Local news

Staande ovasie vir klassieke instrumentale drietal

Ockie Vermeulen, Lizelle le Roux en Charles du Plessis het vir genotvolle musiek op Sondag gesorg. Wat nie net die ore nie maar ook die siel streel.

Kersfees met Ockie Vermeulen en vriende by die Afrikaanse Hoër Seunskool het met die bekende klanke van “Adeste Fideles”, tesame met ander bekende Kersklanke, begin.

Saam met Ockie was violis Lizelle le Roux en pianis Charl du Plessis op die verhoog. Dit was van die begin af duidelik dat dit ’n goue samestelling van instrumentale genot was wat op die gehoor gewag het.

Pretoria kan trots wees op die professionele vlak van sy klassieke kunstenaars. Dit was ook duidelik. In die voorkonsert het gr10 leerder Heinrich Diedericks op saksofoon, begelei deur Engeli le Roux, ‘n smakie van wat wag, vir die gehoor gegee.

Maar benewens die meesterlike verwerkings van ou en nuwer Kersfeesliedere het die pittige kwinkslae van al drie die gehoor vermaak.

Soos Ockie sê: “Wat is nou lekkerder as die klank van munte so saam met die gebeier van klokke?” Met verwysing na die liedjies wat jaar na jaar die winkels se hysbakke volklink. “Ja,” het hy verduidelik, “dit was eintlik Elvis wat die weg gebaan het vir jaarlikse verkoop van nuwe Kersmusiek”.

Gelukkig, volgens Ockie, kan ons darem instrumentale musiek van enige taal geniet. “‘Stille nag’ in Duits kan ons Afrikaanse gehore darem verstaan,” het hy verder geskerts.

Le Roux se spel was die meesterlik en het die gehoor in vervoering gelaat: van verwagte Kersliedere, tot by “White Christmas”, “Somerkersfees” en Wham! se “Last Christmas”.

Charl du Plessis, wat onlangs ’n Aardklop-toekenning ontvang het vir Klassieke Pianis, het geskitter met sy jazz-weergawe van “Jingle Bells”.

Eweneens het die gehoor geskater toe Charl verduidelik dat elke sopraan (of wannabe-sopraan) se jaarlikse uitreik na die hoogtes van “O Holy night”, geboue se toilette laat spoel wanneer die hoë note gevat, of amper gevat, word.

Die gehoor het elke lied met waardering begroet. Die staande ovasie aan die einde was bewys van die gehalte van die musiek, die samestelling daarvan en die oorhoofse genot wat die gehoor ervaar het.

En toe volg die finale pièce de résistance: Handl se “Halleluja-koor.” Ockie se meestelike orrelspel het die siel weggevoer.

Hopelik gaan daar in die toekoms meer van hierdie drietal gehoor word. En hoef ons dalk nie ’n jaar te wag tot die volgende konsert nie.

LEES MEER: ‘Die Eindste’ terug in die kollig met nuwe enkelsnit

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button