Oubaas se honne kry sy dag by opedag
Daar was veel te leer vir diereliefhebbers oor verantwoordelike diere-eienaarskap by die Tshwane metro se Dieregesondheidsdag in Centurion.
Die Tshwane metro se Dieregesondheidsdag oor verantwoordelike diere-eienaarskap by Lyttelton Sport Park op 11 November het diereliefhebbers en uitstallers van oral gelok.
Die hoofbestuurder van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Pretoria, Andrew Kekana, sê die aantal diere deur eienaars versaak en verlore gelaat, is jaarliks besig om toe te neem.

Hy raam die DBV in Pretoria neem sowat 200 honde ’n maand in.
“Ek is bekommerd dat die aantal versaakte diere weer hierdie Kersfees drasties sal styg. Ons wil ’n beroep op inwoners van Tshwane doen om betyds vir hulle diere ’n uitweg en tuiste te vind,” versoek Kekana.
Hy beklemtoon die DBV sien alle diere as “gevoelswesens” wat beteken hulle erken diere kan lyding, vrees, pyn en ongemak as gevoelens ervaar.
Volgens Kekana moet klagtes oor wreedheid teenoor diere ook die dag, datum, tyd sowel as die adres insluit.
’n Duidelike beskrywing van die dier en die voorval is ook nodig.

Die kontakdetails van enige getuies, ’n foto en die klaer se eie adres, naam en telefoonnommer moet ingesluit wees.
“Alle aanmeldings word vertroulik hanteer, maar ’n klaer kan ook anoniem bly,” wys Kekana uit.
Die Amerkaanse Veghondfederasie het ook ’n uitstalling by die Dieregesondheidsdag aangebied.
Woordvoerder Lihandra Rheeder het die gehoor toegespreek oor die omstrede ras.
Amerikaanse veghonde was verlede jaar in die nuus toe ’n paar agtereenvolgende aanvalle van dié honde op mense plaasgevind het.
Rheeder sê die nasionale regering het die Pretoria-hoofkantoor genader om hulle in staat te stel om beter wetgewing rondom die bestuur van die ras daar te stel.


Die federasie het hande met die Department van Landbou, Landelike Hervorming en Landelike Ontwikkeling geneem vir ’n projek hieroor.
Daartydens sal by wyse van DNA-toetse vasgestel word of daar ’n teellyn van honde is met ’n groter geneigdheid tot aggressie teenoor mense.
“Ons vergelyk merkers by die veghonde wat byt en aanval teenoor die honde wat nie tot sulke aksie oorgaan nie. Dit is ’n poging om die honderas se bestuur en teling meer verantwoordelik en wetenskaplik te maak,” verduidelik Rheeder.
Sy erken veghonde wat mense reeds gebyt het, is moeilik rehabiliteerbaar. Sulke honde moet volgens haar eerder uitgesit word.
Vir Cindy Price, bestuurder van die Diere Teen-wreedheid Liga, begin verantwoordelike diere-eienaarskap selfs nog voordat ’n dier as troeteldier aan huis geneem word.
“Troeteldiere moet so gekies word dat hulle by die gesin en die gesin se behoeftes aanpas,” sê Price.
Sy glo ’n paar goue reëls moet gevolg word om ’n troeteldier en eienaars gemaklik met mekaar te laat voel.
Sy beveel aan dat kinders en honde wat bymekaar is, moenie sonder toesig gelos word nie.

Inentings moet op datum gehou word.
“En dis verantwoordelik om kinders te leer om altyd toestemming by ’n hond se eienaar te vra voordat hulle aan die hond raak,” sê Price.
Nie net honde-eienaarskap is bespreek nie.
Die Vereniging vir Diere in Nood werk dikwels ook onder meer met perde wat gekonfiskeer word en het ’n perdeskuiling hiervoor.
Nicole Netek, ’n woordvoerder van die vereniging, sê sowat tien perde word tans deur hulle gehuisves.
Na ’n herstellende inwoontydperk word hulle aan nuwe eienaars vir aanneming aangebied.
Die vereniging het ook ’n perdekenner by die skuiling wat met die diere werk om moontlike trauma te verwerk.
Netek beklemtoon hoe belangrik sterilisasie vir dieregesondheid is.
“Ons maak dit ons doel om die stigma en bygelowe rondom sterilisasie, soos dat sterilisasie ’n hond vet maak, teen te werk. Dikwels ontstaan die vooroordele teen sterilisasie as gevolg van onkunde. Ons voel bewusmaking soos vandag kan hiermee help,” meen Netek.
’n Identiteitskyfie vir ’n dier is ’n belangrike deel van verantwoordelike diere-eienaarskap.

So glo Chantelle Duvenage van ’n mikroskyfie-inplantingsmaatskappy.
Die inplanting van so ’n skyfie moet egter voltooi word deur die identiteitsbesonderhede op ’n verwante sentrale soek-en-vind webwerf aan te bring.
Wanneer ’n troeteldier gevind en geskandeer word, sal die besonderhede van die hond se eienaars aan die skandeerder bekend word.
Met die nodige veiligheidskontroles in plek, kan die dier en eienaar versoen word.
“Om ’n dier te verloor, is hartseer. Of hulle gesteel word of uit ’n erf kom, dit raak harte. Met ’n mikroskyfie het jy ’n kans om hierdie hartseer en kommer te voorkom,” beklemtoon Duvenage.
Sy sê sowat 200 troeteldiereienaars maak in ’n jaar van hul webopsporingsdienste gebruik wanneer troeteldiere spoorloos verdwyn.
Verskeie vertonings is ook op die dag aangebied. Die K9-eenheid van die Tshwane metropolisie het ’n demonstrasie van hul narkotika en plofstof opsporingshonde se vernuf laat doen.
Privaat sekuriteitsfirmas het ook gewys waartoe hul honde in staat is wanneer misdaad bekamp moet word.
Dansskole en sangers sowel as skopboksers, het ook die publiek vermaak.
Die Regio-skool in Centurion het ’n kunsuitstalling van hul leerders se werk oor die band tussen die omgewing, dieregesondheid en gemeenskappe gehou.
– Diere wat voortdurend in ’n buurt ’n las vir andere is, kan gerapporteer word aan die Munisipale Gesondheidsdepartment op 012 358 4656 of per e-pos aan ehonestop@tshwane.go.za
– Wilde of aggressiewe honde in openbare plekke kan aangemeld word by die Wetstoepassingssentrum 012 358 0700 of e-pos by bec@tshwane.go.za.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
