Local news

Retief en Maritz skiet wortel in dié historiese Trekroetetuin

“Dit is ’n voorreg om ons geskiedenis van die Groot Trek lewendig en aktueel te kan maak vir al ons besoekers.”

Die Voortrekkermonument se Historiese Trekroetetuin is verder uitgebrei met die toevoeging van beeldjies van Piet Retief en Gerrit Maritz voor die Geloftekerk, op die herdenking van Retief se geboortedag, 12 November 1780.

Model replikas van hierdie twee beelde is in die Trekroetetuin onthul, met nasate van beide Retief en Maritz wat die verrigtinge bygewoon het.

Monica Cliff en Karen Botha, afstammelinge van Gustav Preller en Debora Retief, het tydens die geleentheid staaltjies van hul bekende voorsate gedeel en dié twee kleinniggies was dit eens dat dit ’n eer is om te weet hul familieverhaal word ook nou by die monument vertel.

“Dit is wonderlik om te kan sien dat soveel meer mense nou toegang het tot die verhale uit ons land se geskiedenis en hier deur die geskiedenis kan reis om meer te leer van die mense wat ons land en ons toekoms vir ons gebou het,” het Cliff verduidelik.

Lede van die Maritz-familie het ook al die pad van Memel, in die Oos-Vrystaat, kom kuier om dié besonderse geleentheid by te woon en volgens Gerrit, wat sy oupagrootjie se genant is, is dit wonderlik om mense, veral jong mense weer te kan blootstel aan helde soos Gerrit Maritz en Piet Retief.

“Dit is belangrik om te weet waar mens vandaan kom,” het hy gesê.

“Hier staan ek nou, Gerhardus Marthinus Maritz, saam met my oudste seun wat ook dié name het en ek kan met hom en my ander kinders die stories uit ons geskiedenis deel.

“Dit is ’n wonderlike vooruitsig om te weet hulle gaan ook eendag dié verhale ken en kan oorvertel.”

Maritz was ’n buitengewoon gerespekteerde leier, veral omdat hy in die tyd van die trekkers se grootste nood hul ankerfiguur was. Maritz het alles feil gehad vir sy volk en het vir hulle ’n toekomsvisie in die “beloofde land” gehad.

“Graag het ek die bloei van my volk gesien, maar dit is my nie gegee nie.

“My raad aan julle is: wees getrou aan die Heer, en getrou aan julle owerheid.

“Hoe moeilik dit ook lyk, julle sal die opbloei van ons volk seker aanskou in hierdie veelbelowende land.” Só het die Groot Trek-leier Gerrit Maritz die Voortrekkerwese perfek verwoord voor hy op 23 September 1838 sy laaste asem uitgeblaas het.

Op 16 Desember 1970 is ’n beeld van Maritz, deur beeldhouer Jo Roos onthul by die Voortrekkerkerk (Nederduits Gereformeerde Gemeente van Pietermaritzburg), Kerkstraat 340.

Agt jaar vantevore, op 6 April 1962, is Piet Retief ook verewig in ’n beeld deur Coert Steynberg. Die beeld toon Retief as siener en idealis met die blik op die toekoms.

“Dit staan aan die onderkant van die ou Markplein, byna 20m van die straat af en kyk in Kerkstraat af sodat dit nie dalk later teen enige toekomstige hoë geboue sou vaskyk nie.”

Vandag 60 jaar later is ’n miniatuur replika van die beeld deur die beeldhouer Jaco van Niekerk bekendgestel, en volgens Barry Müller, wat dié projek gekoördineer het, is dit belangrik om hierdie en ander helde te onthou vir hul bydraes.

“Vir die 242e verjaarsdag van Piet Retief, wat gebore is op 12 November 1780, het ons besluit om die Trekroetetuin hier by die VTM nog uit te brei met die twee beelde en ook so weer hulde te bring aan ons helde,” het hy vertel.

“Besoekers aan die monument kan hier meer leer oor die geskiedenis en ook die geleentheid kry om die ‘klein voorstellings’ te sien van die werklike beelde wat nog steeds voor die Geloftekerk in Pietermaritzburg staan, en opnuut besef hoe ’n belangrike deel dié mense tot ons geskiedenis is.

“Dit is ’n voorreg om ons landswye geskiedenis van die Groot Trek lewendig en aktueel te kan maak vir al ons besoekers.

“Baie mense sal nooit die geleentheid in hulle lewe kry om die regte standbeelde te kan beleef of om selfs in die spore van die Trekkerleiers te kan loop en te kan leer van die ware gebeure wat tydens die Groot Trek plaasgevind het nie. Die Trekroetetuin skep daardie geleentheid,” het hy afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button