Kersprojek deel vanjaar 20 000 meer pakkies uit
Vanjaar se Community Christmas Project is veel groter as die van 2022 met 20 000 meer pakkies wat uitgedeel gaan word en vier nuwe organisasies wat aansluit om deel van die Kersgetyprojek te word. En daar is boonop 'n nuwe Kersvader om die uitdeelwerk te doen!
Die Community Christmas Project gaan van krag tot krag en beoog om vanjaar 52 000 geskenke en bederfpakkies aan gemeenskappe van Pretoria-Wes, Noord en die Moot-area uit te deel.
Dit is 20 000 meer as verlede jaar. Die geskenkpakkies bevat lekkers, ’n Bybel, koffie, koekies, skryfbehoeftes, en vir bejaardes, ’n ekstra pilhouer.

Vier nuwe organisasies het by die veldtog aangesluit. Die doelwitbedrag vir vanjaar se vyf onderskeie uitreike wat ingesamel moes word, is R750 000.
Die uitreike wat vanjaar ondersteun word, is:
– Community Christmas Project (32 000 pakkies; ses areas),
– Kilnerpark Sekuriteit (7 500 pakkies; vyf areas),
– Wonderboompoort (6 000 pakkies; twee areas),
– Hercules CPF Sektor 4 (500 pakkies, een area) en
– Capital Park se #Santasquad (6 000 pakkies, 1 area).
Vir die leier aan die stuur van samewerkende organisasies, Xander Loubser, was verlede jaar se uitreik reeds ’n hoogtepunt nadat die Covid-19-pandemie vir ’n tyd die projek beperk het.
“Verlede jaar het ons meer as genoeg geld ingesamel om ons doelwitte te bereik en kon ons ander organisasies se hande sterk. Vanjaar loop ons beker weer oor want ons het oortollige fondse nadat al ons uitgawes gedek is. Ons sal weer ’n ander inisiatief kan help,” sê Loubser.
Hy is trots op die Krismis vir Kinders-fondsinsamelingsprojek wat vanjaar ook deur skenkers buite Pretoria en landwyd ondersteun is.
“Meer as net die mense wat pakkies ontvang, baat hierdeur. Kinders leer soos die outjies wat besluit om hul snoepie of sakgeld af te staan vir andere. Bietjie-bietjie maak baie,” glo Loubser.
Loubser meld dat troeteldierpakkies ook deel uitmaak van die projek.

Die ongewone Kerstradisie het ’n interessante oorsprong.
’n Paar jaar gelede was daar besware teen die geloei van die sirenes van die ambulansvoertuie waarmee die pakkies in die buurte afgelaai word, aangesien inwoners gevoel het die geluide maak hul troeteldiere se ore seer.
“Toe besluit ons om ’n negatief in ’n positief om te draai en sedertdien deel ons ook troeteldiersnoepgoed uit,” verduidelik Loubser.
Hy is ekstra opgewonde oor vanjaar se projekte juis omdat soveel organisasies betrek word.
“Ons wil seker maak niemand word agtergelaat nie. Van verlede jaar se organisasies met min fondse, is nou van die begin af by ons ingesluit en ons het saam fondse ingesamel met mediavennoot GROOT FM.
“Ons kon ook betyds uitvind wat hierdie organisasies se behoeftes is en kan dus als onder een sambreel doen,” vertel Loubser.
Die organ

isasies wat saamwerk het elkeen sy eie verspreidingstradisie.
In Kilnerpark word pakkies deur fietsryers afgelewer, tesame met voetgangers wat hulle vergesel.
Meer na Pretoria-Noord se kant word noodvoertuie en ’n liggies-ambulans ingespan om die aflewerings te doen terwyl op die kleinhoewes trekkers aan diens is.
In Wonderboompoort gaan groot opgemaakte trokke die verspreidingswerk doen.
Loubser vertel vanjaar is daar ook ’n versoek vir voertuie wat ’n fees vir die oog is om by van die optogte aan te sluit. Pryse kan selfs met sulke deelname gewen word.
“As jy dink jy het ’n kar wat mooi is om na te kyk, kom ry saam. En as jy wil pakkies pak, sluit by ons aan in November,” nooi Loubser.
Verpakking vind plaas by Geartoria, Mootstraat 490, Hermanstad. Kontak Lala Laubscher op 082 333 8902 om betrokke te raak.
Loubser vertel sy werk as ’n gevorderde ambulans paramedikus bring hom in aanraking met talle mense in vele gemeenskappe.
Die nood waar hy ookal gaan, het hom deur die jare bygebly dat hy een van die stigterslede van die nie-winsgewende organisasie geword het.
“Ek is net ’n ou wat daarvan hou om terug te gee en ek hou van liefdadigheidsprojekte. My gesin is ook ingekoop om die projek in die feesgety eerste te plaas. Wat jy saai, sal jy maai,” sê Loubser oor sy voortgesette pogings om vir behoeftiges tydens die Kersgety te voorsien.
Hy sien uit om volgende jaar op vanjaar se prestasie te verbeter en die projek tot die volgende vlak te neem.
“Ek glo mens moet maar altyd kyk hoe kan jy ’n projek na nog ’n hoogtepunt neem,” benadruk hy.
Een spesifieke aspek van vanjaar se projek laat hom aangedaan.
’n Karwag wat al 27 jaar in die area diens doen by die parkeerterrein in Mayville by Checkers wat sy gesin en 88-jarige ma onderhou, is vanjaar gevra om as Kersvader op te tree.
“Oom Faan se baard het hom laat uitstaan. Hy was aangedaan toe ons hom gevra het en voel hy word nou vir die eerste keer werklik ook as mens raakgesien. En dit is wat die projek vermag. Dit maak mense se oë vir mekaar en vir mekaar se behoeftes oop.”
– Kliek hier om die roetes en datums te sien wat vanjaar gevolg sal word met die uitdeel van pakkies:
https://ccproject.co.za/wp-content/uploads/2023/10/Krismis_Vir_Kinders_2023_Routes.pdf
– Kliek hier om na verlede jaar se projek te kyk:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
