Local news

Bejaardes kuier lekker by die Voortrekkermonument

“Geleenthede soos vandag gee mens hoop vir die toekoms; dit wys hoeveel mense nog omgee vir hul medemens, hul kultuur en hul geskiedenis.”

Amper 300 bejaardes het die Voortrekkermonument op Donderdag besoek om ’n lekker kuierdag saam met vriende en familie deur te bring.

Die Tooi Turkoois-dag vir bejaardes is al vir jare ’n groot geleentheid op die monument se kultuurkalender en vanjaar was geen uitsondering nie.

Tooi Turkoois is ’n inisiatief van die Hervormde kerke in SA en poog om bewusmaking te bewerkstellig vir die uitdagings waarmee bejaardes in vandag se wêreld gekonfronteer word.

Die dag is ’n lekker kuiergeleentheid en vanjaar is die bejaardes ook vermaak deur Matt Stern, bekende akteur en sanger, en die Jakaranda-orkes wat die voete laat jeuk het met hul boeremusiek.

Die vieringe is gelei deur Tooi Turkoois se Andries Pretorius. Hy vertel dat dit vir hom en almal wat saamgewerk het om dié dag ’n sukses te maak belangrik is “om ’n verskil te kan maak in die lewens van ons land se bejaardes”.

“Dit is vir ons belangrik om bewustheid te kweek vir die uitdagings waarmee ons land se ouer mense sukkel.

“Dit is wonderlik om te sien hoeveel mense elke jaar hand bysit om ’n verskil te maak in die lewens van ons bejaardes.”

Bejaardes kuier lekker by die Voortrekkermonument
Die Jakaranda orkes onder leiding van Willie Jooste het gesorg vir hope pret met hul Boeremusiek

Frikkie van Wyk van die Hervormde kerk Montana-Oos en direkteur van Ons Tuis het tydens die geleentheid “Die Verkenner-beeld” deur die beeldhouer FJ Kruger, aan die monument oorhandig.

Van Wyk sê dit wys hulle waardering en is ’n simbool van die bejaardes se bydrae in hulle verlede en tot die toekoms van die land.

“Die toekoms is gebou op die fondament van die verlede,” sê Van Wyk.

“Die verkenners het ’n baie belangrike rol gespeel in ons geskiedenis, hulle is die sogenaamde ‘padvinders’ van die verlede.

“Dis die persoon wat moes vooruitgaan om te sien of die paaie veilig is om te trek, of tydens oorloë moes vooruitgaan om te kyk of dit veilig is vir hom en die mense rondom hom,” sê hy.

“Daarom het ons besluit om dié beeld aan die monument te skenk,” sê hy.

Bejaardes kuier lekker by die Voortrekkermonument
Andries Pretorius

Jaco Cilliers, bestuurder van Erfenisbewaring by die monument, het die beeld in ontvangs geneem.

Hy sê hy is trots om saam met Tooi Turkoois en Ons Tuis die weg te kan baan vir ’n jonger generasie.

“Dit is vir ons ontsaglik belangrik om ons jongmense hier te kry, want hulle is ons toekoms.

“As ons vandag ’n kind kan inspireer, weet ons ons het iemand gewen vir die volgende 20 of 30 jaar,” sê hy.

Die Tooi Turkoois-dag is vanjaar aangebied in samewerking met AVBOB, Help Seniors, Ons Tuis, Pretoria FM, Sanlam en die VTM.

“Geleenthede soos vandag gee mens hoop vir die toekoms; dit wys hoeveel mense nog omgee vir hul medemens, hul kultuur en hul geskiedenis,” sluit Cilliers af.

Lees meer: Jong ponies galop by die Voortrekkermonument

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button