EntertainmentLocal news

Minder as twee maande oor tot Theuns Jordaan huldeblykkonsert

Topname in Afrikaanse musiek sal deelneem in die huldeblyk aan die legendariese kunstenaar.

Daar is minder as twee maande oor voordat van die topname in Afrikaanse musiek einde Maart op Loftus Versfeld toesak vir ’n spesiale huldigingskonsert vir die legendariese sanger Theuns Jordaan.

Een van die deelneemers, Dozi, sê hy sien uit na die konsert. “Ons gan hom baie mis, hy was ’n groot pel gewees, en ’n dierbare vriend,” sê die bekroonde kunstenaar.

Jordaan, wat 50 was, het sy stryd teen kanker verloor en is op November 17, 2021 oorlede. Leukemie is in 2020 by hom gediagnoseer.

Bok van Blerk, wat ook een van die bekende kunstenaars is wat aan die huldeblyk deelneem, sê: “Ek sien verskriklik uit om die dag met julle te deel. Nie net dit nie, maar ook hulde te bring aan ’n groot vriend van my van al die jare, en ook natuurlik ’n groot boom in die musiekbedryf wat geval het.”

Van Blerk sê dit is ’n eer om hulde te bring aan hierdie reus in die Afrikaanse musiekbedryf, en om die goeie herinneringe wat hy met Jordaan gedeel het, te onthou.

“Ek dink dit gaan ’n emosioniele dag wees om daar op die verhoog te klim en hulde te bring aan hom,” sê Van Blerk.

Van Blerk sê dat hy steeds Jordaan se stem in sy agterkop hoor, van die tye wat hulle saamgewerk het soos by Afrikaans is Groot en Skouspel, en dat hy baie lief is vir hierdie herinneringe wat hom laat lag.

“Theuns het altyd gesê ‘nee man, trek daai hemp aan of daai. ’n Man moet altyd netjies lyk.’ Theuns was altyd netjies, jy kon hom deur ’n ring trek. Ek het vir myself so gelag toe ek sy stem hoor toe ek daar aantrek in die kleedkamer, hy’t altyd seker gemaak sy vriende, almal lyk ook mooi voordat hulle op die verhoog gaan.”

Ray Dylan sê dit was ’n voorreg om genooi te word om Jordaan te vereer. “Soos menigte ander kunstenaars was ons baie na aan mekaar. Theuns, jy lewe vir altyd in ons harte my vriend, ek weet jy sal die 25e Maart saam met ons daai stage raak. Ek sien jou daar.”

Jay het ook gepraat oor die gaping wat Jordaan se dood in die musiekbedryf gelaat het. “Met oubaas wat baie diep spore in my lewe getrap het, is dit n ongelooflike groot voorreg om deel te kon wees in die konsert.”

Die konsert vind op 25 Maart op Loftus Versveld plaas met 12 van die bekendste Afrikaanse sangers wat saamtrek om die lewe en bydraes van die ikoniese Theuns Jordaan te vereer.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button