Local news

Geen stywe lyne tans by hengelhemel

Ontstoke hengelaars wil saamstaan om hul hengelhemel by die Bon Accord-dam te red. Hiasinte beslaan 'n groot deel van die wateroppervlak en moet tans teen groot koste met die hand verwyder word.

Die voortbestaan van ’n gewilde eeue-oue oord aan die banke van die Bon Accord-dam in Pretoria Noord en ’n bedreigde visspesie hang in die weegskaal.

Die dam is oortrek van waterhiasinte en daar is ’n tekort aan kontantreserwes om arbeiders te betaal om die dam vry van die waterhiasinte skoon te hou.

Petrolpryse jaag ook die kostes op om die verwyderde hiasinte weg te ry.

Daar is onlangs vyf vragte plante met ’n agt ton trok verwyder.

Tien vragte van dié plante is ook met ’n gewone trok weggery.

Meer as tien werkers per dag teen ‘n stewige koste word tans deur die bestuur van die familieoord ingespan om die dam skoon te maak van waterhiasintplante. Foto: Elize Parker

Die diefstal van kabels en nette, wat die invloei van die plante na die oord se water beheer, dra daartoe by dat die probleem nie doelgerig bekamp kan word nie.

Hierdie stand van sake het ontstoke hengelaars op sosiale media-groepe aan die gons oor hoe om planne te beraam om hul eens visvanghemel te red.

Ook bewaringsgesindes is omgekrap oor die toekoms van ’n bedreigde karpspesie in die dam.

Die bestuurder en eienaar van die Bon Accord Familie-oord, Magda Oosthuizen, sê aan die begin van Desember was die oord nog so volgepak dat hengelaars en hul families by die toegangshek weggewys moes word.

Sedertdien het die waterhiasinte, volgens haar, as gevolg van die hittegolwe en afvalwater uit die toevloei na die dam, geil en onbeperk gegroei.

Magda Oosthuizen, eienaar van die Bon Accord Familieoord, werk onverpoosd met ‘n span van soms 15 werkers per dag om die Bon Accord-dam van waterhiasinte skoon te kry om hengelaars toe te laat om weer in die dam te kan kom visvang. FOTO: Elize Parker

Min besoekers het die afgelope twee weke die oord besoek.

“Ons hekgelde is 10% van wat dit gewoonlik per maand is,” sê Oosthuizen.

Sy benadruk dit kos haar tans meer as R2 000 per dag om arbeiders in diens te neem om met die hand hiasinte uit te haal.

Sy huur al vir drie jaar die gebruik van die dam en oord by die Bon Accord Besproeiingsraad, maar is al langer as 20 jaar betrokke by die bedryf van die oord.

Volgens Oosthuizen behoort die water, sowel as die dam, aan die Besproeiingsraad.

“Ek het die waterhiasinte se groei nog nooit so erg gesien nie. Al wat help is om die plante met die hand te verwyder,” verduidelik sy.

Tans pas sy ook biologiese beheer toe deur van gasheerspesifieke insekte gebruik te maak. Die plante se wortels word deur dié insekte binnegedring en vernietig.

’n Nabygeleë konstruksiemaatskappy, Northern Poles, het al telkens voorlaaiers en kruiptrekkers vir die oord ingespan om die banke van die dam te skraap om van die indringerplante ontslae te raak.

“Ons het nou werklik als probeer,” sê Oosthuizen.

Waterbesoedeling in die strome wat die Bon Accord-dam voed, dra by tot die onbeperkte groei van waterhiasinte en ander plante in die damwater. Foto: Elize Parker
Waterhiasinte bedek tans meer as 87% van die wateroppervlakte van die Bon Accord-dam en verhoed hengelaars om tans vis te kan vang. FOTO: Elize Parker.

Die oord se bestuur span ook gereeld kabels en nette in waar water van bronne af soos strome in die dam invloei.

“Die kabels en nette word egter gesteel. Ons kan dus nie verhoed dat hiasintbesmette water in die dam invloei nie. As ons die punte kon beheer, het ons ook ’n kans om die dam skoon te hou,” beklemtoon sy.

Sy is ook besorg oor trokke wat glo by die nabygeleë strome stop en afvalwater daarin stort.

Hierdie water stroom die dam via die Apiesrivier en sy strome in. Die chemiese en organiese besoedelde water bevorder die groei van die hiasinte.

Die dam se water is vir drie jaar nie met gifstowwe gespuit om die hiasinte se groei in te perk nie.

“Vir sulke bespuiting moet ek toestemming by die Besproeiingsraad kry. Die water word deur besproeiingsboere gebruik en hul produkte kan daardeur geraak word. Ek wil ook die hengelaars gehelp het om in gifstofvrye water te kan hengel.”

Oosthuizen glo sy sal met die huidige hiasintbesmettting op die dam kan klaarspeel indien sy vir twee weke elke dag meer as tien werkers kan inspan.

Tans help kliënte haar om soggens voor hul lyne natmaak, indien enigsins moontlik, hope en hope hiasinte te verwyder.

Hengelaars het ook reeds ’n WhatsApp-groep gestig om pogings te organiseer om die hiasinte te bekamp.

Jonty Steenkamp (6), kleinseun van die eienaar van die Bon Accord Familieoord, Magda Oosthuizen, by die waterhiasinte wat die dam sedert middel November van kant tot wal toegegroei het. FOTO: Elize Parker

Oosthuizen het die pasafgelope naweek onderhandelings aangeknoop met gemeenskapsleiers in die onmiddellike omgewing om hulle van die groeiende probleem in te lig.

“Ek het ook hulp by die stadsraad gevra, maar geen ontvang nie. Hulle sê dit is die verantwoordelikheid van die Bon Accord Besproeiingsraad,” sê sy.

Tshwane-woordvoerder, Selby Bokaba, sê die stadsraad beheer en bestuur nie die Bon Accord-dam nie, aangesien dit in die private besit van die Bon Accord Besproeiingsraad is.

Die Bon Accord-dam word beheer en bestuur deur die Bon Accord Besproeiingsraad.

In antwoord op die vraag of enige afvalwater-invloei van munisipaalbeheerde afwalwateraanlegte bydra tot verhoogde voedingstowwe waarop die hiasinte floreer, sê Bokaba die enigste Tshwane-aanleg wat stroom-op lê, is die Daspoort-afvalwateraanleg.

“Die Daspoort-aanleg is een van die beter bestuurde aanlegte in die stad en ontvang ’n konstante invloei van water wat oorlading voorkom,” verduidelik Bokaba.

Hy beklemtoon hierdie feit maak dit moontlik om die afvalwater se kwaliteit stabiel volgens nakomingsvoorwaardes te hou.

Rassie Erasmus, bestuurder van die Bon Accord Besproeiingsraad, het op navraag ter plaatse van Rekord geweier om enige kommentaar te lewer op die hiasintbesmetting bo en behalwe om te bevestig dat die dam wel in private besit van die Besproeiingsraad is.

– Video: Magda Oosthuizen gesels oor die hiasintbesmetting by Bon Accord-dam in Pretoria Noord.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button