Mootpeiling wys herwinnaars het ‘n doel
’n Peiling toon gemengde gevoelens oor trollie-herwinnaars in die Moot. Inwoners kla oor rommel en verkeer, maar erken hul bydrae tot herwinning, selfwerkskepping en kostebesparing. Die inwoners voel inisiatiewe soos Ithemba Triumph Trolleys bevorder insluiting en waardigheid, terwyl oplossings soos reflektiewe klere en sorteerterreine voorgestel word.
Die Moot Projek het onlangs ’n meningspeiling onder inwoners geloods om vas te stel hoe die gemeenskap die sogenaamde afvalherwinnaars sien, watter uitdagings hulle beleef, en watter oplossings moontlik die kloof kan oorbrug tussen inwoners en herwinnaarsprojekte.
Een so ’n projek is die nuut ingestelde Ithemba Triumph Trolleys-inisiatief.
In Suid-Afrika speel afvalherwinnaars ’n onmisbare rol in die kringloop-ekonomie.
Volgens beskikbare syfers is daar na raming tussen 60 000 en 90 000 mense wat daagliks 10–20km stap met trollies wat sowat 150kg weeg.
Hulle verdien gemiddeld R120 per dag en onderhou boonop drie tot vier afhanklikes elk.
Waar slegs sowat 5% van huishoudings self herwin, dra hierdie werkers by tot sowat 80 tot 90% van alle papier en verpakkingsherwinning.
Hierdie aksies keer dat meer as 1.5 miljoen ton afval, bykans 45% van alle huishoudelike rommel, stortingsterreine bereik.
Maar hoe voel die Moot-inwoners oor sulke herwinning in hul buurte?
“Die Moot se inwoners is meer positief oor die Ithemba-projek as negatief,” verduidelik Hennie Mostert van Die Moot Projek en samesteller en ontleder van die meningspeiling.
Volgens Mostert het tussen 100 en 150 mense op sosiale media platforms en per e-pos of WhatsApp kommentaar gelewer.
Die terugvoer het van jonk en oud, uit verskillende buurte en sosiale omgewings gekom.
Algeheel toon die resultate dat inwoners verdeeld is.
Mostert wys daarop dat daar waardering is vir die harde werk en die selfwerksaamheid van die herwinnaars, maar ook frustrasie oor sekere praktyke en die gevolge daarvan.
Uit die peiling het drie hoofbekommernisse duidelik na vore gekom:
– dat herwinnaars in spruit- en groen areas mors,
– verkeer, veral in spitsure belemmer, en
– dat daar kriminele elemente tussen hulle is wat hul beeld skade aandoen.
“Ek verpes dit as hulle my swartsak leegmaak en die gemors oop en bloot lê,” meen een inwoner wat aan die peiling deelgeneem het.
Ander inwoners het op veiligheidsrisiko’s gewys soos oop vure, gesteelde mangatdeksels en trollies wat verkeer versper.
Tog is daar ook ’n sterk gevoel van waardering.
Baie inwoners besef die waarde van die werk wat die groep verrig en dat hulle direk bydra tot herwinning, werk skep en druk verlig op die stad se rommelverwyderingsdienste.
Sommige inwoners hou selfs hul herwinbare materiaal opsy sodat trolliewerkers dit makliker kan insamel.
“Die voordele weeg swaarder as die nadele, maar hulle het nog opleiding nodig,” het ’n deelnemer aan die peiling die algemene gevoel saamgevat.
Mostert wys daarop dat die peiling verskeie voorstelle ontlok het oor hoe die bestaande probleme hanteer kan word, soos dat klere met weerkaatsende bande of weerkaatsers vir trollies veiligheid in die verkeer kan verbeter.
Hy sê die peiling wys ook dat inwoners aan die hand doen dat daar ’n aangewese terrein moet wees waar trolliewerkers hul materiaal kan sorteer om die storting in spruite te verminder. Daar moet ook samewerking met sekuriteitsmaatskappye wees om risiko’s te beperk.
Vir Danie Marx, direkteur van Ithemba Triumph Trolleys NPO, is die saak persoonlik.
Hy wy hom aan hierdie gemeenskapsprojek toe.
“Wat ’n nederige ervaring is dit vir my om saam en met die herwinnaars te werk!”
“Soos in enige maatskappy kry jy jou meerderheid van personeel wat gemotiveerd is en ’n minderheid wat negatief is.”
Hy beskryf Ithemba se werk as veel meer as net logistiek: “Ons het begin om hierdie herwinnaars liefde te gee, opvoeding, kos en klere en die mees belangrikste van alles: die bediening van die Evangelie.”

Volgens hom is daar reeds sigbare resultate.
“Sien ons vrug op hierdie gesaaide grond? Beslis. En gaan ons meer vrug sien? Ja, verseker. Ongelukkig neem alles tyd. Daar is onder die herwinnaars meer stukkende mense as heel mense in die Moot-area. Ons het ’n goeie begin gehad en ons gaan dit deurvoer tot die einde toe.”
Hy verduidelik dat die organisasie selfs begin het om weekliks die herwinnaars se klere te was, ’n klein daad van waardigheid wat vir hulle groot betekenis inhou.
Die grootste vraag bly: Hoe word die gemeenskap en die herwinnaars nader aan mekaar gebring?
Mostert se antwoord is duidelik: “Daar moet duidelike verwagtinge wees wat die werkers moet volg. iThemba doen wonderlike werk om hierdie werkers te probeer ophef en waardigheid te gee. Dis ’n reusestap in die regte rigting. As die werkers dan die reëls en verwagtinge volg en hande vat met die gemeenskap, moet die gemeenskap hulle ondersteun. Hanteer hulle met respek en help waar mens kan.”
Hy waarsku egter dat daar altyd ’n paar ‘slegte appels’ gaan wees wat die beeld skade aandoen en hulle gedrag hoef nie aanvaar te word nie.
“Die herwinnaars gaan nooit verdwyn nie. Ons as gemeenskap kan kies: óf om hulle almal net af te breek en te verneder en ons probleem bly dieselfde óf om die van hulle wat bereid is om hard te werk, op te hef, op te lei en te bemoedig. Die peiling wys inwoners het plek vir herwinnaars. Opsie twee is tog die beter opsie.”
Die peiling in die Moot het gewys op ’n balans tussen hoop en kommer. Aan die een kant is daar probleme wat aangespreek moet word soos spruitrommel en veiligheid tot die beeld van die groep.
Aan die ander kant is daar duidelike voordele en ’n bereidwilligheid om projekte soos Ithemba te ondersteun.
Mostert glo die uitdaging vir die Moot, en vir Pretoria in die breër sin, is om hierdie energie te kanaliseer.
“As die gemeenskap, die stad en die herwinnaars mekaar met respek kan behandel, kan die klagtes verminder, die voordele vermeerder, en die hele stad baat vind.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
