Local news

Militêre fees lok duisende

“Die PPM-fees is ’n herinnering van ons ryk militêre geskiedenis,” sê voorsitter Generaal-majoor Lawrence Smith.

Duisende besoekers het die afgelope langnaweek, op 1 Mei, by die Voortrekkermonument kom kuier om die langverwagte Pro Patria Militêre Fees (PPM-fees) by te woon.

Die PPM-fees is verlede jaar vir die eerste keer by die monument aangebied en vanjaar was dié fees nog groter en beter met besoekers wat van regoor die land daar kom kuier het.

Foto: Verskaf

Generaal-majoor Lawrence Smith, PPM-voorsitter, sê hy is baie dankbaar vir die groot opkoms by vanjaar se fees en sê dat dit weereens bewys dat die mense van Suid-Afrika steeds ’n groot liefde en respek het vir hulle land se militêre geskiedenis.

“Die fees is ’n herinnering van ons ryk militêre geskiedenis,” sê hy.

“Ons organisasie poog om, deur ons PPM-museum-uitstalling by die monument en die werk wat ons saam met verskeie veterane-organisasies doen, hierdie geskiedenis te vier.

“Dit is werklik ’n riem onder die hart om te sien dat soveel Suid-Afrikaners ook steeds dié geskiedenis en die mense wat dit help skryf het, onthou en wíl vier.”

Ben North saam met Jason en Roger Munitich van Endsieg.
Foto: Verskaf

Tydens vanjaar se fees kon besoekers hul behoorlik inleef in die geskiedenis met militêre geskiedenisuitstallings en seminare en storievertellings deur verskeie veterane-organisasies.

Die militêre toerusting- en voertuiguitstalling en vliegtuigvertoning was oudergewoonte ook ’n groot hoogtepunt by die fees en oud en jonk kon hul tande behoorlik in die ervaring inslaan.

Een van die jong besoekers by vanjaar se fees, Henri Jansen (7), was baie opgewonde om binne-in die ou voertuie te kon klim en dié indrukwekkende masjiene van nader te bekyk, en al ken hy nie die geskiedenis nie, vertel hy dat hy baie geleer het.

Mila Smith het saam met haar ouers na die vliegtuie kom kyk.

Die fees is vanjaar ook besoek deur politici soos Tshwane se burgemeester, Cilliers Brink, en die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald.

Dit was beslis vanjaar ’n groot hoogtepunt op die Pretoriase kultuurkalender en PPM wil graag die publiek aanmoedig om by die Voortrekkermonument te kom kuier om saam met hulle die ryk militêre geskiedenis van ons land te laat voortleef.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button