Local news

Bruinders groet verhoog en roep herinneringe op

Ná meer as 40 jaar in toneel, TV en film, sluit Simon Bruinders die sirkel af as verhoogakteur wat gemeenskapsverhale eer.

Op 12 Oktober klim Simon Bruinders (77) vir oulaas op die verhoog in Eersterust vir wat hy noem sy “laaste ronde” van verhoogoptredes.

As die gordyne om 15:00 in Club Bel Air in Eersterust lig, sal Bruinders as akteur, regisseur en dramaturg aan die gehoor sy nuwe “sideboard”-storie bring, sy afskeidsdrama, Die Sideboard en die Vuur.

Na meer as vier dekades in die wêreld van toneel, TV en film, sluit hy ’n sirkel wat in die Suid-Kaap begin het.

Hier in Pacaltsdorp buite George, het hy as die jongste van tien kinders met groot drome om toneel te speel, geglo hy sou eendag met ’n cowboyhoed op die silwerskerm te sien wees.

Akteur, dramaturg en skrywer Simon Bruinders. Foto: Facebook/Vriende van NALN

In plaas daarvan, sê hy met ’n lag in sy geoefende akteurstem, “was my eerste filmrol toe ’n dominee op ’n preekstoel in die film Broer Matie in 1985”.

Bruinders se lewensverhaal is een van deursettingsvermoë, identiteit en verantwoordelikheid.

Toe hy as lid van die Pacaltsdorp Mannekoor na Grahamstad (nou Makhanda) vir ’n kooroptrede moes gaan, het hy ook onverwags sy eerste treë na die toneelverhoog gegee.

“Ons leier sê toe ons kort iets in die program om die tyd aan te vul en wil ons nie ’n toneelstuk doen nie? Ons besluit toe dit sal makliker wees as om nog nuwe liedjes te leer.”

En so, in Oktober 1969, het hy vir die eerste keer tydens hierdie optrede van die koor ook ’n toneelrol gespeel in As die nefie kom kuier, geskryf deur bekende dramaturg Gerhard Beukes.

“Ek het toe agtergekom dis werklik makliker om ’n toneelstuk aan te leer as om tien liedjies te leer sing!” glimlag hy.

In 1970 help hy die Ador Dramavereniging in Pacaltsdorp stig, ’n belangrike stap in die ontwikkeling van toneelspelers in die omgewing.

Bruinders se deurbraak kom in 1984 met die film Broer Matie, die eerste keer dat ’n bruin akteur die hoofrol vertolk het in ’n Afrikaanse film. In die film sterf ’n invloedryke Karooboer en hy bepaal in sy testament dat hy deur ’n bruin dominee begrawe word.

Die film Broer Matie van die regisseur Jans Rautenbach was akteur Simon Bruinders se deurbraakdrama. Foto: ISDN

“Voor die film het bruin mense nooit hoofrolle gekry nie,” sê hy ernstig. “Ek moes ’n permit kry om my eie film te gaan sien oor die destydse politieke bedeling.”

Vir hom is een van die mooiste opmerkings wat hy oor een van sy vroeëre rolle in die film Halfmanspunt gekry het, dié van dr. Lennit Max, ’n bekende regsgeleerde en voormalige politikus.

“Hy het my vertel ek het sy lewe verander met my vertolking as ’n prokureur en hom ge‹nspireer om ’n regsgeleerde te word.’”

Vir Bruinders wys dit “die krag van stories. Films en teaterstukke is nie net vermaak nie. Die stories daarin gee leiding, inspirasie en rigting”.

Bruinders was gewild by kykers in TV-reekse soos Arende, Verspeelde Lente en die sepie 7de Laan.

Hy het deur al die eras van Suid-Afrikaanse TV sedert die aanvang daarvan stewige rolle in meer as 20 TV-reekse gekry en ervaar hoe die toneelvorm deur die jare verander het.

“In die vroeë dae van die filmbedryf in Suid-Afrika, het jy met een kamera en ’n kamerawaentjie op spore gaan skiet. Die opstel daarvan het lank geneem want als moes gebalanseer word voor verfilming kon begin,” lag hy. “Nou plant jy kamerastutte in die grond, sit toerusting met klampe aan en jou kamera is in die lug. Jy is reg vir aksie!”

Bruinders merk op die Afrikaanse filmbedryf het vroeër ook gedraai rondom die maak van polities-gelaaide films soos Die Kandidaat of Jannie Tot Siens.

Hy vind vandag se films en reekse is dikwels sonder hierdie meer ernstige visie.

Te midde van die frustrasies van die bedryf, het Bruinders nederig gebly.

In 2009 is hy vir sy werk as akteur, dramaturg en skrywer bekroon met die ATKV se Afrikoon-toekenning asook in 2019 met ’n lewenslange prestasie-toekenning van die South African Film and Television Awards.

“Jy is deel van ’n span,” sê hy. “Die grimeerkunstenaar, die beligtingspan en die regisseur, almal help jou om ’n big deal te wees. Jy moet net altyd self onthou jy is nie op jou eie die spil waarrondom als draai nie.”

Hoewel TV-optredes brood en botter op sy tafel sit en hy ook betrokke was in verskeie korporatiewe poste, is die verhoog sy eerste liefde.

“Op die verhoog leer jy jou drama- en toneelkuns verfyn. Jy kry nie ’n tweede kans nie.”

Die veelsydige Bruinders is ook die skrywer van talle boeke.

’n Jeugroman, Die DJ, het uit sy pen verskyn. Sy roman, Die sideboard, vertel die verhaal van Suid-Kapenaars wat in die Tweede Wêreldoorlog gaan veg het. Die boek is in Engels en Nederlands vertaal en is ook vir die verhoog verwerk.

In hierdie finale optredes doen die veelsydige Bruinders ook self die regie van sy eie stuk Die sideboard en die vuur.

In dié stuk aanskou die karakter Abraham in afgryse hoe sy huis afbrand. Hy slaag daarin om die buffetkas wat hy ná die Tweede Wêreldoorlog vir sy vrou Stella gemaak het, uit die vuur te red. Dié kosbare meubelstuk neem sy plek in hul nuwe woning in as ’n soort huisaltaar. Dertien jaar later word hul bestaan weer bedreig, dié keer deur gedwonge uitsettings ingevolge die Groepsgebiedewet.

Hy het ook met die stuk ’n afskeidsoptrede in George gehou en beplan ook om in ander gemeenskappe op te tree.

Hy glo gemeenskappe moet respek vir hul eie stories hê.

“Ek wil vir mense hulle stories teruggee. Want baie kere ken ons nie meer ons stories nie of ons het dit vergeet en jy het net weer iemand nodig om jou daaraan te herinner. Dit is die belangrike aspek: Ons moet die storie dien.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button