Unieke landmerk nou silwerskoon na gemeenskap inspring
Die Tom Jenkins Pas is deur Italiaanse krygsgevangenes tydens die Tweede Wêreldoorlog gebou en is belangrik vir die land se geskiedenis.

Die Moot Projek-span het verlede week die enorme taak aangegryp om ’n unieke landmerk in die stad skoon te maak.
Die Tom Jenkins pas het ’n besondere geskiedenis agter die rug en maak dit dus uniek en belangrik vir Pretoria.
Hierdie pas is deur Italiaanse krygsgevangenes tydens die Tweede Wêreldoorlog gebou.
Die veldslae van Noord-Afrika tydens die Tweede Wêreldoorlog het 93 000 Italiaanse krygsgevangenes na Suid-Afrika gebring.
Hierdie manne was in krygsgevangenekampe regoor die land gestasioneer.
Die pas is ook die tuiste van sy eie jaarlikse hardloopbyeenkoms genaamd die Tom Jenkins Challenge wat naby die Uniegebou eindig.
Die Moot Projek-span het ook die brug in Fratesweg skoon gemaak nadat hulle hom oorgeverf het.
Dié projek het veel meer behels as om bloot ’n verfkwas en ’n blikkie verf te gryp.

Oor ’n tydperk van etlike maande het die Moot Projek-span die volgende bemag:
– Die gebied se geskiedenis nagevors.
– Suid-Afrikaanse kunstenaars se werk as ’n bron van inspirasie ondersoek.
– Voorbereiding om brug te herstel soos om gate en krake te vul en stukkende areas te herstel.
– Die skoonmaak van die brug, wat ’n enorme taak was.
– Die brug geverf in die warm son.

AfriForum se Groter Moot-tak se buurtspanne is ook al lank betrokke in die area.
Hulle fokus veral op areas rondom die Moot-spruit.
“Sluipslapers het bosse oorgeneem en gebruik dit vir toilette.
“Asblikgrawers doen sorteerwerk daarbinne en los dan hope rommel agter,” verduidelik Andries Opperman, buurtbeampte vir AfriForum Groter-Moot.
“Onwettige grondgrype vind ook dwarsdeur die Moot in die spruite plaas.
“Min of geen bywette word toegepas deur die metropolisie nie,” sê hy.
Opperman sê hulle bly toegewyd om soveel as moontlik in die area te doen.
“Ongelukkig is daar inwoners en hul kontrakteurs ook besig om die spruite te vernietig deur onwettige storting van bourommel.
“Dit is natuurlik ook ’n direkte uitvloeisel van die stadsraad wat nie veiligheid kan verseker by stortingsterreine nie.
Sedert April 2019 hou AfriForum Groter Moot deurlopend en gereelde gemeenskap spruitskoonmaak-aksies in die Moot.
“Dit is intussen ook aangevul deur duisende ure se werk deur die buurtspan wat die tak aangestel het.
“Die AfriForum Groter Moot buurtwag patrolleer ook gereeld die spruite en het al by verskeie geleenthede daggaplantasies verwyder.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
