CrimeLocal news

Centurion-onderwyser na klag van verkragting afgedank

Die dissiplinêre verhoor van die geskorste Hoërskool Centurion-onderwyser, aangekla van verkragting, is afgehandel. Sy kontrak is beëindig, toegang tot die skool is verbied, en daar word aanbeveel dat sy naam verwyder word van die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders se register.

Die Gautengse Departement van Onderwys (GDE) het bevestig dat die dissiplinêre verhoor van die beheerliggaam oor die aangestelde opvoeder van Hoërskool Centurion, afgehandel is op 29 September.

Die onderwyser het in die hof verskyn op ’n klag van verkragting en is intussen van sy pligte onthef.

Steve Mabona, departmentele woordvoerder, sê die onderwyser se kontrak met die beheerliggaam is beëindig en as sodanig word hy toegang tot die skool verbied.

“Hierdie besluit is aan die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SACE) meegedeel en daar is aanbeveel dat die opvoeder se naam permanent van die SACE-register verwyder word. Hierdie stap sal die betrokke opvoeder se onderwysakkreditasie herroep, wat indiensneming by enige skool of opvoedkundige instelling in Suid-Afrika in die toekoms verhoed,” verduidelik Mabona.

Die saak spruit uit die verskyning in die hof van die onderwyser verlede week op ’n aanklag van verkragting.

Hy is op borgtog van R3 000 vrygelaat nadat hy van die verkragting van ’n matrikulant aangekla is.

Die onderwyser is dadelik geskors toe die bewerings en aantygings aan die lig gekom het.

Mabona het na die skorsing gesê die onderwysdepartment sien sulke beweerde oortredings van hierdie aard in ’n ernstige lig en sal nie huiwer om op te tree nie.

Die onderwyser het al vir ’n paar jaar volgens Mabona aan die skool klas gegee vir graad 8 tot 12-leerders.

Lumka Mahanjana, Gautengse Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, het aan Rekord bevestig ’n onderwyser in sy dertigs het op ’n verkragtingsklag op 15 September verskyn en die saak is weer op 16 September vir sy borgtogaansoek aangehoor.

“Borgtog van R3 000 is toegestaan. Daar is beweer hy het seksuele omgang met ’n 18-jarige leerder gehad nadat hy haar met lae punte in die vak wat sy by hom neem, gedreig het.”

Die skool se beheerliggaam het navrae van Rekord na die departement verwys.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button