EntertainmentLocal news

Botes bring energiek hulde aan ikoniese rockgroep

Vir elke Pink Floyd-fanatikus is die tweede huldeblykvertoning van Mel Botes aan die ikoniese rockgroep 'n ervaring om nie mis te loop nie.

Mel Botes se opvolg huldeblykvertoning vir Crazy Diamond, sy eerste vertoning oor die musiek van die ikoniese progressiewe rock-groep van die sewentigs, Pink Floyd, is ’n multidimensionele kragtoer – vanaf die geklingel van die geldmasjien vir die liedjie “Money”.

Botes bou op sy beste grootskaalvertonings voort in hierdie opvolgvertoning, Pink Floyd Tribute: Dark side of the Moon, wat op 29 en 30 Augustus in die Atterbury-teater gehou is.

Die musiek van die Britse groep wat mettertyd in die sewentigerjare ontstaan het uit die samewerking van die omstrede Roger Waters, David Gilmour, Nick Mason en Richard Wright, kom energiek en met integriteit tot reg.

Mel Botes bou op sy beste vertonings voort in die opvolgvertoning, Pink Floyd Tribute: Dark side of the Moon.

Pink Floyd was bekend vir hul teenstand teen fascisme en ongeregtigheid in vele fasette veral in die rockopera, The Wall.

Hul album The Dark Side of the Moon (1973) word beskou as een van die beste albums in die geskiedenis van rockmusiek. Die album was die tweede grootste verkoper wêreldwyd van alle tye.

Botes en sy saamgestelde orkes van musikante en ’n duo agtergrondsangers se vertolking van liedjies uit die era van hierdie twee albums, sowel as vanaf die albums Wish You Were Here (1975) en Animals (1977), maak herinneringe veral wakker by diegene met hul tienerwortels in die sewentigerjare.

Veral aan wekelange somervakansies terwyl jy ’n volle album daglank lomerig deurluister.

Pink Floyd was die asem in jou longe as jy ietwat van ’n rebel was, veral met die versetlied “Another brick in the wall” van enige skoollui tiener wat ’n identiteit soek.

Botes laat veral met hierdie lied in die vertoning ’n kitaar huil met ’n opstandige nostalgie van weleer.

Sy growwe stem maak kwaad beswaar oor ongeregtighede waaroor Floyd se liedjieskrywers so treffend skryf.

Tog is daar ook die sagte oomblikke wat Botes se plooibare stem die komplekse sy van Pink Floyd se musiek belig.

Die kitaarspeler wat die blues in Pink Floyd se akoesties-gebaseerde rock uitbring: Jonothan Peyper.

Sy weergawe van “Wish You Were Here” wys hoekom die liedjie beskou word as een van die hartseerste liedjies in hul oeuvre.

Die akkuraatheid van sy kitaarspel en verwisseling van kitare op die regte oomblikke, dwing respek af soos gewoonlik. Nie net by sy medespelers nie, maar ook by die waarderende Atterbury-gehoor van rockliefhebbers net so voor of duskant 60: diegene wat dalk nou naweke agteroor rus in hul ietwat verweerde Pink Floyd T-hemde en op ’n Sondagaand Pink Floyd DVD’s op hul grootskerm TVs kyk.

Natuurlik is daar ook die getroue jonger Botes-aanhangers.

Die sjarme van ’n kunstenaar altyd getrou aan homself, oorbrug generasies, watter musiek hy ookal speel.

Botes het ’n oomblik uit die Pink Floyd-sone getree met ’n snit van sy eie: “Welkom in die Wilde Weste”Dit is ’n energieke, maar hartseer rockballade oor ’n skietery in ’n Noord-Wes winkelsentrum “waar die myners jol”.

Die eerste strofes plaas jou vierkantig in die fanatiese Botes-groupiesone en jy ry gewilliglik saam op die wipwaentjierit van harde kitaarriffs.

Toe Botes sy ou vriend Dozi uit die gehoor nader nooi om ’n strofe of twee uit ’n Pink Floyd-refrein te sing, was daar ’n ekstra vonkel aan die Botes-testosteroonsone.

Talle samestellers van orkeste kan maar probeer om ’n beter span musikante bymekaar te kry as Botes met hierdie huldeblykvertoning. Hulle gaan dit moeilik regkry!

Hansie Roodt blaas nuwe lewe in die hardrockgenre met sy tattoeërmerk op sy bo-arm wat bykans net soveel respek soos sy oorbluffende spel inadem.

Veelsydige en kalm soos ’n Psalm, Jonathan Peyper, se flambojante solo’s wys hoekom hy een van ons beste kitaar-virtuose is.

Dis wanneer hy die blueskitaar nadertrek wat sy rou en eerlike vertolkings van Pink Floyd se blues-gebaseerde rocknommers tot sy reg kom.

Die twee klawerbordspelers, Johan Kelber en Stephen Aiken, maak deurlopend die musiekbed onder die biljante kitaarspel op met ’n deurlopende ritme – soms delikaat, meesal oorweldigend ritmies.

Kelber pak ook oortuigend sy tjello uit vir ’n solo en Aiken se saksofoon gee die sonore klank van ’n luilekker winterdag aan talle liedjies.

Die verrassing van die aand is die agtergrondsanger duo van Ninquja Roodt en Elme Churr wat vir ’n oomblik of wat soos Gwen Stefani lyk.

Met haar solowerk bewys Churr hoekom sy ’n passievolle TikTok-bewonderaarsbasis het.

Die formidabele ritmeseksie word deur Rohan Blignaut op tromme en Charles Geer op bas gedra.

Botes sê self met elke produksie word sy orkes groter want hy glo nie aan “less is more” nie, maar wel aan “more is more”.

Hierdie credo hang soos ’n banier bo hierdie huldeblykvertoning.

En dis asof mens na die vertoning net soos die liedjie vir elke fanatiese Pink Floyd-liefhebber wil sing: “How I wish you were here”.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button