Sanger verloor TikTok-rekening na omstrede video
Sanger Armand Hofmeyr het op die harde manier geleer dat die plasing van dooie diere en gewere in video's op TikTok ontoelaatbaar is.
Die gewilde sanger Armand Hofmeyr se TikTok-rekening is geblok nadat ’n onlangse video ’n massiewe herrie aanlyn ontketen het.
Hofmeyr, bekend vir sy sosiale media-teenwoordigheid, het twee dae gelede ’n boodskap op Facebook geplaas, wat wydverspreide aandag van sy volgelinge en verder getrek het.
In die video, rig Hofmeyr ’n streng waarskuwing aan alle sosiale media gebruikers en waarsku hulle teen beelde of video’s waar gewere of gestorwe diere betrokke is, op TikTok te plaas.
Die video bevat Hofmeyr wat ’n kritieke kwessie rakende TikTok se inhoudriglyne aanspreek. Dit het ’n oorweldigende reaksie gekry en meer as 300 opmerkings van besorgde gebruikers regoor die wêreld versamel en is meer as 200 keer gedeel voor dit verwyder is.
Die omstrede standpunt het debatte oor sosiale media-regulasies en die delikate balans tussen vryheid van uitdrukking en verantwoordelike inhouddeling laat ontvlam.
Die waarskuwing volg nadat Hofmeyr ’n video van homself en vriende op TikTok geplaas het waarin hulle met kamoefleerklere en jaggewere agter op ’n voertuig deur die veld jaag tydens ’n jagekspedisie.

Hofmeyer deel materiaal uit die TikTok-video waar hy met ’n dooie voël verskyn.
Hy het vroeër op Facebook foto’s gedeel van ’n voëljagtog te Roedtan.
Hy verduidelik as aanloop in die Facebook-boodskap oor sy verbanning, hy wou op aandrang van sy bemarkingspan inhoud skep en plaas.
Hy meld in die video: “Ek sien mense plaas ’n video van hul jagtrippietjie en so aan. En ek dog ek is baie slim. Ek wil ook ’n video plaas van my jagtrippietjie.”
Hy verduidelik daarna hoe hy “my lekker jag ingehad het en (gedink het) ek gaan nou my jagvideo laai”.
Hofmeyer moes tot sy teleurstelling ontdek sy volle TikTok-rekening is deur die administrateurs van die platform toegemaak.

Die rede was sy beeldmateriaal het die gemeenskapsreëls van die platform oortree.
Hy waarsku die meer as 94 000 gebruikers van sy musikanteblad om nie soos hy enige video’s op TikTok met gewere en dooie diere as deel van die beeldmateriaal, te plaas nie.
TikTok spel duidelik in sy gemeenskapsreëls uit dat video’s met dooie diere of wapens daarin, gestraf sal word deur die toemaak van profiele.
Die platform verduidelik kunsmatige intelligensie-filters sal deur verskeie tegnologiese metodes, soos skandering en beeldherkenningstegnieke, verseker die platform dra nie sulke verbode beelde nie.
Hofmeyr het dit self ondervind: “Die oomblik wat die AI daai geweer detect, delete hy jou hele account.”
Die platformreëls bepaal ook dat profiele wat deurlopend enige gemeenskapsreëls soos hierdie breek, of wat vir hierdie redes by die platform-administrateurs aangegee word, ook toegemaak sal word.
Hofmeyr het veral sy ontsteltenis te kenne gegee oor al sy harde werk met die skep van inhoud wat nou tot niet gemaak is.
Niks hiervan sal langer deur sy meer as 25 000 aanhangers op TikTok gesien kan word nie.
“Al die harde werk om fans op te bou en footage te skiet en uit te werk en edit en als van daai … als is gone.”
Kommentaar op die Facebook-boodskap deur lesers van sy profiel, was meesal in Hofmeyr se guns en nie veroordelend oor sy jagekspedisie of sy plasing op TikTok nie.

Hofmeyr het nie aangedui of hy appèl gaan aanteken teen die beslissing nie.
Volgens Dries van Coller, president van die Professionele Jagtersvereniging, voel die vereniging sterk dat wanneer sulke materiaal gepubliseer word, dit op ’n respekvolle manier gedoen word.
“As vereniging is ons nie gekant teen die publisering van sulke materiaal nie maar dit moet op ’n respekvolle manier gedoen word en moet verantwoordelikheid wys.”
Van Coller vertel dat die neem van foto’s en beeldmateriaal deel vorm van die vereistes waarop selfs professionele jagters getoets word.
“Ons kyk na maniere om smaakvolle foto’s te neem en hoe om die dier op ’n respekvolle manier te posisioneer.
“Wanneer mens sulke materiaal op sosiale media plaas, vra jouself, hoekom wil ek dit plaas? Wat is die teikenmark wat ek wil bereik?”
Van Coller vertel dat die vereniging wel gekant is teen TikTok se beleid teen sinvolle en smaakvolle materiaal.
“Dit is sensuur [om die materiaal te verwyder]. Dit is die reg van enige persoon om dit wat hy wil plaas op ’n smaakvolle manier te doen. Net omdat een of twee individue nie daarmee saamstem nie beteken nie ons as vereniging vereenselwig ons met sensuur nie, ons keer dit glad nie toe nie.”
Smaragda Louw, direkteur van Ban Animal Trading het die verwydering van die beeldmateriaal verwelkom.
“Ons glo nie TikTok is teen jag nie. Daar is baie ander videos van jagekspedisies op dié vermaaklikheidsplatform.
“Die probleem kom wanneer die jag van onskuldige diere as pret gewys word.”
Die nasionale DBV verwelkom ook TikTok se besluit.
“Die NDBV voel dat inhoud wat dooie diere en diere wat benadeel word wys, van sosiale media platforms verwyder en verbied moet word,” sê Nicole Venter van die NDBV se wildbeskermingseenheid.
“Die NDBV bly gekant teen die uitbeelding van enige optrede wat onverantwoordelike of skadelike gedrag teenoor diere in enige vorm van media uitbeeld.”
Hofmeyr het intussen aan Rekord bevestig hy het volgens TikTok-beleid appèl by die administrateurs van die platform aangeteken om sy blad te herstel.
Dit sal volgens hom sewe dae neem voordat hy terugvoer kry.
Hy vermoed die feit dat hy drie video’s in tien minute as ‘n statusopdatering geplaas het, ook met die sluiting van sy profiel te make kan hê of dat sy profiel dalk deur ‘n beswaarde gebruiker van die platform aangegee is.
Hy het geen waarskuwing oor die sluiting ontvang nie en is nie versoek om die video’s te verwyder nie. Die profiel is net summier gesluit.
– Kliek hier om Hofmeyr se waarskuwing op sy Facebook-blad te sien: https://web.facebook.com/Armand.Hofmeyr/videos/267050669363166
*Neem asseblief kennis dat hierdie artikel gewysig is
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
