Basiese opvoeding noodsaaklik vir Moot-spruit se bewaring
“As ons die mense van ’n jong ouderdom af kan leer oor die belangrikheid van die natuur en die omgewing en hoe hulle dit kan beskerm, sal ons ’n toekoms hê,” reken ’n inwoner.
Inwoners en raadslede is bekommerd oor die toestand van die Moot-spruit en die gevolge wat dit vir die toekoms inhou.
Ten spyte van om dadelik iets daaraan te doen, is die metro se finansies beroerd, veral met die onlangse begrotingskwessies.
Die totale begroting van R44.9-miljard bestaan uit ’n bedryfsbegroting van R42.1-miljard en ’n kapitaal-infrastruktuur beleggingsbegroting van R2.8-miljard.
Die metro het beloof dat meeste van die begroting aan infrastruktuur en dienslewering sal gaan, maar nie al die politieke partye stem saam nie.
Raadslid Mari Joubert sê die geskilpunte rondom die begroting het hul planne op die lange baan geskuif.
Die lang gras en onkruid in die omliggende omgewing van die spruit is die eerste prioriteit op die oomblik, verduidelik Joubert.
“Ons hande is afgekap selfs al wil ons graag die inwoners help.
“Begrotingskwessies is die grootste probleem en ons het net twee trekkers om die hele area rondom die spruit te diens.”
Gemeenskapsbetrokkenheid en hulp maak egter ’n groot verskil in hierdie situasie.
AfriForum en ander besorgde gemeenskapslede werk saam om die gras en onkruid te sny.
AfriForum se Groter Moot-buurtspanne maak gereeld die strate van die Moot netjies en het ook al die gras rondom die spruit gesny.
“Ons kan hulle nie genoeg bedank nie,” sê Joubert.
“Hulle kom werk heeldag in die warm son met hul rantsnyers.
“Hulle het die werk afgehandel en is ons is baie dankbaar vir wat hulle vir ons doen.”
Volgens Joubert is daar ’n paar sluipslapers wat in die aande rondom die spruit slaap.
“Daar is ’n man wat al vir ’n geruime tyd daar is en hy wil nie vir ons luister nie.
“Ons weet ook van ’n paartjie wat elke aand hul tent daar opslaan wat die situasie bemoeilik.”
Joubert sê hulle het al herhaaldelik vir die sluipslapers gesê hul mag nie langs die spruit woon nie, maar hulle weier om te luister en kom altyd terug.
Besoedeling en vullisstorting is ook alewig ’n probleem.
Joubert sê hulle het onlangs op boumateriaal afgekom wat by die spruit in 22e Laan gestort is.
Inwoner Stephen Sutherland is ontsteld oor die aaklige toestand van die spruit.
Sutherland beweer dat ’n gebrek aan opvoeding deel van die probleem is.
“Inwoners is nie bewus van hoe belangrik die spruit vir die plaaslike ekosisteem is nie,” sê hy.
“Sonder hierdie spruit sal die hele ekosisteem nie kan oorleef nie en dit sal ’n ramp vir ons almal inhou.”
Sutherland glo dat ’n basiese opvoedingstelsel die grootste invloed sal hê en volhoubaar wees om die spruit te beskerm.
“As ons die mense van ’n jong ouderdom af kan leer oor die belangrikheid van die natuur en die omgewing en hoe hulle dit kan beskerm, sal ons ’n toekoms hê.”
Intussen vra Joubert inwoners om geduldig te wees met die metro om hul sake in orde te kry om die probleme by die spruit aan te spreek.
Joubert moedig ook inwoners aan om by AfriForum of die Moot-projek en ander organisasies wat self ingryp, betrokke te raak.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
