Vrugtekoekbakker van formaat
Elke jaar reis die vrugtekoeke wat in Willie Strauss se huisrestaurant se kombuis gebak word, na verre oorde. Na tien jaar is dit reeds vir talle vrugtekoekliefhebbers 'n gekoesterde tradisie.
Vanjaar pryk sy vrugtekoeke weereens op menige Kerstafel regoor die land, maar dit is nie sommer enige vrugtekoek nie.
Sanger, liedjieskrywer en bekende radiokok van Cullinan, Willie Strauss, se vrugtekoek het ’n besonderse bestanddeel: Die soete verleiding en bederf van kakao.
En wie is nou nie lief vir sjokolade nie!
Hierdie gekoesterde tradisie om ’n Willie Strauss-sjokoladevrugtekoek vir Kersfees te kan sny en aan te bied vir gaste, is nou al tien jaar oud.
Die wel-ter-tale Strauss sê hy het die koeke begin bak toe hy nie werk gehad het nie en vir min konserte bespreek is.
“’n Vriendin het my gevra, ‘hoekom bak jy nie sjokoladevrugtekoeke nie?’ Sy het my haar resep gestuur en ek het my eie resep daaruit ontwikkel om dit eg Suid-Afrikaans te maak,” vertel Struass.

Hy het egte Suid-Afrikaanse bestanddele soos naartjies en makataanstukke ingesluit.
Met sy eerste bestelling van 20 vrugtekoeke was hy erg in sy noppies. Hy was bly sy bemarking het gewerk.
“Ek moes nog die poskantoor gebruik om die koeke te gaan wegstuur.”
Sedertdien het hy nog nie met die gewilde vrugtekoeke se gebak skuins voor Kersfees opgehou nie.
Daar is tog nou ’n verskil: Nou vra lekkerbekke hom wanneer begin hy dan al bak.
“Iets wat uit nood gebore is, het my gered. Ek is nou so bevoorreg en dankbaar dat mense by my bestel. Daar is so baie mense wat wel vir verkope bak. Ek probeer net elke koek my beste ooit te maak,” vertel hy.
Strauss het talle ander produkte op die rakke van sy Sinkstoor-winkel in Cullinan wat hom ook kop bo water laat hou.
Een van hierdie is sy gewilde brandsouse.
“Ook hier het dit met ’n reseplenery begin. ’n Vriendin het my ’n botteltjie sous van haar eie gegee. Ek is nie eintlik erg oor brandkos nie, maar ek weet mense hou daarvan. Ek het toe die souse ontwikkel,” verduidelik Strauss.
“Die twee brandsouse is in trappe van vergelyking branderig met een sous nie te rissierig nie. Die ander sous is ’n chili van ’n ander kleur.
“Hy brand vir jou dat jy hop!” lag Strauss.
Hy is ook bekend vir sy filosofie van dankbaarheid.
Dis al ses jaar dat hy hom beywer om in sy eie lewe in die oomblik dankbaar te wees.
Hy maak op ’n meelewende manier sy hart daagliks hieroor oop op sosiale media.
“Ek het eers gesien hoe mense sulke erkenningsboodskappe in ’n dankie-sê-bottel gooi. Ek het besluit my dankies wil ek die wêreld laat ingaan,” benadruk hy.
Reeds ses jaar lank teken hy nou saans op ’n gereelde basis drie dinge aan waarvoor hy op die spesifieke dag voor dankbaar is.
“Dit is ongelooflik hoe dit my lewe verander het. Nou soek ek elke dag iets om voor dankbaar te wees. Iets soos blatjang op ’n spesiale aanbeiding teen ’n laer prys maak my dankbaar as iemand wat vir andere kook! Dis dalk ’n bietjie wins,” meen hy.

