Local news

Teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Swartkop

"Leerders word ook geleer hoe om tussen afknouery en konflik te onderskei."

AfirForum se teenboelieveldtogspan bly toegewyd om kinders in te lig oor boeliegedrag.

Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

Die span het op 20 Januarie Laerskool Swartkop in Centurion besoek.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net vir nou nie, maar ook vir die toekoms.

“Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word met die nodige kennis en vaardighede toegerus om as ’n leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind – om boeliebestand te wees.

“Leerders word ook geleer hoe om tussen afknouery en konflik te onderskei,” sê sy.

“Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig en hulle meer oor die gevare oor kuberafknouery in te lig.”

Sy verduidelik die sukses van die teenboelieveldtogspan in skole reg oor die land.

“Ons het reeds byna 200 skole, 120 000 leerders, 6 000 onderwysers en 2 000 ouers reg oor die land oor afknouery, asook die impak daarvan toegespreek.

“Deur dié praatjies skep ons hoop en bring ons bewusmaking van afknouery na skole sowel as gemeenskappe.

“Ons verskaf die nodige kundigheid om afknouery stop te sit,” sluit Bräsler af.

Elria Geerlings, waarnemende hoof by die Laerskool Swartkop sê dit is baie belangrik vir skoolkinders om bewus te wees van boeliegedrag.

“Dit is vir Laerskool Swartkop belangrik dat ons as skool aandag aan boeliebewusmakingsveldtogte skenk, sodat leerders boeliegedrag kan identifiseer, en leer hoe om hulself in konfliksituasies te posisioneer.

“Hulle moet bewus gemaak word van watter woorde en aksies tot hulle beskikking is om hulself op ’n gepaste wyse te laat geld, sodat dit tot harmonie kan lei.

“Die einddoel vir Laerskool Swartkop se leerders sal wees om hulself positief te posisioneer, sodat hulle elke Swarrie waarde met trots kan uitleef.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button