Local news

Tien benoemings vir plaaslike teaterproduksie ‘Die Gelofte’

“Dit is ’n ongelooflike prestasie om in soveel kategorieë genomineer te wees," sê Carien Bloem, teaterbestuurder van AfriForum Teater.

Op 27 Maart het teaterliefhebbers Wêreld Teaterdag gevier en is op ’n hoogtepunt afgesluit toe die Naledi-teatertoekennings vir 2022 bekendgemaak is.

Benoemings vir Die Gelofte: ’n musiekblyspel was oorheersend met tien benoemings in verskeie kategorieë.

Die Gelofte is in 2022 by die AfriForum Teater aangebied oor ’n speelvak van ses weke.

Dié musiekblyspel is ’n AfriForum-produksie wat in samewerking met Inhoud Huis Musiek aangebied is.

Musiek en lirieke is deur Johan Vorster en Jacomien de Villiers behartig met Francois Lessing aan die stuur van orkestrasie terwyl die teks en regie deur Jannes Erasmus hanteer is.

Hierdie uitnemende span is ook vir die 2023-musiekblyspel, Die Kaplyn verantwoordelik wat vanaf 26 April by AfriForum Teater op die planke sal wees.

“Die Gelofte het vir duisende mense wat dit kom kyk het ongelooflik baie beteken.

“Teater het die vermoë om grense te verskuif of selfs oor te steek,” sê Vorster.

“Ek en Jacomien is dankbaar vir die lang lys nominasies wat Die Gelofte by vanjaar se Naledi-teatertoekennings ontvang het.

“Ons is vasberade om Die Kaplyn: ’n musiekblyspel op dieselfde hoë standaard saam met AfriForum en AfriForum Teater in April vanjaar bekend te stel,” sê Vorster.

“Hierdie nominasies gee erkenning aan die feit dat Die Gelofte ’n uitstekende musiekblyspel is en dat diegene wat betrokke was hul puik van hul taak gekwyt het.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê “Dit is bevredigend om te weet dat AfriForum deur AfriForum Teater ’n platform vir uitnemende kuns in Afrikaans bied”.

AfriForum Teater is trots daarop om dié tuiskomplek te wees vir produksies wat deur Naledi-teatertoekennings erken word.

“Dit is ’n ongelooflike prestasie om in soveel kategorieë genomineer te wees,” sê Carien Bloem, teaterbestuurder van AfriForum Teater.

“Ons is dankbaar dat AfriForum, AfriForum Teater en Inhoud Huis Musiek hande kon vat om hierdie ongelooflike musiekblyspel ’n werklikheid te maak.

“Ons beskou dit as nog ’n hoogtepunt op die kerfstok van Die Gelofte.”

Die benoemings vir Die Gelofte:

– Beste deurbraakoptrede: Jordan Human

– Beste oorspronklike komposisie en/of musiekverwerking: Johan Vorster en Jacomien de Wet

– Beste musiekregisseur: Francois Lessing

– Beste klankontwerp: Pieter-Louis van Twisk

– Beste regisseur van ’n musiekteaterproduksie: Jannes Erasmus

– Beste ondersteunende vertolking in ’n musiekteaterproduksie (vroulik): Zoricke Snyman

– Beste ondersteunende vertolking in ’n musiekteaterproduksie (manlik): Eddie de Jager

– Beste hoofrolvertolking in ’n musiekteaterproduksie (vroulik): Bernice West

– Beste hoofrolvertolking in ’n musiekteaterproduksie (manlik): Johan Vorster

– Beste musiekblyspel- of musiekteaterproduksie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button