Hy is verheug dat hy hierdie manier van dink en lewe kon aangee.
“Dit is ’n goeie ding om nie enigiets as vanselfsprekend te aanvaar nie. So ’n houding verander jou menswees,” wys hy uit.
Hy is veral dankbaar oor sy redelike onlangse aankomeling by sy keurige tuiste: ’n opregte Franse poedel, Thembi.
“Ons huis het altyd plek vir nog ’n dier gehad, maar ek dink ons het nou ons grens bereik. Tog… Hoe meer diere ek het, hoe gelukkiger is ek!” vertel hy.
Hy glo die onnutsige, maar slim viervoet is die slimste hond ooit.
As radiokok het Strauss vir hom ’n reputasie as ’n betroubare resepmaker gevestig.
Vele van hierdie vernuftige kos-idees word gebore wanneer gaste by sy huisrestaurant by die keurige gedekte tafels aansit.
“Ek dink mense kom ondersteun my omdat ons kwaliteit kos gee. Soms kom hulle net vir ’n eerste en enigste keer, maar keer dikwels terug want ek kook gunstelinge. Boerekos soos bobotie en beesvleisbredie,” verduidelik hy.
Dis veral ook sy varkrol met groen vye wat die restaurant gewild maak.
Strauss is jare al gaande oor Cullinan.
“Dis my holte vir die voet met die ou bome wat die strate so toevou,” droom hy ’n rukkie.
Hy vind die meelewing van Cullinan se inwoners ondersteunend.
“Dis stil en rustig maar as jy hulp nodig het, is jou bure daar vir jou. Hier kry ek steeds die rustige gevoel as ek weg was, dat ek tuisgekom het,” sug Strauss by gedagte aan die sinkhuis in Rossstraat.
Hy reis nog dikwels na ander bestemminigs om op te tree.
Afrikaans bly sy voorkeurtaal.
“Dit is vir my belangrik om goeie lirieke in Afrikaans te kan skryf. Ek hou daarvan om ook stories in my taal te kan vertel. Afrikaans is ’n wonderskone taal vir die doel,” voel Strauss.
Sy resepteboek Daar is ’n engel in my koskas met sy 250 resepte pronk op menige huiskok se rak.
Die boek is ook ’n kosmemoire vol staaltjies.
Strauss werk nou aan ’n tweede resepteboek.
“Maklike resepte met bestanddele wat in jou koskas is,” vertel hy meer hiervan. “En dalk kan dit jou ook net in ’n kosengel verander!”

Willie Strauss se sjokolade-vrugtekoek
Bestanddele:
200g glanskersies in helftes gesny
50ml sjerrie
10ml kakao
10ml kitskoffiepoeier
500ml kookwater
1kg droëvrugte koekmengsel
150g gemengde neute
7ml koeksoda
125g botter
300g suiker
3 groot eiers
360g koekmeel
7ml bakpoeier
1ml sout
5ml gemengde speserye
100ml sjerrie
So maak mens:
1. Sit die oond op 140ºC.
2. Los kakao en koffiepoeier in kookwater op en voeg by koekmengsel, koeksoda en suiker in ’n kastrol. Voeg sjerrie ook by.
3. Verhit en kook vir 10 minute.
4. Verwyder van hitte, voeg botter en kersies tesame met sjerriesous by.
5. Laat mengsel goed afkoel.
6. Smeer jou pan.
7. Voeg eiers by die vrugtemengsel.
8. Sif koekmeelblom, bakpoeier, sout, gemengde speserye saam en voeg dit stadig by vrugtemengsel terwyl dit goed geroer word.
9. Meng neute saam en voeg by.
10. Skep beslag in gesmeerde pan en bak in ’n voorverhitte oond vir ongeveer 2 ure totdat toetspen skoon uitkom.
11. Koel die koek af in die pan en gooi 100ml sjerrie oor die warm koek.
12. Verwyder uit die pan wanneer dit heeltemal afgekoel het.
13. Gooi gereeld sjerrie oor om koek lekker klam te hou.
14. Bewaar in lugdigte houer.
– Kliek hier om na Strauss oor sy kookboek te luister:
https://www.facebook.com/willie.strauss.9/videos/10156960374214047
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
