VLU-Vroue wil die natuur bewaar
’n Groep VLU-vroue het besluit om die boomplantprojek aan te pak en het onlangs ’n nuwe boom op die terrein van die Voortrekker Monument geplant.
Die Vroue-Landbou-unie (VLU) het deur die jare al baie gedoen om uit te reik na hul gemeenskap, en het onlangs besluit om op die bewaring van die natuur te fokus.
VLU het ontstaan in 1925 uit ’n behoefte by vroue om hulself op te hef en ’n bydrae tot die gesin te lewer – die VLU was in daardie jare gesien as die “universiteit van die vrou”.
Hulle doen ook gereeld gemeenskapswerk vir minderbevoorregte kinders en bejaardes in tehuise.
Vandag is dit een van die grootste organisasies in die land wat deur verskeie projekte hul gemeenskappe ophef.
’n Groep VLU-vroue van die Willie Hamman-tak in Groblersdal het op 28 Oktober besoek kom aflê by die Voortrekkermonument om ’n nuwe boom te plant op die VTM-terrein en sodoende die gemeenskap te herinner aan die belangrikheid van natuurbewaring.
Saartjie Hessels, ’n verteenwoordiger van dié tak, het tydens hul besoek gesê dat dit vir hulle as groep belangrik is om mense te inspireer om ’n verskil te maak in hul gemeenskappe en daarom het hulle besluit om dié boomplantprojek aan te pak.
“Ons wil baie graag hê dat ons pogings ander mense sal inspireer om hulle moue op te rol in en om hul gemeenskappe.
“Met hierdie projek het ons ook besluit om bome te skenk aan die Broodboomtrust en ons hoop dat ander mense in ons voetspore sal wil volg,” het sy vertel.
“Ons wil graag ander VLU-takke, organisasies regoor die land én individue uitdaag om te kyk na hul gemeenskappe.
“Vind meer uit oor organisasies soos die Broodboomtrust, rol jou moue op en maak ’n verskil.”
Die doelwitte van die VLU is soos volg:
– Om die vrou se kennis te verbeter.
– Om haar eie talente te ontdek en te ontwikkel.
– Om haar uitkyk op die lewe te verruim.
– Om te volhard tot sy wen, maar ook om ’n gelukkige verloorder te wees.
– Om van haar ’n beter vrou en moeder sowel as opvoeder van haar kinders te maak.
– Om haar mensekennis te verruim.
– Om haar ingeboude minderwaardigheid te omskep in ’n gevoel an eiewaarde.
– Om haar vriendekring uit te brei.
– Laastens, maar glad nie die minste nie, om sorge te vergeet en aangenaam en gesellig te kan ontspan en dan ’n geurige koppie tee saam te geniet.
Die VLU vra dat meer vroue by hulle aansluit.
Die wat belang stel kan vir Hannetjie Koekemoer skakel op 084 441 4892 of Alda Coetzer op 082 326 0265.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
