Nou gaan kinderhuis braai, swaai en in die gym laat waai
Met die samewerking van alle betrokkenes, van borge tot die inwoners en die personeel, is die Louis Botha-Kinderhuis se nuwe, 'fikser' era een van vooruitgang, hoop en die belofte van ’n sterker kinderhuisgemeenskap.
Die Louis Botha-kinderhuis in die Moot het ’n nuwe era ingelui, waarin fiksheid, gesondheid en die algehele welstand van die kinders en inwoners sentraal staan.
’n Hoek op die terrein het onlangs ’n merkwaardige verandering ondergaan, met die fokus op die bevordering van ’n gesonde leefstyl en die bou van ’n positiewe gemeenskapskultuur.
Hierdie vernuwings word ondersteun deur vrygewige borge en die harde werk van die span, insluitend die talentvolle bestuurspan onder leiding van die uitvoerende beampte van Louis Botha- en Jakaranda-kinderhuis, Charlene Grobler sowel as projekbestuurders Verné Smith en Ferdi Steyn.

Een van die grootste verbeterings wat gemaak is, is die opgradering van die swembad en kleedkamers. Hierdie geriewe is nie net vir die kinders van die kinderhuis nie, maar word ook gedeel met leerders van ’n privaatskool in die omgewing.
Dit is ’n voorbeeld van hoe die Louis Botha-Kinderhuis nie net intern, maar ook in die omliggende gemeenskap ’n positiewe impak wil hê, glo Grobler.
Sy het haar dankbaarheid uitgespreek oor die bydraes van die borge wat hierdie nuwe, fikse era moontlik gemaak het.
“Ons glo dat wanneer iets by kinders weggeneem word, daar iets in die plek daarvan geplaas moet word,” sê Grobler. “Nou het ons vir die kinders nie net ’n speelpark nie, maar ’n swembad, ’n braaiplek, en die gymnasium. Dit was ons droom ’n jaar gelede.”
Die projek is nie net ’n terrein-opgradering nie, maar het die potensiaal om die emosionele en sosiale ontwikkeling van die kinders te bevorder.
“Die byvoegings is geleenthede vir die kinders om nie net hul fisieke vaardighede te verbeter nie, maar ook om hul selfvertroue, samewerkendheid en verantwoordelikheid te bou. Hierdie nuwe fiksheids- en speelruimtes is meer as net ’n plek om te oefen. Dit is ’n plek van groei, saamwees en nuwe moontlikhede,” sê Grobler.
Die opknapping van die braaihoek by die swembad is een van die nuwe projek se ander groot trekpleisters. Huisouers en inwoners, kan nou weer fluks die braaivure aansteek en die braaivurke swaai.
Vir die jonger inwoners is daar ’n nuwe speelarea ingerig, geborg deur Jungle Gym World.
Hierdie speelpark bied die kinders ’n veilige en opwindende ruimte waar hulle aktief kan speel en sosiale vaardighede kan ontwikkel.
Wat fiksheid betref, het die kinderhuis nou vir die eerste keer ’n buitelug-gymnasium.

Die gymnasium is nou van 15:00 tot 18:00 elke dag oop vir die inwoners en personeel.
Waar daar voorheen net vier kinderhuiskinders toegang gehad het via ’n geborgde gym-lidmaatskap, het die nuwe Steynfit Studio nou die potensiaal om ’n veel groter fiksheidsimpak op die fiksheidsgeesdriftiges te maak.
Inwoners kan nou aansoek doen om as lede van die gimnasium te registreer, wat nie net die fisieke gesondheid van die kinders bevorder nie, maar ook hul selfbeeld en motivering om ’n gesonder leefwyse te omhels.
Steyn het oor die belangrikheid van die gymnasium gesê dat die inwoners self oor so ’n moontlikheid op die terrein navraag gedoen het. Daarna het hy en Smith ’n jaar gelede sporttoerusting begin insamel.
“Ons het al hoe meer bewus geword van die belangrikheid van fiksheid vir die kinders, ook omdat dit kan help met die verbetering van die sportprestasies in hul skole.” Emosioneel, het hy verder bygevoeg, is hierdie verbeterings ook van groot waarde.
“Dit kan die kinders motiveer om positiewe veranderinge in hul lewens aan te bring,” glo Steyn.
Smith, projekbestuurder, het ’n persoonlike benadering tot die projek.
“As jy iemand se lewe kan verander, dan het jy jou tyd op aarde goed gespandeer,” glo sy.
Haar passie vir fiksheid is die dryfkrag agter die gymnasium. Dit was haar droom om ’n plek te skep waar die kinders nie net fisies aktief kan wees nie, maar ook emosioneel gesond kan raak.
Smith, wat in die verlede ’n liggaamsbou-beoordelaar was, glo steeds in die waarde van oefening en beweeglikheid, en het in ’n stadium haar eie gymnasium bestuur.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
