SOS-skenking aan Helpende Hand ‘vul groot leemte’
“Die uitdaging was egter dat daar nie genoeg rekenaars vir al ons leerlinge by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) was nie."
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het hierdie week sewe rekenaars aan Solidariteit Helpende Hand se gemeenskapsprojek, Ons Plek, oorhandig.
Hierdie skenking is om aan 230 leerders by Ons Plek-naskoolsentrums toegang te gee tot hoë-kwaliteit Afrikaanse onderrig deur middel van Die Wolkskool se duisende kort videolesse, assesserings, werkboeke en werkkaarte.
Met die rekenaars sal leerders boonop die internet kan gebruik en kan hulle voordeel trek uit die vele ander opvoedkundige hulpbronne wat daar beskikbaar is.
Dié skenking is ’n belangrike bydrae tot die voortgesette sukses van Ons Plek as ’n opvoedkundige gemeenskapsprojek, wat kinders van alle agtergronde in Afrikaanse kultuurgemeenskappe dien.
Suzette Oosthuizen, Helpende Hand se hoof van sentrums en nasionale takke, het die skenking verwelkom.
“Hierdie inisiatief is weereens ’n bewys dat verskillende instellings in die Solidariteit Beweging, elk met hul unieke sterkpunte, saamspan om daadwerklik ’n verskil in gemeenskappe te maak.
“Een van Ons Plek se hoogtepunte is die SOS se Wolkskool waarop ons naskoolleerlinge kon registreer en hul prestasie merkbaar kon verbeter,” sê Oosthuizen.
“Die uitdaging was egter dat daar nie genoeg rekenaars vir al ons 229 leerlinge by die ses Helpende Hand se Ons Plek beskikbaar was nie.
“Ons is opreg dankbaar oor die rekenaars wat vandag aan ons geskenk is om hierdie leemte te vul. Vir ons kinders is dit lewensveranderend, skep dit hoop en maak dit leer makliker.”
Volgens Oosthuizen is ontwikkeling, opleiding en opvoeding vir Helpende Hand noodsaaklik om oor die langtermyn voorspoed in gemeenskappe te verseker.
“Met die nodige wegspring en ondersteuning op skoolvlak, word elkeen se potensiaal volgens sy vermoë ontwikkel en ’n deur word oopgemaak na verdere kwalifikasies, wat lei tot ’n eerbare werk en ’n nodige bydrae tot elkeen in sy eie gemeenskap,” sê sy.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
