Antwoorde oor toe swembad net verskonings, sê raadslid
Die Tjaart van Vuuren-swembad in Villieria bly steeds gesluit ondanks ander Pretoria-swembaddens wat oop is. DA-raadslid Adriana Randall veroordeel swak beplanning en verskaffervertragings wat die opening vertraag, saam met kinders se langverwagte vakansieswem. Die metro noem chloorgas-tekorte as hoofrede.
Die gemeenskap van Villieria is steeds in die duister oor wanneer hul geliefde Tjaart van Vuuren-swembad uiteindelik sal oopmaak.
Terwyl ander munisipale swembaddens in Pretoria, insluitend die gewilde Hillcrest-swembad, reeds hul deure heropen het, staan dié swembad steeds gesluit tot groot teleurstelling van inwoners, veral kinders wat uitgesien het na ’n verfrissende swemslag in die warmer lenteweer.
Volgens DA-raadslidAdriana Randall, sou die Tjaart van Vuuren-swembad op 24 September oopgemaak het, maar tot op hede het dit nog nie gebeur nie.
Sy en DA-raadslid Anru Meyer het onlangs die perseel besoek en net ’n kennisgewing oor die sluiting op die palissadeheining gesien, maar geen duidelike kommunikasie van die metro ontvang oor die rede vir die vertragings nie.
“Die skole sluit nou eersdaags op 3 Oktober, en ek glo soveel kinders het uitgesien daarna,” sê Randall. “Ek is werklik mismoedig dat die swembad steeds toe is. My doel is om dit oop te sien voordat die vakansie verby is. Ons kinders wil die swembad benut en ons moet hulle help.”
Volgens metrowoordvoerder Lindela Mashigo, is die hoofrede vir die sluiting van die swembad die verswakkende watergehalte as gevolg van vertragings in die voorsiening van chloorgas.
“Toestemming is gegee om die swembaddens vanaf 1 September oop te maak, en daar is beraam dat dit twee weke sou neem om die Tjaart van Vuuren-swembad gereed te kry. Ongelukkig kon die aanvanklike verskaffer slegs tot 16 September gas voorsien. ’n Alternatiewe verskaffer is aangestel en sodra daar konsekwente voorsiening van gas is, sal die swembad oopgemaak word,” sê Mashigo.
Randall sê dat sy begrip het vir die uitdagings wat die metro ondervind, maar wys daarop dat die opening van munisipale swembaddens in September nie ’n nuwe aangeleentheid is nie.
“Dis nie ’n nuwe swembad nie. Die tender en verskaffers moes lank reeds in plek gewees het. Dit kom daarop neer dat daar swak beplanning was. Ek hoor die verskoning, maar ek koop dit nie. Dis ’n gebrek aan politieke wil.”
Sy meen ook dat die metro se nalatigheid onaanvaarbaar is, veral aangesien die voorbereiding van swembaddens ’n jaarlikse standaardprosedure is.
“Ek voel jammer vir die kinders wat so uitgesien het. Ons het al ’n paar warm dae gehad en nog steeds is daar geen aanduiding wanneer die swembad sal oopmaak nie. Ek weet nie eens of dit teen middel of einde Oktober sal wees nie.”
Randall meen egter dat die stad se verskonings nie ware meriete het nie.
“Die kinders van Villeria verdien beter. Die stad het bes moontlik hul voete gesleep en dit is onaanvaarbaar.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
