Local news

Perdepatrollies help met Moot-misdaadbekamping

’n Perde-eenheid in die Moot help vanaf einde Augustus misdaad bekamp deur sigbare polisiëring. Pieter van Rensburg van Proshield Security beklemtoon opleiding, geskikte perde en samewerking met polisie en metropolisie om gemeenskappe veiliger te maak, veral by moeilike terreinne soos by die spruite.

Die Moot het die afgelope maand ’n innoverende benadering tot misdaadbekamping gesien met die bekendstelling van perdepatrollies in die gebied.

Hierdie projek, wat teen die einde van Augustus van stapel gestuur is in Rietondale, het reeds ’n merkbare impak gemaak deur sigbare polisiëring te versterk en misdaad af te weer.

Aldus Pieter van Rensburg, eienaar van Proshield Security, die sekuriteitsmaatskappy betrokke by die perdepatrollies, is die ontwikkeling van die perde-eenheid ’n spesialisinisiatief wat baie beplanning en voorbereiding geverg het.

“Dit was belangrik om nie net die regte perde te kies nie, maar ook die regte ruiters op te lei,” sê hy. “Ons het geskikte perde geïdentifiseer en die opleiding van ruiters uit eie geledere aangepak. Hierdie ruiters, Zaymian Vosloo en Schandré Jute, is nie net vaardig nie, maar het ook ’n passie vir perde en ’n liefde vir diere wat noodsaaklik is om die eenheid te laat funksioneer.”

Die polisie en die metropolisie het ook al perdepatrollies in stadsbuurte ontplooi, en werk nou hand aan hand met private sekuriteitsdienste soos Pro Shield om die teenwoordigheid van perdepatrollies in die gemeenskap te verhoog.

Die meer sigbare polisiëring in die buurt sorg daarvoor dat misdadigers twee keer dink voordat hulle misdade pleeg.

“Die Moot is deel van ons verantwoordelikheid as sekuriteitsdienste vir talle kliënte,” verduidelik Van Rensburg. “Ons is oortuig daarvan dat die kombinasie van perdepatrollies en operasionele voertuie ’n sterker en meer effektiewe reaksie op misdaad moontlik maak.”

Schandré Jute en Bianka

Die ontwikkeling van die perde-eenheid was nie ’n maklike taak nie.

Dit het die insluiting van spesialis-eenhede vereis, wat eers volledig gevorm moes word voordat patrollies regstreeks op die strate ontplooi kon word.

“Die grootste uitdaging was om nie net die regte perde te kry nie, maar ook om die ruiters self op te lei tot ’n professionele vlak,” sê Van Rensburg.

“Ons het ’n aantal maande lank voorbereiding gedoen, insluitend opleiding vir die ruiters wat reeds in die sekuriteitsbedryf was. Hierdie mense moes nie net vaardig wees met perde nie, maar ook bewapen en opgeleid wees as reaksiebeamptes. Dit beteken hulle kan effektief reageer op ’n noodsituasie.”

Die ruiters is vier maande lank opgelei en is gekies op grond van hul uitstaande reaksievermoëns, asook hul liefde en passie vir perde en diere.

Die perde self is van ’n uitsonderlike ras, met name soos Bianka en Zavion. Beide is Humphries-Fries-ras perde wat van Utrecht en Bethlehem af gekom het.

Perdepatrollies het ’n besondere voordeel bo gewone voertuie of fietsryers, veral in moeiliker terrein.

“Daar is baie plekke in die Moot wat onbegaanbaar is vir motorfietse en bakkies,” verduidelik hy. “Dink byvoorbeeld aan die spruit wat dwarsdeur die Moot vloei. Dit is ’n ideale plek waar perdepatrollies ’n groot verskil kan maak.”

Die perde kan ook maklik kontak maak met die gemeenskap, omdat hulle ’n kalmerende teenwoordigheid bied. Dit help ook om ’n breër veiligheidsgevoel te skep.

Rietondale Home Association is ’n goeie voorbeeld van ’n kliënt in die buurt wat die perdepatrollies steun.

Twee keer ’n maand word ’n perdepatrollie vir hulle rekening ontplooi.

By spesiale geleenthede soos feeste in die buurte word ekstra patrollies ook vir kliënte gereël.

Volgens Van Rensburg is die plan is om hierdie model uit te brei na ander dele van die Moot, sodat perde ’n algemene gesig word in die gebiede se misdaadbekampingstrategie.

“Met hul stalle en versorging maak ons seker die perde se omstandighede is uniek en geskik vir hulle behoeftes,” sê hy.

Die perde word opgelei om verskeie uitdagings te hanteer, soos harde lawaai en ander potensiële gevaarlike situasies.

Hulle leer om afleidings te ignoreer en om hul natuurlike impulse, soos vlugreaksies, te kanaliseer op ’n veilige manier. Afleidings wat as bedreigings gesien kan word, word geïdenitifseer sodat die perde kalm kan bly.

“Die persoon wat die perde afrig en hanteer, het ’n rustige geaardheid en is ervare. Dit is ’n baie belangrike deel van die opleiding,” verduidelik hy.

Zaymian Vosloo en Zavion

Veeartse sal gereeld inspeksies doen en sorg vir hul gesondheid. Elke perd het sy eie mediese fonds.

“Die perde is ongelooflike diere,” sê Van Rensburg met trots. “Ons het groot vertroue in hulle en vaardighede wat hulle bring.”

Dit is ’n gesamentlike poging tussen die gemeenskap, polisie en private sekuriteitsdienste om die Moot ’n veiliger plek te maak.

Die projek is nog in ’n vroeë stadium, maar die impak is reeds duidelik. Perdepatrollies het ’n nuwe dimensie bygedra tot die veiligheid van die Moot.

“Ons is vol hoop dat hierdie perde ’n alledaagse gesig in die gemeenskap sal word, en dat hulle ’n effektiewe rol sal speel in die voorkoming van misdaad.”

“Met die samewerking tussen die gemeenskap, polisie, metropolisie en private sekuriteit, lyk dit asof die Moot op die regte pad is om misdaad met ’n innoverende en effektiewe metode aan te spreek op die rug van ’n perd,” sê Hetta Pieterse, inwoner in die onmidellike omgewing van Rietondale waar die patrollies plaasvind.

Pieterse sê dat die gemeenskap en die Rietondale Huiseienaarsvereniging (RHOARA) deeglik hul huiswerk vooraf gedoen het om seker te maak dat alles reg geskied en dat die regte aanstelling gemaak word.

“Nou is dit heerlik vir ons om die perde te sien en die vriendelike ruiters. Ons woon in ’n ouer omgewing met outydse huise en met die perde is daar ook nie die lawaai van skreeuende bande en sirenes met misdaadbekamping nie. Dit is baie meer landelik en pas veel meer by ons aan. Die perde, ruiters en maatskappy is met die hand uitgekies. Dis ’n puik teenwoordigheid teen misdaad. Ek hou daarvan. Wie wil nou nie ’n held op ’n perd in jou buurt sien nie?”

Arnold van den Bout, voorsitter van RHOARA, het tydens die eerste patrollie van die perde-eenheid, ’n tydjie saam met die eenheid deurgebring.

“Dis ’n knap span. Ons sien veral uit na hoe die eenheid ook met die gemeenskap gaan skakel en sien reeds hoe vriendelik gemeenskapslede met die ruiters en perde is. Ons glo veral in voorheen onbegaanbare gebiede, sal hulle ’n verskil kan maak.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button