Local news

Nuwe saamrytoere by die Voortrekkermonument

Twee gholfkarretjies ter waarde van R350 000 is aan die monument geskenk. Dit sal aangewend word om toeriste aan die VTM op ’n buitelugtoer in en om die monumentterrein te neem.

Besoekers aan die Voortrekkermonument kan uitsien na opwindende nuwe saamrytoere.

Hierdie nuwe toere is moontlik gemaak danksy ’n skenking van twee nuwe gholfkarretjies wat die monument sal gebruik om die toer-ervaring van die monument nog meer opwindend te maak.

Mobi G-gholfkarre en die Komati-groep het vanjaar hande gevat en dié twee elektriese gholfkarretjies ter waarde van om en by R350 000 aan die VTM geskenk.

Dié eg Suid-Afrikaanse gholfkarretjies sal aangewend word om toeriste aan die monument op ’n buitelugtoer in en om die monumentterrein te neem.

Danie Langner, besturende direkteur van die monument sê hy is baie opgewonde oor die skenking.

“Ons is baie dankbaar vir die skenking van ons twee nuwe ‘ossewaens’,” vertel hy.

“Mense is reeds baie opgewonde oor die nuwe toevoeging tot die monument se kultuuraanbod en mense staan reeds tou om ’n toer deur die geskiedenis op hierdie karretjies mee te maak.”

Mobi G is die enigste plaaslik vervaardigde gholfkarreeks in die land en volgens Chris Swanepoel, nasionale verkoopsbestuurder, is dit ’n groot eer om te sien dat hul eg-Suid-Afrikaanse produk ’n tuiste by die VTM kon vind.

Albei besighede stem saam dat dit van kardinale belang is om seker te maak dat die geskiedenis van die monument voortleef en het daarom besluit om hierdie skenking te maak.

“Ek dink baie mense wil graag deel hê aan die sukses van die monument en dit is vir ons ’n eer om saam met die monument die geskiedenis uit te bou en lewendig te hou,” het Milaan Thalwitzer, voorsitter van die Komati-groep gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button