Local news

Keer diere-einas hierdie vakansietyd deur omsigtig te wees

Vakansietyd kan vinnig 'n kopseer vir diereliefhebbers word indien hulle nie ingestel is om dierebeserings te voorkom nie.

Die vakansie- en feestyd kan maklik ’n seisoen word waartydens diereliefhebbers se rus en vrede onderbreek word wanneer hul gunstelingdiere beserings opdoen.

Om die tyd beseringsvry te maak, het verskeie diereorganisasies wenke en aanbevelings met Rekord gedeel om op emosionele, sielkundige en fisiese vlak hulself en hul diere te beskerm.

Lihandra Reeder van die Amerikaanse Veghondfederasie sê honde moet soos familielede liefgehê word indien beserings voorkom wil word.

“Amerikaanse veghonde is lief vir mense en maak dus nie goeie waghonde nie. Hulle sal wel hul familie oppas indien hulle as deel van die gesin behandel word en binne die huis woon,” verduidelik Rheeder.

Beserings kom dikwels voor wanneer die honde uitkom of selfs gesteel word, waarsku Rheeder.

“Hou veral Amerikaanse veghonde veilig van hondediewe deur toe te sien dat mense nie die hond van die straat kan sien nie,” sê Rheeder.

Die Bond teen Wreedheid teenoor Diere beveel aan dat veiligheid in ag geneem moet word om beserings aan mense sowel as aan diere te beperk.

“Moenie honde terg nie. Moet ook nie jou gesig te naby aan dié van ’n hond bring nie. Nie alle honde hou van drukkies en soentjies nie. Oor die bakterieë in hul mond, is dit gewoon nie gesond om kontak met hul lippe of mond te maak nie,” waarsku Carren Nickloes, die bemarkingsbestuurder.

Sy vra dat kinders geleer moet word om ’n wyfiehond wat nog haar kleintjies soog, alleen te laat.

Kinders moet ook weet hulle moet nie op ’n hond klim of van agter ’n hond bekruip nie.

“Moet ook nie aan ’n hond raak sonder dat hy jou kan sien nie,” maan Nickloes.

Nickloes se kollega, Cindy Price, sê diere en mense doen dikwels beserings op tydens ’n byt-voorval.

“Die beste is om sulke voorvalle te voorkom. Alle honde moet altyd met omsigtigheid genader word. Indien jy gekonfronteer word deur ’n vreemde en aggressiewe hond, hou jou hande teen jou lyf, en stap stadig agteruit met min liggaamsbewegings,” raai sy aan.

Sy wys daarop dat dit ook wys is om in sulke gevalle nabye voorwerpe te gebruik om die hond se aandag af te lei.

“Probeer ook om iets tussen jou en die hond te plaas soos ’n sak,” beveel sy aan.

Sy glo beserings en aanvalle kan voorkom word indien die publiek verstaan hoekom honde byt.

“Honde wat nie opgelei is nie, mag uit instink vinnig-bewegende kleiner diere of woelige klein kinders byt. Mishandelde honde kan aggressief raak indien hulle swaar gestraf word. Indien jy ’n bang hond te vinnig nader, kan hy ook aggressief raak,” waarsku Price.

Andrew Kekana, streeksbestuurder van die Dierebeskermingsvereniging, verduidelik beserings kan by katte voorkom word deur hulle te steriliseer.

So ’n kat sal minder geneig wees om rond te loop en te baklei.

Hy waarsku dat linte en materiaal nie rondom ’n kat se nek gebind moet word nie.

“Die dier kan dalk in ‘n boom vassit en die materiaal mag miskien aan ’n tak vashaak,” maan Kekana.

Hy beveel ook aan dat ’n elastiese invoegsel, soos ’n rek, deel moet wees van ’n kat se halsband.

Die rede is dat hy homself kan bevry indien die halsband vashaak. Op hierdie wyse kan jy nek en ander beserings by ’n kat vermy.

“Katte kan hulself ook seermaak deur hulle koppe hard teen die vloer of oppervlakte te vryf of te stamp. Daar is gewoonlik sulke tye ’n irritasie in die oor. Neem die kat na ’n veearts om te kyk of daar dalk ’n voorwerp, bosluise of miete in sy oor is,” raai hy aan.

’n Woordvoerder van die Paws-rehabilitasiesentrum vir troeteldiere in Centurion, Kunta Masoga, sê wanneer ’n dier wel seergekry het soos in ’n ongeluk en aan die herstel is, veral met spier of beenprobleme, is ’n goeie ondersoek nodig.

So kan vasgestel word hoe die dier ook op die langtermyn behandel moet word.

Vir die rehabilitasie van spiere en bene sluit so ’n ondersoek bewegingsanalise in.

“Die behandeling moet daarop ingestel wees om die spierstelsel sodanig te laat herstel dat die dier weer sy spiere reg kan gebruik, “ sê Masoga.

Sulke behandeling kan ook insluit dat diere van ’n dieregym gebruik kan maak.

“Hier by ons het hulle ’n trapmeulmasjien, terapeutiese balle om mee te speel en balanseerborde. Ons fokus op veral spiersterkte by ons diere-gym. Die oefeninge kan ook verdere toekomstige beserings voorkom.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button