Effense beterskap na 12 dae in koma vir Springbok-legende
"Ek kan getuig dat die dokters en susters fantasties is in hierdie afdeling. Ek glo dat Derick die beste behandeling en sorg daar kry."
Daar was weer geringe herstel met die longinfeksie waarmee Springbok-legende Derick Hougaard 12 dae gelede in die waakeenheid van die Steve Biko Akademiese Hositaal in Pretoria opgeneem is.
Hy is egter nog in ’n koma en swaar verdoof. Sy longinfeksie is aan die verbeter met infeksietellings wat laer is as vantevore tydens sy siekte.
Die herstel volg op Maandag se tekens van verbetering in sy toestand nadat mediese personeel ’n tweede brongoskopie (lugpypspieël-ondersoek) gedoen het.
Hougaard word nou meer gereeld in sy hospitaalbed omgedraai sodat sy longe aangehelp kan word om in verskilllende posisies asem te haal.
Die nuus is vanoggend aan Rekord meegedeel deur ’n verteenwoordiger van sangeres Nádine se kantoor.
Nádine het hom op 10 Junie bewusteloos gevind en besoek hom sedertdien daagliks. Sy het gister verduidelik Hougaard se linkerlong het vroeër vandeesweek platgeval sowel as die onderste deel van sy regterlong.
“Na Dinsdag se behandeling is dit vir die dokters moontlik om beter vas te stel watter bakterieë nog behandel moet word,” het Nádine in ’n Facebook-status geskryf.
Sy het so op navrae gereageer oor hoekom Hougaard by die Steve Biko Akademiese Hospitaal opgeneem is:
“Dit was die ongelooflike ambulanspersoneel wat die voorstel gemaak het toe ons dringend moes besluit waarheen toe ek hom die Saterdagoggend in ’n koma gevind het.”
Sy is dankbaar hy is daar opgeneem.
“Ek kan getuig dat die dokters en susters fantasties is in hierdie afdeling. Ek glo dat Derick die beste behandeling en sorg daar kry.
“Boonop is hy te krities om enigsins geskuif te word en daarom word daar geen skanderings tans gedoen nie, behalwe X-strale van sy longe. Sy longe is bittersiek. Daarom bid ons konstant vir genesing, vir suurstof en minder koolstofdioksied in sy liggaam.”
Liefling van Loftus-liedjie wyd oor sosiale media gedeel, Bokke bid vir Hougaard
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
