Local news

Red ons middestad-erfenis – groepe en politici

Terwyl een beeldgroep geteister word deur aanvalle, en ’n ander monument agter slot en grendel wegkwyn, is daar ’n gemeenskaplike kernprobleem: ‘n gebrek aan politieke dryfkrag om Suid-Afrika se diverse geskiedenis doelbewus te bewaar en te beskerm.

Die toekoms van Pretoria se museums en beelde is in die weegskaal.

Tussen die onophoudelike vandalisering van die Paul Kruger-beeldegroep op Kerkplein en die verwaarlosing van die Women’s Living Heritage Monument in Pretoria se middestad, word daar al hoe meer vrae gevra oor die metro en die regering se werklike verbintenis tot erfenisbewaring.

In Pretoria het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) weer ’n dringende versoek aan die metro gerig om die Paul Kruger-beeldegroep van Kerkplein aan die voet van Paul Kruger se standbeeld na ’n veiliger plek te verskuif.

Dit volg ná nog ’n voorval op 26 September waarin vandale ’n voet van een van die burgerwagte beelde sowel as ’n geweerloop heeltemal afgebreek het.

“Die FAK pleit reeds vir jare vir die verskuiwing van die oorspronklike beeldegroep op Kerkplein,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK. “Ons het in Oktober verlede jaar, ná die soveelste vandaliseringvoorval, ’n dringende skrywe aan die metro hieroor gerig, en nou weer.”

Volgens Langner het die FAK reeds in 2019 volledige 3D-skanderings van die beelde laat maak en bykans 80% van die werk is voltooi om gietvorms vir replikas te vervaardig.

Die beeld van Paul Kruger op Kerkplein is geskandeer voordat ‘n hars-replika twee jaar gelede gemaak is. Die replikabeeld is tans onderweg om op die kultuurgemeenskapdorp te Orania staan gemaak te word. Foto: Verskaf

Tans is die replika van die Paul Kruger-beeld op Kerkplein aan die reis na ’n nuwe tuiste in Orania nadat die trok met die replika op Erfenisdag verlede week soontoe vertrek het en op verskeie dorpe aandoen.

Die plan van die FAK is om die oorspronklike bronsbeelde te verskuif na die Voortrekkermonument en dit op Kerkplein te vervang met replikas van hars soortgelyk aan die van die reisende Kruger-beeld.

“Ons erfenis is enersyds nie onderhandelbaar nie, maar andersyds het ons ’n werkbare oplossing. Ons vra eenvoudig: Laat ons toe om die beeldegroep vir veilige bewaring na die Voortrekkermonument-terrein te verskuif en dié op Kerkplein met hars-replikas te vervang,” sê hy.

Die replika-idee is nie net kostebesparend op die lang termyn nie, maar dit sal ook herstelwerk makliker maak, terwyl die oorspronklike kunswerke vir toekomstige geslagte bewaar word.

Langner voeg by: “Daar is geen ander konstruktiewe antwoord nie”.

Volgens Langner ontbreek die politieke wil om die vandalisering van beelde landwyd te stop.

Jacqui Uys, DA-stadsraadslid van Tshwane, stem saam.

Sy sê: “Die Demokratiese Alliansie veroordeel die onwettige skending van die Paul Kruger-standbeeld in Kerkplein, Pretoria”.

Sy beklemtoon verder: “Suid-Afrika se binnestedelike openbare ruimtes en monumente weerspieël ons komplekse en moeilike geskiedenis, en moet beskerm word vir kulturele en historiese geheue. Ons moet nie probeer om die geskiedenis van enige gemeenskap in Suid-Afrika uit te wis nie”.

Terwyl historiese standbeelde op Kerkplein beskadig word, vergaan ’n ander erfenisterrein in die middestad van Pretoria agter geslote deure.

Die Women’s Living Heritage Monument in die middestad van Pretoria is al drie jaar gelede voltooi maar nog nie oopgestel nie. Foto: Verskaf

Die Women’s Living Heritage Monument, gebou teen die koste van R280-.miljoen om die nalatenskap van Rahima Moosa, Lillian Ngoyi, Helen Joseph en Sophia Williams-De Bruyn te eer, is steeds nie in werking nie.

Die perseel is gesluit vir die publiek, verwaarloos, en geleë op ’n terrein wat blykbaar ‘onder konstruksie’ is.

Leanne De Jager, DA-woordvoerder vir Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning in Gauteng, het die LUR van Onderwys, Sport, Kuns en Kultuur, Matome Chiloane, by die Openbare Beskermer aangemeld weens versuim om die terrein te open.

“[Die] Premier Lesufi-geleide regering se verwaarlosing van hierdie monument, wat bedoel is om vroue se rolle in Suid-Afrika se bevrydingstryd te vereer, is ’n skande en toon duidelik die provinsiale regering se gebrek aan toewyding aan erfenisbewaring,” glo De Jager.

De Jager het die terrein op 25 September besoek en bevind dat die verf op die mure afskilfer en dat die omgewing swak in stand gehou word.

“Dit laat kommer ontstaan oor die toestand binne die gebou waar die standbeelde van Rahima Moosa, Lillian Ngoyi, Helen Joseph en Sophia Williams-De Bruyn ter waarde van miljoene rande gehou word.”

Volgens haar is dit nie net ’n vermorsing van belastingbetalers se geld nie, maar ’n belediging teenoor die vroue wat deur die monument vereer behoort te word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button