Local news

Kersprojek versprei landswyd liefde en geskenke aan bejaardes

“Ek kan weer ’n kleinkind vir iemand wees en ’n verskil in ’n bejaarde se lewe maak soos wat my eie oumas en oupas in my lewe gemaak het." - Cherice Purcocks, direkteur van die Ouma en Oupa Kersprojek.

Wat in 2017 as ’n klein gebaar van liefde in Vanderbijlpark begin het, is vandag ’n nasionale projek wat duisende bejaardes regoor Suid-Afrika aanraak.

Die Ouma en Oupa Kersprojek, ’n organisasie sonder winsbejag, se hart is eenvoudig: om mense wat hul lewens lank só ’n groot rol in gemeenskappe gespeel het, weer spesiaal te laat voel deur ’n geskenkboks aan hulle te gee en ’n oomblik van omgee te deel.

Die eerste jaar van die projek is 500 geskenkbokse uitgedeel.

Toe het Cherice Purcocks, een van die direkteure, groter gedroom. “Ek en my man het daardie jaar 2 500 geskenke oor drie dorpe ingesamel,” vertel sy. “Van daar af het vrywilligers ingespring en die projek laat groei. Vandag sien ons hoe groot is die verskil wat mens kan maak wanneer jy bloot jou hart oopmaak.”

Die organisasie stuur reeds vroeg in die jaar lyste uit na ouetehuise waarop bejaardes se kerswense een vir een en persoonlik aangedui kan word. Volgens haar is die wenslysies van die bejaardes eenvoudig, maar dit spreek boekdele.

Van basiese toiletware en warm pantoffels tot ’n sakkie lekkers of koekies: hierdie klein items bring groot vreugde.

Elke geskenk word persoonlik oorhandig, met die ontvanger se naam op die geskenk. Party skenkers sluit selfs ’n handgeskrewe briefie in, wat dit nóg meer kosbaar maak.

Die Ouma en Oupa Kersprojek NPC, begin in 2017 deur Cherice Purcocks, bederf jaarliks meer as 3 500 bejaardes landswyd met geskenkbokse. Meer as 20 Pretoria-ouetehuise word betrek. Foto: Verskaf

Die terugvoer is dikwels roerend volgens Purcocks: handgeskrewe bedankings, trane van dankbaarheid en drukkies wat die ware waarde van hierdie projek weerspieël.

Die projek in Pretoria fokus op ’n wye verskeidenheid ouetehuise:
– A Touch of Heaven,
– Agapé,
– Bella Place,
– Blommefonds Groenkloof,
– Blommefonds Bel-Air,
– Blommefonds Danville,
– Blommefonds Unionpark,
– Cappies,
– Ebenhaeser,
– Emily Hobhouse,
– Gem Village,
– Harmonie Oord,
– Huis Cohen,
– Huis Jubilee,
– Kilner Park aftree-oord,
– Lofdal,
– Magnolia Heaven,
– Noordepark,
– SAVF Ruimte,
– SAVF Susan Strijdom, en
– Wag ’n Bietjie.

Hierdie tehuise word beurtelings elke tweede jaar betrek sodat almal die vreugde van die projek kan beleef.

Marelize van Staden koördineer die Pretoria-gebied en verseker dat elke oorhandigingsfunksie teen einde November of begin Desember plaasvind. Die geskenke word dan in ’n feestelike atmosfeer oorhandig, saam met versnaperinge en ’n innige kuier en besoek deur vrywilligers wat ook tieners insluit.

Vir die bejaardes beteken dit nie net ’n geskenk nie, maar die wete dat hulle steeds gesien, waardeer en geliefd is.

Purcocks verduidelik dat die projek ook ’n boodskap aan die jonger generasie oordra.

“Ons wil hê dat kinders moet sien hoe kosbaar ons bejaardes is en watter verskil hulle kan maak deur tyd, liefde en aandag aan hulle te gee.”

Jaar na jaar word die projek en die funksies dus ’n geleentheid waar jonk en oud mekaar ontmoet en van mekaar kan leer.

Die Ouma en Oupa Kersprojek word deur talle individue en besighede ondersteun.

Een van die hoofborge is die koeriermaatskappy wat die pakkies landswyd versprei, The Courier Guy.

Daar word jaarliks deur die maatskappy sowat 250 pakkies landswyd gratis versamel en vervoer. Daarmee word die moontlikheid geskep om skenkers van oral in Suid-Afrika te bereik en te laat bydra, selfs waar daar nie plaaslike aflaaipunte is nie.

Die boodskap wat die Ouma en Oupa Kersprojek NPC jaar na jaar weer wil bevestig is een van hoop deur persoonlike Kerswenslysies van bejaardes te verwesenlik. Foto: verskaf

Besighede dra by deur geskenke saam te stel of borge te voorsien vir die feestelike funksies.

“Ek kan weer ’n kleinkind vir iemand wees en ’n verskil in ’n bejaarde se lewe maak soos wat my eie oumas en oupas in my lewe gemaak het,” sê Purcocks. “Om deel van hierdie projek te wees, bring soveel vreugde, want ons sien hoe ’n eenvoudige bederfboks iemand se hele Kersfees kan verander.”

Almal kan help deur self ’n geskenkboks te pak, finansieel by te dra of items vir die Kersfunksies se verversings te voorsien.

“Uiteindelik gaan dit oor meer as net geskenke. Dit gaan oor die boodskap: jy is belangrik, jy is geliefd, en jy word nie vergeet nie,” glo Purcocks.

– Lees meer op die Facebookblad: OUMA & OUPA Kersprojek NPC of die webblad: https://ouma.oupa.co.za

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button