Wouter van de Venter nuwe enkelsnit ‘n liefdesverhaal
Wouter vertel dat die lied sy oorsprong het te danke het aan hul hond, Stella.
Legendariese Afrikaanse sanger Wouter van de Venter stel sy nuwe enkelsnit, Stella Voor vry.
Stella Voor is ’n sinspeling op die woorde “stel haar voor” en vertel die verhaal van ’n liefdesoeker wat eensaam op ’n kusdorp woon.
Dit is hier waar ’n nooi sy oog vang, maar hy glo dat hy, helaas, nooit met haar kennis kan maak nie.
Die liefdesoeker se lot verander een aand toe sy vriend sê dat hy sy niggie saam gaan bring na die watergat op die dorp.
Die niggie heet “Stella” en hy gryp die geleentheid aan deur grappenderwys aan sy vriend te sê: “Waarvoor wag jy? Stella Voor!”
Wouter vertel dat die lied sy oorsprong het te danke het aan hul hond, Stella.
Die idee vir Stella Voor het juis posgevat toe ’n goeie vriend by hom gekuier het en skertsend gesê het: “Stella, wel Stella Voor!”
Soos met sy vorige musiek skroom Wouter nie om met fyn deurdagte lirieke stories te vertel nie.
Stella Voor is eg aan Wouter se musiekstyl.
Luisteraars wat reeds lief vir sy musiek is, sal hierdie lied verwelkom.
Aanhangers kan ook uitsien na die musiekvideo vir Stella Voor.
Dit vertel die storie wat in die lied afspeel en is verfilm by Die Watergat op Langebaan.
Die konseptualisering, teks, regie en vervaardiging van die video is deur Wouter self behartig.
Wouter beskryf die vervaardigingsproses as senutergend, aangesien hy moes bontstaan as musikant, vervaardiger, regisseur en akteur.
As jy vir hom vra wat die lekkerste van die proses was, antwoord hy: “Daai brandewyn en Coke wat jy drink sodra die hele storie klaar geskiet is.”
Wouter het reeds groot bekendheid met sy musiek verwerf en beskryf sy vrou as sy grootste inspirasie, alhoewel hy ook inspirasie kry by musieklegendes soos Sting, Koos Kombuis en Anton Goosen.
Ná 30 jaar in die musiekbedryf spog Wouter met ’n reeks treffers, soos As Die Hippies Begin Dans, My Bok en Sonneblom.
Wanneer Wouter nie besig met sy eie musiek is nie, vervaardig hy talle ander kunstenaars se albums in sy studio (Weskus Studios).
Tans is hy druk besig met Armand Steenkamp se nuwe album wat binnekort die lig gaan sien.
Wouter, ’n boorling van Gqeberha (Port-Elizabeth), se talente is deur Jannie du Toit ontdek wat hom ook gehelp het om sy eerste twee albums (Voel Vere en Donkerkant) uit te reik.
Danksy Jannie du Toit het hy kennis gemaak met wyle Christa Steyn saam met wie hy vir jare lank ’n studio bedryf het.
Alhoewel Wouter al ’n geruime tyd in die bedryf is, is hierdie maar net die begin.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
