Burgemeester wil Doornpoorters met brandpunte help
"As gevolg van kabeldiefstal in die verlede, het die kabel talle lasplekke wat voorsiening beinvloed."

Die burgemeester, Cilliers Brink, het tydens ’n besoek aan brandpunte in wyk 96 in Doornpoort onderneem om hande te neem met plaaslike buurtwagte en gemeenskapsforums sowel as privaat sekuriteitsmaatskappe om oplossings te vind.
Die oorsigbesoek van die burgemeester het gevolg op versoek van ’n groep inwoners van Doornpoort en wyk 96.
Hulle probeer al meer as ’n jaar oplossings vind vir uitdagings in die buurt soos gebrekkige elektrisiteits- en watervoorsiening, sowel as slaggate wat nie herstel word nie en verwaarloosde bewaringsareas.

Die burgemeester het een van die inwoners, Yolandi Henning, tydens sy besoek te woord gestaan.
Henning sê sy en ’n groep inwoners is deur die burgemeester na ’n verdere vergadering genooi om uitdagings in die wyk te bespreek.
“Ek is beïndruk deur hoe hy ons versoek hanteer,” sê Henning.
Brink was vergesel deur Hannes Coetzee, die burgemeesterkomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning en Gé Breytenbach, wyksraadslid vir wyk 96.
Brink het tydens die besoek gesê onderbrekings wat nie aan beurtkrag toe te skryf is nie, vind plaas as gevolg van swak plekke in ’n elektrisiteitskabel. Die kabel loop deur ’n vlei in die area.
“As gevolg van kabeldiefstal in die verlede, het die kabel talle lasplekke wat voorsiening beïnvloed.”

Brink sê om die kabel as ’n tydelike oplossing te herstel, sal sowat R6-miljoen bestee moet word.
“Die kabeldiefstal van die verlede is reeds doeltreffend aangespreek, maar die inwoners word deur die nalatenskap daarvan benadeel,” sê Brink.
Brink verduidelik dat hy in die “volle gemeenskap-beginsel” glo vir die aanspreek van probleme soos misdaad.
“Die regering kan dit nie alleen doen nie. Die Tshwane metropolisie neem graag hande met gemeenskapspolisiëringsforums (GPFs) om misdaad in gemeenskappe aan te spreek.”
’n Groep inwoners van Doornpoort wat aan ’n 800-lede sterk WhatsApp-forum behoort, het ook dieselfde dag vergader om hul steun aan wyksraadslid Gé Breytenbach toe te sê.

Die leier van die groep, advokaat Ally Murray, het beklemtoon dat Breytenbach veral gedurende misdaadvoorkomingsoperasies sy kant as raadslid in die wyk gebring het.
“Ons gedeelte van Pretoria is die Bosveld van die stad en ons wil as ’n familie die area se verval keer.”
Murray verwys na die werk van ’n paneel van kundiges wat sy saamgeroep het om hul vaardighede aan te wend om probleme rondom onder meer slaggate op te los.

Advokaat Quenten van der Heever meen dat die wyksraadslid van wyk 96, Gé Breytenbach, inwoners goed ondersteun.
“Ek het al laatnag met hom op ’n WhatsApp-groep gekommunikeer en hy het inligting oor kragonderbrekings aan my voorsien.”
Die vergadering van die groep is gelei deur die DA se kiesafdelingleier, Adriana Randall.
“Ons beoog om kommunikasiekanale in wyk 96 te verbeter om aan alle inwoners die geleentheid te gee om doeltreffend oor klagtes te kan kommunikeer.”
Charles Kemp, van die Montana-aftreeoord, het aan die hand gedoen dat die wyk in blokke verdeel word waar sameroepers aangestel word om klagtes oor dienslewering en verval te kommunikeer.
“Dit is ook eers wanneer munisipale verordeninge waarlik toegepas word dat die wyk verval sal kan voorkom en vorentoe kan beweeg.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
