Local news

Metro maan oor vals nutsrekening bedrogspul

Bedrieërs maak gebruik van ’n valse domein waarin hulle die stad naboots. Amptenare waarsku inwoners om nie met die bedrieërs om te gaan nie maar om die verdagte boodskappe onmiddellik aan te meld.

Inwoners word gewaarsku om waaksaam te wees nadat die Tshwane metro ’n bedrogspul oopgevlek het waarin bedrieërs valse nutsrekeninge versprei om kliënte te bedrieg.

Metrowoordvoerder Lindela Mashigo sê die bedrogspul behels ’n .co.za-domein wat die metro se amptelike platforms soortgelyk naboots, maar nie wettig is nie.

“Ons wil inwoners waarsku om nie met hierdie bedrieërs om te gaan of te reageer op hierdie valse boodskappe nie,” sê hy.

Hy sê alle wettige korrespondensie van nutsrekeninge word deur die SA Poskantoor, die stad se interne SMS-stelsel wat derde partye insluit of ’n amptelike .gov.za e-pos adres gestuur.

“Kliënte kan ook hul state direk deur die e-Tshwane-portaal verkry of instap kliëntedienssentrums besoek.”

Mashigo benadruk dat betalings slegs deur goedgekeurde kanale gemaak moet word.

“Inwoners kan betalings maak via die e-Tshwane-platform of deur geakkrediteerde derdeparty betaalpunte soos die Poskantoor, Pick n Pay, USave, OK, SPAR, Boxer, Shoprite, Checkers, Caltex, BP, EP kiosks en by banke insluitend FNB, Absa, Nedbank, Standard Bank en Investec,” sê hy.

Hy doen ’n beroep op inwoners om waaksaam te wees, om die bronne van enige boodskappe te verifieer en verdagte aktiwiteite aan die Tshwane metro polisiedepartement op 012 358 7095/6 aan te meld.

Mashigo veroordeel die bedrogspul en voeg by dat ondersoeke onderweg is.

“Hierdie kriminele dade is onaanvaarbaar en die stad werk nou saam met die betrokke owerhede om te verseker dat die oortreders aangekla word.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button