Stylvolle romantiek wenner se ontwerpstyl
Monique Maritz van Pretoria-oos se onlangse en onverwagse modeldebuut het die suksesvolle mode-ondernemer gewys hoe dit voel om saam met ander ontwerpers vir ‘n skoonheidskompetisie aan die ander kant van die maatband te staan.
’n Ontwerper se lewensverhaal is ’n inspirasie vir elke mens wat in die soektog om drome na te jaag, avontuurlik nuwe geleenthede aangryp.
Monique Maritz se lewe bewys dat wanneer jy in jouself glo en ander met ’n oop hart benader, jy nie net ’n verskil kan maak nie, maar ook ’n pad vir andere kan baan.
In Augustus vanjaar is sy tydens die glansryke Grand Finale van The Next Opulent Model South Africa-funksie by die indrukwekkende SunBet Arena as wenner in die Mev. Opulent-kategorie aangewys.
Hierdie jaar se tema, ‘Prism’ het die unieke individualiteit van elke deelnemer gevier: soos ’n prisma lig in ’n spektrum van kleure breek, het die kompetisie ook die kleurvolheid van Maritz se lewe as ’n voorste trourokontwerper vasgevang.
Vir die donkerkop was deelname aan hierdie kompetisie ’n verrassende en uitdagende nuwe ervaring so skuins na haar dertigjarige ouderdom.
“Ek is nie ’n model nie,” vertel sy met ’n glimlag. “Dit was my eerste kompetisie waaraan ek deelgeneem het. Ek het nooit gedink ek sal so iets doen nie, maar dit was tyd om myself uit te daag.”
Haar deelname was aanvanklik na ’n voorstel om deel te neem van Johan Ungerer, die uitvoerende hoof van Opulent Models of South Africa.

Dié aansporing het ’n hele nuwe wêreld vir haar oopgemaak, nie net op die loopplank nie, maar ook agter die skerms.
Sy vertel hoe die saamkuier met ander deelnemers en die samewerking met die ontwerpershuis van haar rok, Dinma Kod Atelier, ’n groot rol gespeel het in haar sukses.
“Ons het as ontwerpers ’n sterk verbintenis gevorm. Dit was ’n besondere ervaring om saam te werk om nie net die beste uit my voorkoms te haal nie, maar ook om die modehuis se skeppings perfek te kombineer,” sê Maritz. “Vir ’n slag was ek aan die ander kant van die maatband! Ek het die aand soos die mooiste vrou op aarde gevoel.”
Sy glo die beoordeling het nie net oor uiterlike skoonheid gegaan nie, maar ook oor wie ’n opregte hart het.
“Hulle het nie net ’n mooi gesiggie gesoek nie.”
Sy meen hierdie ervaring het haar optrede op die verhoog, loopplank asook van binne verander.
“Die inspirasie om op die loopplank te sprankel, het gekom uit die gesprekke met ander deelnemers en die besef dat jy net jouself moet wees. Mens kan nie deur die lewe gaan en pretensieus wees nie. Ons is almal maar net mense.”
Maritz het aan Hoërskool Garsfontein gematrikuleer en daarna ’n BTech-graad in modeontwerp aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie voltooi.
Mode is nog altyd in haar bloed. Dié passie het haar gelei om in 2019 haar eie handelsmerk, Von Ami Couture, te stig.
Die naam dra ’n besondere betekenis: “Von” beteken hoop en edelheid, ’n simbool van volharding en positiwiteit, terwyl “Ami” ’n verkorting van haar sewejarige dogter se naam, Amorique, is en “geliefde” in Frans beteken.
Haar mode-ateljee lê versteek in ’n ruim tuin in Olympus, Pretoria-oos, waar die rustigheid van die natuurskoon kalmte bring vir haar kreatiewe proses.
Hier staan speelrame so neffe die ontwerpersateljee, ’n daaglikse herinnering aan die balans tussen haar rol as ma en sakevrou.
Haar spierwit studio is ’n rustige klere-oase met swierige ontwerpersrokke in verskillende kleure en materiale, gereed om gekoesterde troudag- en matriekafskeidfunksiedrome waar te maak.
Maritz het ’n besondere liefde vir die skepping van sprokiesagtige trourokke met sterk ontwerplyne wat met sorg ontwerp word om die styl en tema van die bruid se spesiale dag te weerspieël.

Sy glo dit is belangrik om die persoonlike storie van die bruid in elke ontwerp in te sluit.
Maar als in haar eie lewe was nie altyd romanties en vol sprokies nie.
Sy het ook moeilike tye deurgemaak, soos met haar egskeiding en die uitdagings van enkelma-wees. Dit was in dié tye wat sy in geloof nuwe krag gevind het.
“Geloof het my deurgedra en ek het in myself begin glo,” vertel sy.
Haar verhouding met haar vriend, JP Kardos, ’n steunpilaar, het na jare van platoniese vriendskap na ’n liefdevolle romantiese verhouding ontwikkel.
“Hy is my groot liefde, my beste vriend, en hy inspireer my elke dag,” sê sy met ’n warm glimlag.
Die ondersteuning van haar ouers, wat al 37 jaar getroud is, speel ook ’n belangrike rol in haar lewe.
Hulle het haar geleer om altyd na beter te streef en nooit ’n uitdaging te laat vaar nie.
Buiten haar besige ontwerperslewe is sy ook ’n aktiewe en kranige sportvrou.
Sy speel graag aksienetbal en padel, gaan gereeld gym toe, en het mededingend op skool geswem.
Sy hou daarvan om uit haar gemaksones te beweeg, en het ’n toer na Mauritius onderneem waar sy katamaranseil baasgeraak het.
Hierdie avontuurlustigheid dra by tot haar veerkragtigheid en positiewe ingesteldheid.

Sy wil haar besigheid uitbrei en eendag ’n tak van Von Ami Couture in Kaapstad oopmaak.
Haar droom is om bruidspare se troudae onvergeetlik te maak deur rokke te ontwerp wat nie net stylvol is nie, maar ook die hart van hul liefde kan vasvang.
Soos die tema van die kompetisie, glo sy elke vrou se uniekheid laat haar persoonlikheid soos kleure deur ’n prisma skyn.
“Waarvoor jy staan en hoe jy ander hanteer, spreek altyd boekdele van wie jy is.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
