Local news

‘Die Eindste’ terug in die kollig met nuwe enkelsnit

Die lied gaan oor ’n nuwe begin en veranderinge wat in die lewe plaasvind.

Sedert die vrystelling van hul debuut-album Grys aan die einde van verlede jaar het die Pretoria-rockgroep, Die Eindste, van krag tot krag gegaan.

Nie net het hulle eerste twee enkelsnitte speeltyd op verskeie groot radiostasies gekry nie, maar hulle musiekvideo is ook baie goed ontvang.

Nou is dié groep talentvolle manne terug in die kollig met ’n splinternuwe enkelsnit wat net so opwindend is soos die nuwe begin waarvan hulle sing.

“Jy Was Net Beter” is ’n alternatiewe rocksnit, uit die pen van hulle voorsanger André Faurie, met ’n akoestiese folk-aanslag wat deur Ruan Pieterse, Ian Putter, André Faurie en Markus Roland Els opgetower is en deur Markus Els van Mark7Studios vervaardig is.

“Die lied gaan oor ’n nuwe begin en veranderinge wat in die lewe plaasvind.

“Seisoene word gebruik om hierdie veranderinge aan te dui en daar word ook klem gelê op ’n nuwe begin met iemand in die skrywer se lewe,” verduidelik die groep.

“Ons dink mense gaan hou van die vermenging tussen nuwe akoestiese folk-klanke en ons kenmerkende alternatiewe rock-aanslag.”

Die Eindste, waarvan die naam uit ’n gesprek tussen die groeplede ontstaan het, is in 2019 gestig toe ’n groep skoolvriende (André Faurie, Ruan Pieterse en Ian Putter) besluit het om saam musiek te maak as gevolg van hulle gedeelde passie vir Afrikaanse musiek waarby luisteraars kan aanklank vind.

Die groep het nog baie planne en drome vir die toekoms en tree tans soveel as wat hulle kan op.

Hulle beplan ook om nog meer nuwe musiek vry te stel en werk aan ’n paar nuwe en opwindende projekte.

Om musiek en videos te maak waarmee luisteraars kan vereenselwig, is vir Die Eindste baie belangrik en met hul nuutste vrystelling kry hulle dit beslis reg om op ’n treffende manier hul boodskap oor te dra.

“Ons, as groep, werk altyd hard om iets nuut aan te pak wanneer ons musiek skryf. Met hierdie lied het ons probeer om elemente van verskeie genres in te sluit, met ’n brug aan die einde wat baie anders is as die res van die gevoel van die liedjie en hoop mense sal die uniekheid daarvan waardeer,” sluit hulle af.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button