk, ’n behoefte geïdentifiseer om goedkoop behuising vir die Tukkies-studente te verskaf.

In 1916, agt jaar na die stigting van die universiteit, word Sonop op 2 September gestig.

WP de Villiers, die eerste koshuisvader was in dié jare ook ’n lidmaat van die kerk en huisvriende met Pierneef wat later 14 van sy skilderye aan die koshuis verkoop het.

Dié 14 skilderye het vir jare in die gange van die koshuis gehang tot dit aan die Pretoria se Kunsmuseum geleen is om ’n veiliger tuiste daarvoor te kry.

Jaco Cilliers, bestuurder van erfenisbewaring by die Erfenisstigting sê hy is baie opgewonde om die nuwe uitstalling by die VTM te kan huisves.

“Een van die stigting se kernfunksies is om saam met ander organisasies te werk om Afrikaner-erfenis vir die nageslag te bewaar.

“Daarom is dit vir die stigting ’n groot voorreg om hierdie ooreenkoms met Sonop Christelike Manskoshuis te sluit en ’n veilige tuiste vir die Sonop Pierneef-versameling te kan bied,” vertel hy.

Tonie Viljoen, uitvoerende koshuishoof van die Sonop-raad, het Cilliers se woorde geëggo en vertel dat hy trots is om hierdie trotse deel van dié koshuis se geskiedenis met die VTM te kan deel.

“Die geskiedenis van ons koshuis is fyn deurweef met die geskiedenis van Tukkies, die NG Kerk én Pierneef,” het hy vertel.

“Toe die koshuis aanvanklik besluit het om te belê in 14 Pierneef-skilderye, glo ek sou niemand kon raai dat dié versameling so ’n lang reis saam met die koshuis en sy lede sou meemaak nie. Maar hier staan ons vandag, steeds trots op die ryk geskiedenis van ons koshuis en die skilderye.”

Viljoen het voorts vertel dat die Sonop Pierneef-versameling vir hom ’n storie van waagmoed vertel en daarom vind hy en die ander Sonoppers steeds inspirasie daarin.

“Die eerste ding wat my bygeval het van Pierneef se werk is die waagmoed en eksperimentasie waarmee hy sy unieke kunswerke geskep het,” het hy vertel.

“Dit is amper soos ’n jong student wat met waagmoed ’n nuwe hoofstuk van die lewe betree.”

Die nuwe Pierneef-uitstalling is amptelik oop vir die publiek en besoekers aan die monument word aangemoedig om dié unieke versameling te kom besigtig.

LEES MEER: Water pipes in the north will receive much needed attention

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button