Local news

Pretoria-skole se opvoerings uit boonste rakke

Laerskool Tygerpoort, Laerskool Wierdapark en Hoërskool Garsfontein het vanjaar by die Allegretto-toneelfees bewys dat die toekoms van skole in Pretoria se toneelkultuur in goeie hande is.

Die organiseerders van die Allegretto-toneelfees, nou reeds vir agt jaar deel van die Suid-Afrikaanse skoletoneel- en kultuurlandskap, het weereens met glans en sukses hul jaarprojek afgesluit.

Hierdie fees, georganiseer deur Kobus en sy vennoot Wayne van der Schyff-Smal van Schyff-Smal Studios, het ook met vanjaar se fees bewys hoekom dit so ’n belangrike platform vir skooltoneel in Suid-Afrika is.

Met ’n rekord van 2 677 akteurs en tegniese personeel wat betrokke was by 168 produksies, het die fees oor ses weke heen ’n ware viering van jeugtalent geword.

Na vele optredes en opvoerings landwyd het die projek ’n hoogtepunt bereik met die gesogte gala-aand in die Staatsteater in Pretoria tydens die laaste naweek in September waar ’n gehoor van meer as 490 mense die toekenning kon aanskou.

Pretoria se skole het ’n indrukwekkende aandeel gehad in die prestasies van die fees, veral Laerskool Tygerpoort, Laerskool Wierdapark en Hoërskool Garsfontein.

Hierdie skole het nie net deelgeneem nie, maar ook met hul uiteenlopende en indrukwekkende toneelstukke ’n sterk indruk gemaak op die beoordelaars en die gehoor.

Laerskool Tygerpoort se produksie van Romeo & Juliet met tamatiesous was ’n hoogtepunt van die laerskoolafdeling. Hierdie produksie het die publiek se harte gewen en ook ’n hele paar toekennings ingepalm.

Tygerpoort se spelers het vanjaar by die fees vyf pryse ontvang, waaronder Beste Aktrise vir Zoë Eysele, Beste Regie vir Anél Wood, Beste Beligting wat toegeken is aan Danel Verwey, en Beste Klankoperateur wat Daniël Gilfillan gekry het. Verder is Tommie van Deventer ook genomineer vir Beste Akteur.

Tygerpoort se toneel, in samewerking met die  Werkende Akteursklub (WACK Dramaskool), is geregisseer deur Anel Wood. Jané van Niekerk, die eienaar van WACK Dramaskool, het haar trots oor die leerders se harde werk en toewyding uitgespreek: “Ons is ongelooflik trots op ons leerders wat so presteer en so bly al hulle harde werk word beloon.”

Nog ’n indrukwekkende prestasie van hierdie span van Tygerpoort is hul deelname aan die Pronk Pret-dramakompetisie, waar leerders soos Van Deventer, Reik Oosthuizen, Minke-Miné Neethling en Eysele ook nominasies ontvang het.

Dit is duidelik dat die toneelgroep van Tygerpoort nie net in Pretoria nie, maar nasionaal ook ’n naam maak. Die groep is genooi om aan die ATKV-Tjokkertoneelfinaal deel te neem wat op 10 Oktober in Kaapstad plaasvind, ’n bevestiging van die kwaliteit en passie van hierdie jong akteurs en hul regisseurs.

In die laerskoolafdeling het Laerskool Wierdapark ook uitgestaan met hul produksie Feëvangkomitee, en het die spelers die trofee vir Beste Laerskoolproduksie gewen.

Die atmosfeer en kreatiwiteit van hierdie produksie het die beoordelaars oortuig en wys dat hierdie laerskool ’n sterk kultuur van drama en kunstenaarsondersteuning koester.

Hoërskool Garsfontein het ook met hul hoërskoolproduksie Solstad ’n merkwaardige bydrae gelewer.

Hoewel hulle nie die hoofprys vir die kategorie gewen het nie, was hul betrokkenheid ’n bewys van die uitmuntende kunssinnige rigting wat hierdie skool nastreef.

Garsie Toneel het reeds vanjaar gehore geboei met die besonderse nuutgeskrewe teks van Solstad, en puik uitslae by die Pronkpodium Toneelstreeksfees behaal.

Die algehele wenners van die hoërskoolafdeling was Christelike en Nasionale Sekondêre Meisieskool Oranje met hul produksie VYF, ’n toneelstuk wat ook as Beste Produksie van die fees aangewys is.

Die finale produksies van die fees is op 24 September in die DRAMA-teater van die Suid-Afrikaanse Staatsteater opgevoer voor ’n gehoor van bykans 700 teatergangers.

Die beoordelaarspaneel het bestaan uit ervare teaterkenners soos Phillru van Achterbergh, Bertha le Roux-Wahl, Marissa Claasen, Stephanie Baartman, Botha Enslin, Lihan Pretorius – die hoof uitvoerende beampte van die Naledi Theatre Awards, en Renos Spanoudes.

Hierdie deskundiges het die moeilike taak gehad om die uiteenlopende produksies te beoordeel, en hul samewerking gee die fees ’n prestige wat landwyd erken word.

’n Besonderse oomblik tydens die gala was die uitreiking van die heel eerste lewensbydrae-toekenning, die Lindberg Legende Toekenning, wat aan Linda-Beth van Niekerk toegeken is.

“Haar bydrae tot tienertoneel is van onskatbare waarde en sy dien as ’n inspirasie vir jong akteurs regoor die land,” sê Kobus.

Van die wenproduksies se spanne kry die geleentheid om op die Opera MSC Cruise Ship op te tree in samewerking met die Oppiwater Kunstefees.

Verder kom die produksies ook in aanmerking vir nominasies vir die gesogte Naledi Theatre Awards, wat deure na ’n professionele loopbaan in die toneelwêreld vir talle kan oopmaak.

Laerskool Tygerpoort se toneelspelers is besig om landwyd naam te maak in kompetisies. Foto: Verskaf

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button