AfriForum herstel nege maande-oue slaggat ná gemeenskapsklagtes
“Dit help niks om mekaar heeltyd mismoedig te maak oor dit wat alreeds verkeerd geloop het nie. Ons moedig die gemeenskap aan om eerder daadwerklik ’n deel te word van die verskil wat jy graag wil sien.”
Afriforum Centurion-tak het Maandag die strate ingevaar om slaggate in Clubview, Kloofsig en Eldoraigne te herstel.
Een van die slaggate was ’n nege maande oue gat in Marthastraat, wat net so gelaat is nadat die stad ’n waterlek herstel het.
“Die inwoners is raadop gesmeek en gesoebat, en vertel ons dit is ’n waterlek wat die stadsraad herstel het nege maande gelede en ons het hulle nooit weer gesien nie,” sê Andre de Bruyn, Afriforum se Centurion-voorsitter.
“Na die slaggat in Marthastraat herstel is, het die buurtspan ook nog ’n slaggat se klein krakie gaan herstel, wat ons so jaar terug reggemaak het in Ashwoodrylaan in Clubview.
“Daarna het die buurtspan ook in Kloofsig twee slaggate gaan seël, wat ons vroeër in die jaar herstel het.”

De Bruyn sê dat die Afriforum Centurion-tak agt buurtspanne in die streek het wat volgens hom teen staats- en munisipale verval sal veg.
Die tak het ook agt voltydse werknemers, ’n trekker, swaardiens-bossiekapper, twee industriële grassnyers, kettingsae en ander werkgereedskap wat hulle in die gemeenskap gebruik.
Die organisasie maak staat op vrywillige maandelikse bydraes van lede en skenkings van besighede om die werk te doen.
“Ons het tans materiaal van nagenoeg R7 000 wat ’n inwoner, Kallie Carlsen, van Paratus Suid-Afrika vir ons geborg het, om dankie te se vir die goeie werk, reg voor sy woning in Kloofsig,” sê De Bruyn.
“Ons is baie dankbaar elke dag vir al ons lede en sakevennote se vrywillige maandelikse bydraes en die donasies.
Dit is wat ons met die geld doen. Baie dankie!”

De Bruyn sê dat inwoners wat wil help om ’n impak te maak, munisipale probleme en misdaadvoorvalle by die betrokke owerhede moet aanmeld, waar hulle ’n verwysings- of saaknommer sal ontvang.
Sodra inwoners die verwysings- of saaknommer kry, kan hulle hierdie nommer via die Afriforum Centurion Tak Telegram-lyn indien.
“Die organisasie sal dan kyk wat hulle daaraan kan doen of poog om voorkomende maatreëls in plek te stel.
“Dit help niks om mekaar heeltyd mismoedig te maak oor dit wat alreeds verkeerd geloop het nie.
Ons moedig die gemeenskap aan om eerder daadwerklik deel te word van die verskil wat jy graag wil sien,” sê De Bruyn.

LEES MEER: Geen maklike of vinnige oplossing vir gebarste pype in Moot nie, volgens raad
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
